SPOOKSTORIE UIT RAWSONVILLE

'n Dame het vir my die volgende grieselige stories gestuur wat sentreer rondom 'n ou huis daar in Rawsonville anderkant Worcester. Dit sal maak dat ek maar saans liewer die ligte aanlos as ek op my rekenaar werk...

Ek het in 'n groot ou plaashuis in Rawsonville groot geword. Vir die Worcester spookstorie aanhangers, Rawsonville is so 15 km van Worcester af, net so bietjie meer as 'n klipgooi Kaap se kant toe. Hierdie ou Kaaps Hollandse huis het krakerige houtvloere en plafonne. Ek onthou goed as ek en my sussie skelm in die huis rond beweeg het, moes ons altyd mooi trap, want trap jy skeef kraak dit so dat Ma definitief sal uitvind waarheen al die soetkoekies oornag verdwyn.

Die huis is in 1905 gebou en sover ek kan uitmaak het daar net, op die meeste twee gesinne voor ons daar gebly. Die eerste eienaar vermoed ek Oom Pietman se pa te wees en die tweede Oom Pietman self en sy vrou Tannie Erna. Oom Pietman is al lank terug dood, as ek al gebore was kan ek jou verseker ek kan hom nie meer onthou nie. (Ek is 27). Hy was blykbaar 'n moeilike man en hy en Tannie Erna het nooit enige kinders gehad nie. My oupa bly al lank in Rawsonville en Oom Pietman was familie van hom, sy neef of so iets, hy sę daar het nooit kinders in die huis gebly nie. Maar ek vertel nou 'n klomp goed en julle weet nie waarom nie.

Ons het pas daar ingetrek toe my ma een dag in die gang sit en van daardie matteëls plak. Sy het opgekyk na die deur op die punt van die gang en 'n dogtertjie daar gewaar. Sy het 'n oomblik op die dogtertjie gefokus en toe weer ingedagte afgekyk om voort te gaan met die taak voorhande. Sy vertel dat sy aanvanklik geglo het dis my niggie van langsaan wat daar staan, maar later besef het dat dit nie kan wees nie, my niggie was groter as die dogtertjie en die dogtertjie se kleertjies was lankal nie meer deel van vandag se mode nie. Sy het toe opgespring om ondersoek in te stel, maar kon nerens naby die huis enige spoor van die dametjie kry nie. Ons het die storie gehoor, so een of twee keer toe ons nog klein was, want dit het duidelik 'n indruk op my ma gemaak. Later was die storie so half vergete. So stap die jare verby... Die enigste ding in ons huis wat vir my vreemd was, was as ek saans in die bed lę en hoor hoe iemand die lig se skakelaar van die sitkamer aan en af skakel. Dis 'n ou skakelaar wat so harde kap geluid maak as jy hom aansit. Ek het nie gaan kyk nie, want ek was warm in my bedjie en nie lus vir sukkel met goed waarvan ek eintlik niks wil weet nie.

My Pa is nie 'n boer nie, en het op 'n stadium in die ou kelder langs ons huis kantore in gerig. Hy het 'n internetbesigheid daarvandaan bedryf en 'n jong IT boffin outjie uit die kaap aangestel om baie van die programmering te hanteer. Die outjie, kom ons noem hom Mark, het nagte om geprogrammeer. My ouers was een aand al vas aan die slaap toe Mark oor die interne telefoon lyn vir my Pa bel. Dit was ongeveer 02:00 die oggend. Hy was vreesbevange en het in 'n fyn stemmetjie gesę, "I'm not alone".

My pa het opgestaan en gaan kyk, maar kon niks snaaks bespeur nie, behalwe 'n bleekwit baie bang engelsman. Arme Mark het besluit om maar liewer te gaan slaap en het ons die volgende dag sy weergawe gehoor. Hy sę hy het met al die ligte af, voor sy rekenaar gesit, net die lig van die rekenaarskerm was aan. Dit het toe kouer en kouer geword en skielik het hy 'n kat hoor skree, die verskriklikste skree beskryf hy. En toe hy opkyk staan daar, in die lig van die rekenaarskerm, 'n dogtertjie langs hom. Sy het kort daarna verdwyn.

Ons het Mark op daardie stadium slegs 'n jaar of twee geken, die storie van die dogtertjie in die gang is toe reeds jare vergete, tog, toe hy haar beskryf, herken my ma haar as dieselfde kindjie wat in die gang gestaan het.

Dit was maklik 7 jaar terug, daarna het niks soos dit weer gebeur nie, ek glo die huis en werf is skoon gebid.

En dan net sulke kleine terloopse vertellinge. Het iemand al gehoor van 'n man wat voor die Du Toitskloof tonnel, die nuwe een, saam met jou in die kar klim en dan weer kort voor jy die anderkant uitkom verdwyn. 'n Vriend, of was dit nou kennis, van my pa het eendag die storie vertel. Ons ry baie daardeur, maar ek het nog nie weer so 'n storie gehoor nie, verseker ook nie so iets ervaar nie.

My Pa-hulle het altyd vertel van Stella by die Nekkies brug in Worcester. Sy het blykbaar daar verongeluk en spook op die brug. Maar in alle eerlikheid, ek dink hulle het dalk die storie opgemaak, nie omdat hulle wreed is nie, maar omdat kinders partykeer daarvan hou om so bietjie 'n bang-maak-storie te hoor.

Terug na die Wit Hand