ROSALIE VAN EEDEN SE STORIES

Ek het onlangs 'n epos van Rosalie van Eeden ontvang en sy het sommer 'n paar mooi stories vir my aangestuur. Lekker lees !

Die eerste het in Mei 1981 gebeur in die dorpie Weenen in die Natalse Middellande. My kêrel op daardie stadium (later my man) se pa is oorlede en ons is vanaf Potch na die begrafnis. Die huis was tjok en blok vol mense wat van heinde en verre af gekom het. Ek sou met die PUK-koor oorsee gaan toer het die Julie-vakansie en Danie sou grens toe vertrek het voordat ek sou terugkom. Ons wou dus graag bietjie tyd alleen deurgebring het. ‘n Jongman van oorkant die pad het die dag voor die begrafnis ook in my toekomstige skoonma se huis rondgehang en ‘n oorlas van homself by my gemaak. Ek was baie geïrriteerd. Karel het egter aangebied dat Danie in sy huis kon slaap die aand. Dit was ‘n yslike ou huis oorkant die pad en hy het dit alleen gehuur. Dit was die perfekte plek om bietjie alleen te wees. Karel was ‘n polisieman en het nagskof gehad. Ons is toe na sy huis toe. Met die inloopslag het ek erg ongemaklik gevoel en aangeneem dat ek seker nie in die man se huis wou wees wat my so gepla het nie. Hy het gestort en is toe uiteindelik weg. Danie en ek is na die hoofslaapkamer met die lekker groot dubbelbed. Ons het die ganglig aangelos maar die kamerlig afgeskakel. Ons het toe begin “gesels”. Met die “gesels” saam, het ek al hoe meer ongemaklik geraak en vir Danie gesê dat ons nie alleen in die huis is nie. Hy het geantwoord dat hy self die deure gesluit het en niemand kon inkom nie. Saam met die ongemak het ek ‘n onheilspellende gevoel begin kry, dat wie ook al in die huis saam met ons was, ons nie daar wou hê nie. Toe hoor ons voetstappe die gang afkom na die kamer toe en in die kamer in. Niks het egter die ganglig wat in die kamer ingeskyn het, gebreek nie. Die volgende oomblik was ‘n daar ‘n beklemmende gewig op my bors en iets het my begin wurg. Ek het geklink soos iemand wat ‘n asma-aanval het. Danie het my gegryp en gesleep-dra uit die huis uit terug na sy ma se huis toe. Toe ons die gang inkom, kon ek my gesig in die groot spieël sien - dit was spierwit. Ek het na sy ma toe gegaan en my kop in haar skoot gedruk. Sy het eers gedog Danie het iets aan my gedoen en wou weet wat gebeur het. Hy het haar vertel dat iets my in die huis oorkant die pad aangeval het. Sy het gevra wat ons daar gemaak het want dit was algemeen bekend in die omgewing dat dit erg daar spook. Tant Bella, ‘n baie onaangename, bitter vrou het daar gewoon en haar meubels is in die huis gelos na haar dood. Haar kinders het die huis uitgehuur. Ons was in haar kamer, op haar bed!

