SY OUPA SE DOOD/DIE FOTO IN DIE BOEKRAK

Dit was vir my lekker om onlangs weer twee eposse te kon ontvang en dit nogal van iemand wat ook al in die verlede 'n bydrae gelewer het, nl. Morné van der Merwe. Hierdie maal praat hy oor voorbodes, iets wat seker baie meer by mense gebeur as wat ons graag sou wou erken.

My volgende storie is oor my oupa se dood. Ek kan dit opsom as ‘n spookstorie gemeng met ‘n voorbode. My oupa, Barend Strijdom, was ‘n myner op Luipardsvleimyn in Krugersdorp. Die mense wat hom geken het, het vertel dat hy ‘n baie sagmoedige mens was. Vol liefde en deernis vir ander. Die aand voor sy dood het my ouma, wat self nie ‘n ligsinnige mens is nie, gedroom van ‘n swart motor. Iemand het uit die motor geklim en na haar toe gekom. Net daar het die droom gestop.

Die volgende oggend het my ouma my oupa gesmeek om nie werk toe te gaan nie. My oupa het haar egter geantwoord dat ‘n mens se paadjie vir jou uitgestip is en jy moet hom loop. My ouma kan nie bestuur nie en sy het daardie dag ‘n vriendin gevra om haar dorp toe te vat. Sy het haar inkopies gedoen en vir haar vriendin in die motor gewag. ‘n Vreemde man het na haar toe gekom en vir haar gesê: “dame, ek is so jammer om te sê dat jy slegte nuus gaan hoor.” Hoogs ontsteld is my ouma huis toe.

Presies om drie-uur daardie middag het my ouma my oupa se fiets by die tuinhekkie gehoor. Toe sy gaan kyk was daar egter niks nie. Op daardie oomblik het ‘n glasbeeldjie van die kaggelrak geval. Die kop van die glasbeeltjie het heeltemal gebreek. Teen daardie tyd was my ouma heeltemal opgewerk. Om vieruur het sy my ma, wat toe maar twee was, in die stootwaentjie gesit en begin stap myn toe om te hoor hoekom my oupa nog nie by die huis is nie. Aan die bopunt van die straat het ‘n swart motor haar voorgekeer. Sy het die bestuurder van die motor geken en hy het haar gevra om asseblief terug te gaan huis toe. Hy het agter haar aangery. Tuis het hulle haar meegedeel dat my oupa om drie-uur daardie middag in ‘n rotsstorting dood is. ‘n Klip het op sy kop geval. Dit was presies die tyd wat my ouma die fiets gehoor het en die beeltjie van die kaggelrak geval het.

Ek het self nie aan voorbodes geglo nie. Ek het dit altyd as bog afgemaak en my nie daaraan gesteur nie. Tot my ma vir my die volgende twee stories vertel het. Toe my ma ‘n tiener was het sy eendag op die mat gesit en speel met haar suster wat toe ‘n baba was. In my ouma-hulle se huis was daar ‘n boekrak met twee deurtjies aan. My ma het vir die boekrak gesit en kyk toe een van die deurtjies oopgaan en ‘n foto van my ma se tannie uitval. Heel verbaas het my ma opgestaan en die foto gaan terugsit. Die volgende oggend het die nuus gekom dat die tannie, wie se foto uitgeval het, oorlede is.

Nie lank daarna nie het my ma een nag in die bed gelê toe sy haar ouma gehoor het wat haar drie maal geroep het. Haar ouma het op Porterville gewoon. My ma het omgedraai en verder geslaap. Die volgende oggend het hulle ook die nuus gekry dat my ma se ouma ook oorlede is. Dit het my weer laat dink dat voorbodes wel bestaan en luister ek deesdae met nuwe respek daarna.

Terug na die Wit Hand