DIE SPOOK IN DIE SKOOLSAAL

Ek het die volgende storie van Morné van der Merwe, 'n student by Stellenbosch, ontvang. Hy is 'n blinde persoon daar uit Worcester se wêreld en hy vertel vir ons van 'n spook wat teruggekom het om sy geliefde orrel te bespeel...

Ek is van geboorte af blind. Gevolglik was ek verbonde aan die Pionierskool (Skool vir blindes) in Worcester. Ons skoolsaal se naam is die Biesenbachsaal. Ons het ‘n pragtige pyporrel in die saal wat oor ‘n honderd jaar oud is. Die eerste musiekonderwyser by die skool, mnr. Greenwood het dit gekoop in 1908.

Ek het matriek voltooi en Stellenbosch toe gekom om musiek te studier met my hoofvak, orrel.

Omdat my ma nog op Worcester bly, kom ek gereeld daar. Ek het toestemming by die skool gekry om op die orrel in die saal te mag oefen tydens die vakansies. Als het goed gegaan tot een middag. Ek het gesit en oefen toe ek skielik die gevoel kry dat iemand vir my kyk en dan raak dit skielik weer weg. Ek begin dan maar weer oefen maar kort voor lank is die gevoel terug. Tot op ‘n punt dat iets op die orrelbank langs my kom sit. Dit was die vinnigste wat ek uit daardie plek is. Dit het meer as eenkeer gebeur. Ek het niemand vertel nie. Tot vandag. Dis my verjaarsdag en een van my oud-musiekonderwyseres het my gebel om my geluk te wens. Ek het vanaand vir die eerste keer vir iemand vertel van my ervaring. Sy vertel my toe die volgende.

Sy het ook op daardie spesifieke orrel geoefen vir haar eind-eksamen – daar in die sewentiger jare. (Sy is nie blind nie. Sy het bloot op die orrel gespeel omdat dit so ‘n wonderlike orrel is.) Sy het dieselfde ervaring gehad dat iemand op die orrelbank langs haar kom sit. Sy kon selfs sy trui uitmaak… Sy was ook vinnig uit die saal.

Sy het haar ervaring weer met iemand anders gedeel wat ook ‘n onderwyser was by die skool. Dié het haar vertel dat daar ‘n meneer de Lange by die skool was. Hy was orrelis en was heilig op daardie orrel. Niemand, maar niemand, behalwe hy, mag aan die orrel geraak het nie. Meneer de Lange is oorlede en diegene wat die orrel na hom gebruik het, moes maar vrede maak dat meneer De Lange sy orrel oppas.

Die Septembervakansie kom nader en ek gaan huis toe. Ek sal weer op daardie orrel moet gaan oefen. Ek glo nie oubaas De Lange sal my iets aandoen nie…

Terug na die Wit Hand