|
Ek het hierdie storie gehoor toe ek so 16 jaar oud was.
My ouma se swaer is in die oorlog oorlede, en het sy vrou (my ouma se suster)
en vier kinders agter gelaat. Die tannie word toe baie siek en moes hospitaal
toe gaan vir toetse ens. Na al die toetse is bevestig dat sy ernstig siek is,
en die dokter het haar ook laat weet dat hulle (seker in daardie tyd), nie veel
vir haar kon doen nie.
Terwyl sy tussen die gange deurloop, begin die werklikheid haar oorval en sy
begin vreeslik huil. Sy gaan sit toe op een van die bankies in die gang, en so
met haar hande in haar hare huil sy aanhoudend. Skielik vat iemand aan haar
skouer en toe sy opkyk sit 'n seuntjie van so 9 jaar in 'n rolstoel voor haar,
en vra heel rustig waarom sy so huil.
Sy vertel hom toe van haar man se dood so vier jaar gelede, en die 4 kinders
wat nou sonder 'n ma ook moet groot word. Die jongste van die kinders het nou
eers skool toe gegaan en sy weet nie wat van die kinders gaan word as sy nie
meer daar is nie.
Die seuntjie vra toe vir haar "maar tannie, ken jy nie vir Liewe Jesus nie."
Heel verstom sit sy die seuntjie agterna en kyk toe hy omdraai en deur die
deure onder aan die gang gaan. So is sy huistoe en het baie gebid en na haar
opvolg ondersoek is bevind dat dit 'n misdiagnose was en dat daar geen teken
van die sogenaamde siekte was nie. Ek glo tot vandag toe nog dat die Here haar
genees het. So stap sy met dieselfde gang af en dog sy gaan sommer inloer en
kyk of die seuntjie nie nog in die saal lê nie. Toe sy die deure wou oopstoot
waar die seuntjie net 2 weke van tevore in gegaan het, keer een van die susters
haar voor en vra waar sy op pad heen is. "Ek is op soek na die seuntjie in die
rolstoel wat in hierdie saal lê" sê die tannie. "Maar tannie" antwoord die
suster, "dis nie 'n saal nie, dit is die hospitaal se dodehuis."
|