Die seuntjie in die hospitaal

Die volgende storie het ek gekry van Sonelle van Klerksdorp, dit handel oor die spook van 'n jong seun in 'n hospitaal. Sy sê nie of dit in Klerksdorp gebeur het nie, maar dis baie waar dat hospitale plekke is waar jy seker kan wees om een of ander stadium 'n spook raak te loop.

Ek het hierdie storie gehoor toe ek so 16 jaar oud was.

My ouma se swaer is in die oorlog oorlede, en het sy vrou (my ouma se suster) en vier kinders agter gelaat. Die tannie word toe baie siek en moes hospitaal toe gaan vir toetse ens. Na al die toetse is bevestig dat sy ernstig siek is, en die dokter het haar ook laat weet dat hulle (seker in daardie tyd), nie veel vir haar kon doen nie.

Terwyl sy tussen die gange deurloop, begin die werklikheid haar oorval en sy begin vreeslik huil. Sy gaan sit toe op een van die bankies in die gang, en so met haar hande in haar hare huil sy aanhoudend. Skielik vat iemand aan haar skouer en toe sy opkyk sit 'n seuntjie van so 9 jaar in 'n rolstoel voor haar, en vra heel rustig waarom sy so huil. Sy vertel hom toe van haar man se dood so vier jaar gelede, en die 4 kinders wat nou sonder 'n ma ook moet groot word. Die jongste van die kinders het nou eers skool toe gegaan en sy weet nie wat van die kinders gaan word as sy nie meer daar is nie.

Die seuntjie vra toe vir haar "maar tannie, ken jy nie vir Liewe Jesus nie." Heel verstom sit sy die seuntjie agterna en kyk toe hy omdraai en deur die deure onder aan die gang gaan. So is sy huistoe en het baie gebid en na haar opvolg ondersoek is bevind dat dit 'n misdiagnose was en dat daar geen teken van die sogenaamde siekte was nie. Ek glo tot vandag toe nog dat die Here haar genees het. So stap sy met dieselfde gang af en dog sy gaan sommer inloer en kyk of die seuntjie nie nog in die saal lê nie. Toe sy die deure wou oopstoot waar die seuntjie net 2 weke van tevore in gegaan het, keer een van die susters haar voor en vra waar sy op pad heen is. "Ek is op soek na die seuntjie in die rolstoel wat in hierdie saal lê" sê die tannie. "Maar tannie" antwoord die suster, "dis nie 'n saal nie, dit is die hospitaal se dodehuis."

Terug na die Wit Hand