My tweede storie het oor ‘n tydperk van ‘n paar maande afgespeel, terwyl ons in die huis gebly het. My man het uit die Weermag bedank en ons is na die Natalse Suidkus toe, waar hy die plaasbestuurder van ‘n hoenderplaas sou wees. Toe ek die eerste keer die huis sien waarin ons sou moes bly, het my hart gesink. Dit was ‘n sinkmuurhuis - grys geverf. Toe ons instap, het ek weer ongemaklik gevoel en aangeneem dit was omdat die huis so lelik van buite was. Binne was daar asbesmure - roomkleurig geverf - en volvloermatte. Heeltemal mooi genoeg. Die gevoel het egter nie gewyk nie. Ons het Julie 1989 daar ingetrek en ‘n vriendin met haar twee opgeskote dogters het my gehelp, aangesien ek 7 maande swanger was met my tweede kind. Ek het vreeslik gesukkel om in my oudste dogter se kamer in te gaan. Dit was asof daar ‘n teenwoordigheid was. Daar was ook ‘n baie vreemde doodsreuk in die kamer. In die aand kon ek glad nie daarin gaan nie. Die babakamer was in die kamer oorkant myne. My vriendin het gesê sy voel ongemaklik in die huis. Hulle het my help uitpak en elke aand klokslag om drie-uur was die hele huis se mense wakker. Hulle is later terug Potch toe. Na my baba se geboorte het ek gevind dat ek gesukkel het om die gangetjie oor te steek na die babakamer toe om die baba te voed. Sy het dus saans in ons kamer begin slaap. Tydens die dag was daar nie ‘n probleem nie. Ek kon egter steeds met moeite in die dag in my oudste se kamer kom. Saans was onmoontlik. Sy het dus ook in ons kamer geslaap op ‘n matrassie. My man het een aand vir my gesê dat hy ‘n mannetjie op ons hangkas sien wat vir ons kyk. As hy direk kyk, is die mannetjie weg, maar uit die hoek van sy oog, kan hy hom sien. Alhoewel niks met ons gebeur het nie, was die tyd wat ons daar gebly het, ‘n baie stresvolle een. My man het in Februarie 1990 bedank en ek was dankbaar toe ons kon trek. In ons vorige huis het die kinders gepraat van ons deur onder in die gang wat oop en toegaan en voetstappe wat die gang afkom. Hulle het gedink dis hulle pa wat tuis is, maar dan was daar niks. Ekself het dit egter net eenkeer ervaar en dit was na my man dood is. Ek het egter nooit bedreig gevoel in daardie huis nie, so as daar ‘n teenwoordigheid was, was hy ons goedgesind.

My skoonma het my ook ‘n paar stories vertel: Die eerste het gebeur op die pad tussen Weenen en Colenso. Daar is ‘n stuk pad - die “Drie-bruggiepad” gedoop deur plaaslike mense, op hierdie pad. Dit is ‘n reguit stuk pad vanaf een bruggie tot by ‘n draai so ‘n kilometer verder. Allestesame is daar drie bruggies op hierdie pad. Wat die pad so uniek maak, is daar daar al talle onverklaarbare ongelukke op die stuk pad was, net hierdie stuk. Motors en bakkies het omgeslaan en talle mense is al dood. My oorlede skoonpa (van wie ek in die eerste storie vertel het) was vir jare in die hospitaal op Ladysmith en my skoonma het elke aand vanaf Weenen gery om vir hom te gaan kuier. Een aand toe sy terugkom, op hierdie stuk pad, sien sy ‘n rooi gloed langs die pad. Sy het gery en wonder wie vuurmaak hierdie tyd van die aand. Sy was ‘n baie nuuskierige vrou en ook ‘n vanhelsdingen. Sy het omgedraai om te gaan kyk. Toe sy daar kom sien sy niemand nie, maar toe sy terugdraai, volg die rooi gloed haar. Sy kon nie ‘n mens sien nie. Dit het haar gevolg tot die draai op die einde van die Drie-bruggiepad. Dit het van toe af elke aand gebeur tot my skoonpa se dood en sy nie meer hospitaal toe is nie.

Haar tweede storie speel af in die poskantoor op Weenen. Sy het saam met ‘n man gewerk by die poskantoor. Hy was die posmeester en sy was op die sentrale. Die man is later oorlede en die sentrale het outomaties geword. Die kamer waar die sentrale was, is gesluit en nie weer oopgemaak nie. My skoonma het gesê sy kon gereeld in die aande die ou posmeester hoor skarrel in die ou sentralekamer waar hy goed regskuif en werk.

Die ou skoolgebou op Mandini het glo ook spoke. ‘n Paar mense het dit ervaar, maar nooit ek nie. Daar is glo ‘n teenwoordigheid op die laerskooldeel se trappe, veral aan die verste kant. Daar is ook ‘n teenwoordigheid in die gang wat na die Junior primêre klasse lei. Daar is iets wat in die administrasieblok se gang dwaal en deure oop- en toemaak. Die onderhoof en sekretaresse het albei al hulle boeglam geskrik as hulle laat werk. Iets dwaal in die enkelkwartiere van die jong personeel want hulle kla oor onverwagse koue en iets wat deure oop- en toemaak in die nag. Soos ek sê, met “sleep-overs” het ek al na al daardie plekke gegaan, maar self nooit iets gevoel nie.

Terug na die Wit Hand