WILMA ALLEN SE STORIES

Ek is Wilma en is woonagtig in Alberton meeste van my lewe. Ek is gebore in 1960. My pa het ons huis gekoop in 1953 en ek het daar gebly tot en met ek besluit het dit is tyd om die nes te verlaat.

Die “ou” gedeelte van Alberton was volgens my pa, jare voordat hy daar gekoop het, 'n ashoop. Die het hy verneem van mense wat lank voor hom laat bou het in dieselfde area. My pa het ou geroeste blikke en gemors in die agtererf uitgespit die tyd toe hy in die vroeë 1960’s laat aanbou het.

Dit was ongeveer in 1973 wat ons kuiermense gekry het wat een betrokke aand oorgeslaap het. Wel, slaapplek vir almal was 'n probeem en ek en my jonger suster het op die divan bank in die eetkamer geslaap. Die kombuis het aan die eetkamer gegrens. Die divan het nog die onderste bed gehad wat uittrek onder die bank en dan opgeslaan word om n dubbel bed te maak. Ek moet sê, ons huis se nuwe aangeboude gedeelte was maar nooit heeltemal reg nie. Mens het baie die gevoel gekry dat iemand agter jou loop in die lang gang, waaruit 2 slaapkamers geloop het, en dan die toilet op die punt.

Die betrokke aand het ek wakker geword van die ligteskakelaar (wat daardie tyd op en af gedruk moes word om die ligte aan of af te skakel) dit het geklink of die ligteskakelaar links en regs geruk word. Daarna het 'n persoon van die kombuis geloop tot voor die bank waarop ek gelê het, dan weer terug kombuis toe. Heen en weer maar al wat ek kon hoor, is lang broekspype wat teen mekaar geskuif het. Daar was niks te siene nie. Daar was niemand in die vertrekke behalwe ek en my suster wat geslaap het nie. Ek het daardie aand gevoel of ek in die bed wegsink van vrees elke keer as die persoon na my bed geloop het.

Dan is daar die geval waar my pa van die kerk af gekom het een Sondagoggend. Dit het ongeveer in 1985 gebeur. Dit het hard gereën. Nadat hy die motor parkeer het en in die huis gegaan het, het hy in die sitkamer gaan sit en tv gekyk. My pa sê dat hy gesien het 'n motor stop in die inrit en 'n man het uitgeklim en aangestap na die agterdeur.

My pa het die deur oopgemaak en die man het gesê dat hy net wil kom uitvind of Lientjie oraait is. Hy en sy vrou het haar die vorige aand opgetel in die reen. Sy het duimgegooi en was op pad na haar ouma toe. Hy het haar by ons huis afgelaai. Die man wou saam met haar stap, maar sy het gesê sy sal regkom en dat haar ouma vir haar wag. Haar ouma bly agter in die erf . Sy het 'n rugsak op haar rug gehad en was blond. Blykbaar n baie mooi meisie.

Hy sê dat sy agter die huis verdwyn het, en nie weer te voorskyn gekom het nie. Hy het blykbaar eers by die bure se hek gestop, toe sê sy nee, dit is die huis langsaan (die hekke is basies teen mekaar) hy het toe agteruit gery en in ons inrit gestop. My pa het vir hom gaan wys dat daar geen woonstel of kamer in die agterplaas is nie, waar iemand kan bly nie en dat hy by die verkeerde huis moet wees. Die man was baie beslis en het bevestig dat dit die regte huis is en dat hy die straatnaam en nommer gevat het die vorige aand wat hulle vir Lientjie daar afgelaai het.

Daar het nog nooit so n persoon gebly nie. My pa het hom gevra of hy seker is dat hy nie spook n lift gee het nie, hy het dit nie waardeer nie en het sy besigheids kaartjie gelos indien hulle van Lientjie hoor, moet hulle hom asb. laat weet.

My kleiner suster het, toe sy baie klein was, met 'n denkbeeldige Liena pop en tee gespeel. Toe ek nog klein was het daar altyd 'n ou tannie verby die huis geloop. Mense het gesê dat haar kleindogter vermoor is jare terug ook in die omgewing. My ouma het ook jare gelede 'n meisie in die agterplaas gesien speel in 'n groen rok en aangeneem dat dit my ouer suster was wat op die stadium nie by die huis was nie. Miskien is dit dieselfde meisie?

Terug na die Wit Hand