SEWE STORIES VAN BELINDA

My ma is in 1917 in Port Elizabeth gebore. Op vyf jarige ouderdom het sy by haar ouma in Uitenhage gaan woon. Haar ouma was toe kort getroud met 'n man van sowat 55 jaar oud. Die man (uit Engeland) was al sy jare 'n oujongkêrel, en blykbaar het my ma se ouma hom half in die huwelik ingeboellie. My ma en haar stief oupa het baie gou in mekaar se harte ingekruip. Hy het haar sy dogter genoem en sy het hom "pa" genoem. Toe my ma nege jaar oud was is haar ouma oorlede en haar stief oupa het verder na haar omgesien totdat sy op die ouderdom van 21 getroud is. Weens alles wat haar pa vir haar gedoen het en sy liefde vir haar, het hulle besluit om in haar pa se huis aan te bly en hom tot sy dood versorg.

My ouers se eerste kind was 'n seuntjie. Twee jaar daarna is haar pa in die hospitaal opgeneem. Die dokter het verduidelik dat haar pa nog net 'n paar weke het om te lewe. My ma se vriendin het haar daagliks vergesel na die hospitaal om haar pa te besoek. Een dag het my ma eers 'n draai by haar dokter gemaak en dié het bevestig dat my ma sowat ses weke swanger was. Haar vriendin het belowe om nie daaroor te praat terwyl hulle by haar pa kuier het nie. My ma en haar vriendin het die hele besoek tyd aan beide kant van die bed gestaan en glad nie 'n woord gepraat van haar swangerskap. Haar pa het voor hom uitgestaar en skielik gesê "siestog, my dogter gaan 'n dogtertjie hê, maar die baba gaan nie lank lewe nie". My ma se vriendin het met haar wysvinger voor haar mond vir my ma beduie om niks te sê nie. Op pad huis toe het haar vriendin vir my ma probeer kalmeer deur te sê dat haar pa op sy sterfbed lê en nie weet wat hy sê nie. Maande daarna is 'n seuntjie gebore en haar vriendin sê toe "Sien jy, ek was reg. Jy het nie nodig gehad om al hierdie maande jou te bekommer nie". Twee maande later is die seuntjie skielik oorlede en in dieselfde graf as die oupa begrawe.

My pa is oorlog toe en met sy terugkeer het hulle op 'n plaas gaan woon. My ma het weer swanger geraak en omtrent twee weke voor die geboorte het 'n vriendin gesê hulle moet by haar kom bly in Uitenhage, om naby die hospitaal te wees. Daardie jare het die huise dubbele glasdeure in die sitkamer gehad wat na buite toe oopmaak. Die vriendin was so gaaf gewees om haar sitkamer meubels uit die vertrek te verwyder en te vervang met haar eie dubbel bed, sodat my ouers die gerief van die oop dubbel deure kon geniet. Dit was middel Desember en baie warm! Een aand, terwyl my pa slaap, was die dubbel deure wawyd oop. Vanwaar my ma gelê het, kon sy die klein hekkie sien. Die maan het helder geskyn. Toe sien sy 'n man in die deur staan. Aan sy kleredrag kon sy sien dit was haar pa (stief oupa). Toe hy gelewe het, het hy altyd 'n horlosie aan sy hemp vasgemaak. Dié aand was die horlosie ook aan sy hemp. My ma sê dat die man na haar gekyk het, aan sy horlosie gevat, daarna gekyk en weer na haar gekyk, met 'n glimlag op sy gesig. Hy het toe omgedraai en weggeloop. My ma het my pa wakker gemaak en haastig vertel wat gebeur het. My pa is blitsvinnig buite toe maar daar was niemand buite nie. 'n Paar dae later het my ma geboorte gegee aan haar eerste dogter. Sy het toe besef dat haar pa haar besoek het, net om te sê dat hy 'n fout begaan het met die vorige geboorte van haar seuntjie.

