Stories uit Rustenburg, twee spoke en 'n baba... en 'n spook wat tjips eet

Ek het die volgende klompie stories by 'n vrou ontvang wat ek al 'n hele klompie jare ken. Ek sal haar hier net voorstel as Karin om haar identiteit te beskerm.

Karin vertel dat sy 'n ruk lank in Rustenburg Noord gewoon het in haar niggie se huis. Dit is 'n drieslaapkamerhuis en sy het in een van die kamers gewoon. Een dag het hulle van kamers verwissel en een van die slaapkamers het 'n kinderkamer geword. Een middag na werk was sy in die badkamer besig met haar grimering. Die kinderkamer was regoor die badkamer en terwyl sy daar besig was kon sy 'n driewielfietsie in daardie kamer hoor heen en weer beweeg. Dit het haar natuurlik baie bang gemaak en sy het so effe geloer in die rigting van die speelkamer maar sy is toe later direk uit die badkamer na haar slaapkamer waar sy in die bed geklim het. Daar het sy die lig afgesit maar na 'n rukkie 'n klerekas se deur sien oopgaan. Sy staan toe op en maak die kasdeur toe. Dit het 'n tweede keer gebeur dat die deur oopgaan maar sy sluimer toe in. Na 'n rukkie kry sy toe die gevoel dat iets haar vasdruk in die bed. Sy kon glad nie asem inkry nie en ook nie 'n woord uitkry nie. Sy vertel dat sy haar kêrel langs haar stamp en dit was net toe hy skree dat hierdie teenwoordigheid haar gelos het. Hierdie gebeurtenis het homself 'n paar keer afgespeel vir 'n paar aande daarna.

Op 'n stadium het sy in Kroondal gewoon en sy trek toe na haar kêrel. Haar seun was toe twee weke oud. Die huis was baie groot, blykbaar so 5 of 6 slaapkamers met twee stoorkamers, baie groot kelder, twee badkamers en 'n groot hangstoep. Haar kêrel het die betrokke dag ou portrette uit die kelder gaan haal. Een portret het hy in haar kamer gaan hang. Die vensters het nog van die ou soort, ornamentele gordynkappe gehad. Klerekaste was van die instaptipe waar jy kon inloop. Hulle het nie 'n wieg vir die kind gehad nie en hulle het 'n groot tipe stoel kon vind in die kelder. Dit kon hulle omskep in 'n soort wieg vir die baba. Hulle slaap toe die nag en Karin droom. Die betrokke portret wat toe in die kamer gebring was het drie hutte gehad met swart vroue wat loop, een vrou met 'n kind en hout op haar kop. In haar droom sien sy die portret lê op haar bene. 'n Paar dae later word sy wakker en die skildery lê toe inderdaad op haar bene. Van die skrik neem sy toe die skildery en skuif dit op haar kêrel se bene. Daar gaan toe so twee weke verby. Dit was weer in die aand en hulle hoor die baba skree. Hulle kry die kind toe aan die voetenent van die bed op sy gesiggie met die beddegoed oor hom getrek tot by sy arms. Die kêrel staan toe op, lig aan, tel die kleintjie op. Karin is toe later die nag na die badkamer toe en terwyl sy daar besig was kyk sy rond en let toe op dat daar 'n swart kruis getrek is aan die kosyn van die deur van die badkamer. Met verdere ondersoek vind sy dat al die kamers, buiten hulle slaapkamer, soortgelyke kruise op die kosyne het. By 'n latere geleentheid sou sy vind, as die kleintjie in die middae slaap en en sy stoot die waentjie in daardie slaapkamer in sou hy aan die skree raak. Een middag was sy in die kombuis besig en die kêrel se tante kom met die waentjie daar in. Sy vra vir Karin om nie die kind in die slaapkamer te laat rus nie, sy het toe iets gesien daar. Toe sy deur die skrefie loer sien sy 'n ou vrou en 'n jong dogtertjie by die stootwaentjie. Die klein dogtertjie knyp toe glo die kind en dit was dan die rede hoekom hy skree. Karin en haar kêrel het later op koerantuitknipsels afgekom in die kelder waar dit aan die lig gekom het dat 'n vrou en die kind in daardie huis vermoor is.

Sy vertel my van dié nefie aan wie sy baie geheg was. Eendag het haar neef verongeluk. By 'n latere geleentheid gaan kuier sy in Carltonville waar die neef en sy mense gewoon het. Die betrokke aand slaap sy in die oorlede neef se suster se kamer. Daar het 'n klompie pette (oftewel kepse soos sommige dit seker sal noem) gehang aan die gordynkap. Sy word toe die volgende oggend wakker met een van die pette wat langs haar lê op die kopkussing. Sy het haar niggie geroep en gevra hoe die pet op haar kopkussing beland het aangesien dit behoorlik gehang het aan die gordynkap. Die niggie vertel haar dat dit ook met haar gebeur het dat sy sou wakker word met die pet half oor haar gesig en dat dit net haar gestorwe broer is wat wou hallo sê. Die ander neef vertel vir Karin van 'n ding wat gebeur het toe hy een aand in sy kamer rekenaarspeletjies gespeel het. Hy was toe omtrent 18 of 19 en het af en toe gepeusel aan 'n pakkie aartappelskyfies wat op die bed agter hom gelê het. Hy hoor later dat dit al klink of iemand agter hom met die pakkie skyfies besig is. Draai hy hom om sien hy egter niks eienaardigs nie. Na 'n verloop van tyd voel hy toe 'n warm wind op sy nek. Dit het toe weer 'n rukkie later gebeur dat hy hierdie wind of asem in sy nek gevoel het. Na nog 'n rukkie se gespeel het hy hom weer omgedraai na die bed toe en kon toe duidelik sien hoe die pakkie skyfies gekreukel word, al of iemand daaruit eet. Hierdie gesig was vir hom eens te veel en hy storm toe uit die kamer in sy ouers se bed in van skrik. Hy kon net tot die slotsom kom dat dit die gees van sy oorlede broer moes wees wat kom kuier het in sy kamer.

Terug na die Wit Hand