Die spookhuis in Robertson

Mariska van Staden het vir my geskryf en vertel van al haar ervaringe in 'n huis in Robertson. Baie dankie Mariska !

Toe ek 15 jaar oud was, het ons verhuis vanuit Kaapstad na Robertson – vir die wat nog nie self in Robertson was nie, dit is ‘n klein plattelandse dorpie. Ek wou nooit daarheen trek nie omdat ek so lief was vir die Kaap en die besige lewe. Die huis waar ons ingetrek het was een van die dorp se oudste huise (ek het ook later uitgevind dit was ‘n pastoor se huis, en dat die waenhuis langs die huis gebruik was as ‘n kerk.

In die huis is daar ‘n lang gang wat lei na die badkamer. Daar is geen vensters in die gang nie, slegs een wat deurkyk na die kombuis. Vandat ons in die huis ingetrek het, het ek altyd vir my ma gesê dat iets nie reg voel in die badkamer nie - so asof iets jou pla en jy onrustig voel.

Een oggend vroeg het ek opgestaan en reg gemaak vir skool. Dit was nog donker en ek was besig om vir my koffie te maak in die kombuis. Ek sien toe iemand verby die venster loop oppad badkamer toe – amper so lig blou/grys kleur en neem toe aan dis my ma. Ek staan toe ‘n rukkie stil om te luister en hoor toe niks. Nodeloos om te sê – ek het my vinnig uit die voete gemaak!

In die aand laat het ek gewoonlik my boeke ingepak en het ek heeltyd ‘n lig sien flits. Een oggend vroeg skrik ek wakker van iets wat na my toe aangehardloop kom, dit het geklink soos ‘n dier – iets met 4 pote. Ek het my rug op dit gedraai en die geluid het opgehou. Ek het weer aan die slap geraak en later wakker geskrik – dit het gevoel of iets my vasdruk. Die volgende aand het ek my bybel langs my bed (oop) neergesit.

Ek het gewoonlik laat in die aand, na ek my boeke ingepak het, gaan stort. Wanneer ek in die gang af gestap het, het dit gevoel asof iemand agter my geloop het. Ek vertel toe vir een van my kêrels (hy het gereeld by my kom kuier en ek het geweet dat hy al vantevore geeste/spoke gesien het.) Hy vra toe vir my of dit in die gang is waar ek dit voel, wat vir my vreemd was want ek het nog nooit vir hom vertel dat ek iets in die huis gevoel het nie. Hy vertel toe vir my dat hy ook een aand in die gang af gestap het, en ‘n man op die gangkas sien sit het met swart vere oor sy lyf en wit kraal ogies, wat net so vir hom sit en staar. Hy het weg gekyk en weer terug na waar die man gesit het en weg was die man.

My ouers het ‘n gewoonte daarvan gemaak om na die middag ‘n bietjie op die stoep te sit en ‘n koffietjie te geniet. Een middag terwyl hulle so sit en gesels, hoor hulle die hek oopgaan en toemaak (ons het nog een van daardie groot hekke wat so raas as jy dit oopmaak), toe hulle opkyk, is daar niemand by die hek nie. ‘n Paar keer daarna het dit weer gebeur. Ek het later gehoor dat ‘n omie in ons huis oorlede is.

Wanneer ek in die studeerkamer gesit het by die rekenaar, besig om my take te doen, het ek ‘n swart figuur, in die vorm van ‘n kat verby my sien hardloop, ek het my ma daarvan vertel en sy het gesê dat sy al dieselfde ervaar het.

Of die ander goed wat in die huis gebeur het dalk bose geeste is wat uitgedryf was uit mense weet ek nie, maar ek het ons huis met olie ingeseën, die bloed van Jesus daaroor gepleit en daarna het daar nog nie weer sulke voorvalle gebeur nie.

Ek het ook gehoor dat my Pa eendag in ons huis in die Kaap gestaan het en iets in die vorm van ‘n man wat deurskynend wit is, sien stap vanuit my kamer na die badkamer en daarna nog nie weer so iets ervaar nie.

Ek is nou 20 jaar oud en het vrede gemaak met spoke en geeste, dat hulle net mense is wat nie rus kan kry nie.

Terug na die Wit Hand