Storie nommer 2 : My ouers het teruggekeer van die plaas na die huis wat hulle met haar pa gedeel het. Ek wil net graag noem dat my ouers nooit snaakse dinge aangevang het, soos glasie-glasie, ens. Hulle het in die Here geglo, maar in daardie stadium was nie een van hulle wedergebore.

Die huis se voordeur was naby aan die straat. Kuier mense het in die dag altyd by die agterdeur geklop, maar na donker het hulle altyd aan die voordeur geklop.

Een aand, sowat 20:30 het my ouers gaan lê. Hulle was skaars in die bed toe iemand aan die agterdeur klop. Dit was baie vreemd en my pa het besluit om nie dadelik oop te maak nie, hy sou eers vra wie dit was. Hy het by die kamer uitgestap in die gang. Skielik het "iemand" hom by sy elmboë opgetel en by die gang afgedra. My pa se voete was omtrent 10 sentimeter bo die vloer. Sy mond was wawyd oop soos hy geskree het, maar daar het geen geluid uitgekom nie. Hy is deur die eetkamer gedra en by die ingang na die kombuis het dit vir hom gevoel asof daar 'n muur voor hom was en die "iemand" gesukkel het om hom verder te dra. My pa is net daar neergesit en hy het teruggeloop kamer toe. Die sweet het hom behoorlik afgetap en my ma sê die bed het vir 'n uur geruk terwyl my pa tot verhaal gekom het.

Storie nommer 3 : In dieselfde huis in Uitenhage, het my ma eendag in die kombuis gestaan en kook. My pa was in die kombuis besig om met my ma te praat. Die kombuis deur is in twee gedeeltes. Die onderste gedeelte was toe en die boonste gedeelte was oop. Buite die deur was daar drie hoë trappe.

Daar was 'n klop aan die deur en albei my ouers het omgedraai om te sien wie dit was. Daar het 'n swart man gestaan en gevra om met "Selina" te praat. My ouers het gesê hulle ken nie vir "Selina" nie. Toe loop die man. My ma het onmiddelik besef dat daar iets vreemd gebeur het. Die man moes baie lank gewees het want hy het nie op die trappe gestaan nie, en tog het hy nie nodig gehad om op te kyk nie. Sy lengte was gelyk aan my ouers s'n!

My ma het dit vinnig aan my pa verduidelik en hy het dadelik na buite gehardloop om weer die man te sien. Dit het hom nie meer as 15 sekondes geneem om by die hek te kom. Die man kon onmoontlik nie by die hek al uitgeloop het nie. Maar hy het spoorloos verdwyn.

Storie nommer 4 : My ouers het in 1950 na 'n kleinhoewe op Kameeldrif, noord van Pretoria verhuis. My pa se ouers het daar gewoon en al my pa se broers en susters, hulle wederhelfde en kinders het tydelik huisvesting daar gekry. Op daardie stadium was werk nie baie volop nie en my oupa was die enigste een wat werk gehad het.

Een dag, laatmiddag het almal in een kamer gesit en gesels. Die dames was besig of met strykwerk, of met naaldwerk. My oupa sou enige oomblik huis toe kom. Dit was al effens donker buite. Skielik het almal 'n geluid buite die venster gehoor. Dit het geklink of iemand met 'n byl op sement kap. My pa en sy een broer het gaan ondersoek instel, maar kon niks of niemand sien nie. Hulle was net terug in die huis toe dieselfde geluid weer gehoor kon word. My pa en sy broer was te bang om 'n tweede keer uit te gaan. Sy broer het met sy rug na die venster nog gestaan en skerts dat hy bang was. Toe klop iemand so hard aan die venster agter hom dat hy gebokspring het tot by die ander kant van die vertrek. My oupa het binne minute sy opwagting gemaak. Almal het gelyktydig aan hom verduidelik watter vreemde dinge net 'n ruk tevore gebeur het. My oom trek toe die gordyn oop en wou aan die venster klop om vir sy pa 'n idee te gee hoe erg die klop was. Nog voor hy kon klop, toe val die hele venster uit.

