DODESELLE IN PRETORIA

Eddier Rabie het vir my die volgende storie gestuur oor 'n ter dood veroordeelde gevangene in Pretoria. Dankie Eddier !

Die storie wat ek vandag met jou wil deel het met my Pa gebeur….
Hy was ‘n tronkbewaarder by die dodeselle in Pretoria so om en by 1966 – 1970. Hy het nagskof gewerk omdat hy op daardie stadium besig was om verder te swot. Hy het net terug gekom van twee weke verlof en was besig in die kantoor om die registers op datum te bring. Dit was al laat middag en nog net die skoonmakers (ook gevangenes wat wag op teregstelling) was nog buite die selle. Hulle het die gange en badkamers skoon gemaak.

Daar was ‘n skoonmaker genaamd Johannes wat altyd die kantoor skoongemaak het en dan het my Pa vir hom ‘n bietjie snuif gegee. So terwyl my pa die registers op datum bring kry hy ‘n krieweling so teen sy ruggraat af en hy kyk op. Daar staan Johannes… Hy sê nie ‘n woord nie… Hy staan net daar en smile vir my pa. So sê my pa vir Johannes dat dit nie nodig is om die kantoor skoon te maak nie omdat dit klaar skoon is…

Soos reeds gesê… my pa het net terug gekom van twee weke verlof… So staan Johannes vir my pa en smile, draai om en loop weg… Later het die dagskof die gevangenes toegesluit en van diens gegaan…. Terwyl my pa die selle gepatroleer het, het hy by Johannes se sel gestop om vir hom snuif te gee (Soos gebruiklik het hy dit op ‘n stukkie papier onder die deur gestoot), maar Johannes het dit nie gevat nie… My pa loop toe na een van die groot selle en vra vir hulle waar Johannes is… Hulle antwoord: “Maar Oubaas, hy is al Maandag gehang!”

Tot vandag glo my pa dat hy net kom groet het, want hy het hom nooit weer daarna gesien nie...

Terug na die Wit Hand