DIE SPOOK IN DIE HOSPITAAL SE HYSBAK

Morné van der Merwe het weer vir my 'n nuwe storie gestuur en hierdie maal gaan dit oor 'n spookdokter. Of die glasie-glasie-spelery die verskyning van die spookdokter aangehelp het sal ek nie kan sê nie, dat dit wel 'n tipe portaal oopmaak na die geesteswêreld is vir my byna 'n voldonge feit.

My ma het haar opleiding as hospitaalverpleegster in Ontdekkershospitaal gedoen. Die twee hoofsusters was lief om in die kantoor glasie-glasie te speel. My ma het haar nie met sulke dinge opgehou nie en het uit vrees vir wat kan gebeur, die kantoor vermy en eerder in die saal gesit. "Dit is asof ek vandag nog die glasies oor die tafel kan hoor" vertel my ma altyd.

Een betrokke nag toe die hoofsusters weer besig is met hulle bose spel, sterf daar ‘n pasiënt in die saal en die dokter moet geroep word om die pasiënt dood te verklaar. Die hysbak ry tot op die vloer, die deur gaan oop en twee dokters klim uit. Verbaas stap my ma na die onbekende dokter toe en stel haar voor net om met afgryse te sien dat hy voor haar oë verdwyn. Die "lewende" dokter het toe vertel dat hy gesien het dat ‘n ander dokter saam met hom in die hysbak geklim het, maar nie ‘n woord gespreek het nie.

Terug na die Wit Hand