'n Paar aande daarna was almal in hulle onderskeie kamers. Die badkamer was reg langs my ouers se kamer. My ma was in die bed en my pa het gaan bad. Die badkamer deur was toe. My ma het gesien hoe die handvatsel van die badkamer afbeweeg. My pa roep vanuit die badkamer dat hy weet my ma met hom die gek skeer, maar toe sy hom meëdeel dat sy in die bed lê, het hy soos 'n weerligstraal uit die bad geklim.

Storie nommer 5 : Voorbode My ouers het in 1951 Vanderbijlpark toe verhuis waar my pa by Yskor begin werk het. Hulle het baie goeie vriende geword met Oom en Tannie Fraser, die afgetrede polisieman en sy vrou wat oorkant ons gewoon het. My pa se pa was toe al oorlede en sy ma was sieklik. Sy het toe by ons kom woon. Ons was baie kinders en het na 'n groter huis getrek sodat my ouma haar eie kamer kon hê. My ouers het vir oom en tannie Fraser belowe dat hulle so gou moontlik sal kom kuier. Maar my ouma het so sieklik geword dat my ouers vir 9 maande by niemand gaan kuier het nie. My ouma is toe oorlede en ons het weer teruggetrek na die ou buurt om nader aan die skole te wees. My pa het daardie eerste week nagskof gewerk. Ons het 2 of 3 dae in die huis gebly toe my ma een oggend, omtrent 2:00 wakker word. Sy het onmiddelik aangevoel dat sy nie alleen in die kamer was nie. Baie stadig, sonder om 'n lig aan te skakel, het sy haar kop gedraai. In die donker het daar 'n groot vrou langs die deur gestaan. Sy het na die vrou gestaar in die hoop dat sy haar sou herken. My ma het haar hand stadig na die bedlampie beweeg en aangeskakel. Die vrou het verdwyn maar toe my ma die lig afskakel, toe staan die vrou weer daar. Die volgende oggend is my ouers dorp toe en het hulle oom Fraser raakgeloop. Hy vertel hulle dat sy vrou Marie ernstige hart probleme het en dat dit glad nie goed gaan nie. My ouers het weereens belowe om te kuier. Dieselfde aand het my ma 'n boek gelees tot 1:00, toe lê sy en wag. Die "gees" het weer haar verskyning gemaak. My ma het, soos die vorige aand, gestaar na die vrou om haar te probeer herken. Die derde aand was daar geen teken van die vrou.

Die volgende oggend bring my niggie vir my ma 'n brief waarin my tannie geskryf het "Ek weet nie of jy al gehoor het, maar Marie Fraser is gisteroggend skielik aan haar hart oorlede".

Storie nommer 6 : In 1971 het my suster en haar man hulle eerste huis gekoop en het dadelik aan die werk gespring om die huis vir hulle gerieflik te maak. Die sit en eetkamers was te klein, toe verwyder my swaer die muur tussenin. Hy het ook 'n "konsertina deur" aangebring tussen die sitkamer en die gang.

Die bure was gaaf maar een van die bure se hond het gedurig oor die muur gespring en die vullisdrom omgestamp op soek na kos.

Hulle eersteling is einde 1971 gebore. In Junie 1972 het my swaer een oggend 5:30 gaan werk. Die gewoonte was dat my suster die deur sou sluit en teruggaan bed toe totdat die huishulp om 7:00 opdaag. Dan sou my suster gaan stort en met haar dag begin.

Dié oggend het my suster weer aan die slaap geraak. Omtrent 6:15 het die geluid van 'n vullisdrom haar wakker gemaak. Sy het gemeen dit is weer die bure se hond wat oor die muur gespring het. Sy het besluit om nie tot 7:00 te wag nie, en wou dadelik gaan stort. Sy is kombuis toe om die deur solank vir die huishulp oop te sluit. In die kombuis het die inhoud van die vullis maantjie ooral gelê. Die vullisdrom buite was nie omgestamp nie. Sy het die gemors op die vloer gelos en gemeen die huishulp sou binnekort opdaag en dié so skoonmaak. Toe sy omdraai en terug in die gang wou afloop, het "iets of iemand" die konsertina deur so hard geskop dat sy gedink het die deur sal breek. Die deur was baie sterk en van hoë kwaliteit gemaak en dit was amper onmoontlik om die deur te skop sodat hy so skud.

My suster het na haar baba se kamer gevlug en by die gang afgekyk om te sien wat "spring" uit die sitkamer. Na 'n minuut of twee het dit stil geraak. My pa het onverwags daar opgedaag en my suster het in haar slaapklere saam met haar baba die huis verlaat en by my ouerhuis gaan koffie drink. Sy het omtrent 9:00 teruggekeer.

Daardie aand het hulle a paar van die bure ondervra. Hulle het toe verneem dat 'n vrou haar in die sitkamer om die lewe gebring het. Toe my jonger broer 18 jaar oud was het hy daar oornag. Die komberse was van hom afgeruk, iemand het net bokant sy kop asemgehaal en die gordyne was oopgetrek. Hy was op die punt om by my suster en haar man te gaan inkruip, maar het in sy verbeelding gesien hoe my swaer hom uit hulle bed skop.

Storie nommer 7 : My broer is in 1970 getroud en het saam met sy vrou op die tweede verdieping van 'n woonstel gebly.

Hulle eersteling is in Maart 1971 gebore. In Oktober het die kleinding begin sit en hulle het na 'n huis toe getrek. Die bure aan die linker kant was gaaf. Daardie jare was daar nie juis mure tussen die huise nie, maar eerder draad gespan. Dit was baie warm en hulle kon nie verstaan hoekom hulle huis partykeer skielik so koud geword het nie. Die "koue gevoel" het net sowat 'n half uur geduur, dan het dit weer warm geword.

Hulle het twee klein katjies van vriende gekry maar wou net een hê. My broer het een katjie vir die bure gegee. "n Paar dae daarna wou die buurman my broer fisies aanval. Hy het my broer gaan wys waar iemand die kat se kop deur die draad gesteek het. Dit kat was natuurlik dood. Die buurman het vermoed dat dit my broer se werk was.

'n 15 jarige dogter wat twee huise daarvandaan gewoon het, het by hulle gereeld kom kuier en met hulle baba gespeel. Hulle het haar gevra of sy een aand die baba sou oppas sodat hulle kon gaan dans. Sy en 'n vriendin het toe gekom om die baba op te pas. My broer het belowe dat hy en sy vrou teen 11:00 sou terug by die huis wees. Toe hulle daar aankom, was die eetgerei, potte, ens in skerwe op die kombuis vloer. Al die deure en vensters was oop, al die ligte aan en die baba aan die slaap in haar wiegie. Die meisies was spoorloos. My broer is na die meisie se ouerhuis om te verneem wat gebeur het. Haar ouers het hom hulle erf belet en hom geblameer dat hy hulle "bang gemaak het".

'n Paar weke daarna het my skoonsus by haar ma vir 'n paar dae gaan kuier. My broer was alleen by die huis toe sy sigaretaansteker voor sy oë voete gekry het. Die huis het bitter koud (middle somer!) geword vir sowat 'n halfuur. Toe weet hy : dit is tyd om te trek.

Hulle het na Durban to verhuis waar hulle nou nog bly. My jonger broer het jare daarna by vriende verneem dat daardie einste huis sowel as die huis langsaan afgebreek is. Grafte is gevind en die oorblyfsels op 'n ander plek begrawe. 'n Dominee het oor die grond gebid. 'n Man het toe altwee die erwe teen 'n appel en ei gekoop. Hy het 'n dubbel verdieping huis daarop gebou en daar is vandag geen teken van spoke nie.

Terug na die Wit Hand