'n Paar stories uit Worcester

Dit was lekker om weer 'n slag nuwe stories te kon kry en hierdie maal was dit nogal daar van Worcester se wêreld. Freda Calitz het vir my drie vertellinge gestuur en ek het hulle sommer baie geniet. Ek moet darem net sê dat ons lesers ook soos Freda moet maak, al is die stories nie baie lank nie, stuur hulle nogtans in, dit het altyd 'n verrykende effek op ons volkie se kultuur en natuurlik ook op ons spookstorieskat !

Hierdie is sommer spookstories wat my ma-hulle vertel het, wat hulle weer by hulle ouers gehoor het. Volgens oorlewering het hierdie storie naby Worcester afgespeel. Die man wou ontslae raak van sy gesin, want hy het iemand in die oog gehad. Waarop hy toe sy vrou en kind gif gevoer het. Hulle lyke is naby die dorpsdam gelos in vlakwater wat dit laat lyk het asof die vrou die kind wou red en altwee dus verdrink het. Die man is tog aangekla maar geen bewyse kon gevind word dat hy die moorde gepleeg het nie. Die dag wat die regter die man onskuldig bevind gebeur die volgende - elke keer as die regter onskuldig skryf, val daar 'n bloeddruppel op die ou. Niemand kon verklaar waar die bloeddruppel vandaan kom nie. Toe dit egter die derde keer gebeur, het die man heeltemal ontsenu geraak en hulle na die plek toe geneem waar hy die gif begrawe het by 'n brug langs die hoofweg. Of die feite heeltemal korrek is, kan ek nie sê nie. Dit is maar hoe ek dit onthou het.

Dan het my oupa die storie vertel van goëlery. In die omtrek van die plaas het 'n hele paar misdade plaasgevind. Huise is besteel - juwele en waardevolle artikels, maar niemand het 'n persoon gesien nie. Terwyl een van die boere by sy skape is, let hy 'n vreemde hond op teen die berghang naby sy skape. Hy trek los en skiet na die hond, maar kry hom nie raakgeskiet nie. Na 'n paar dae gebeur dieselfde voorval, maar hierdie keer is die boer reg vir hom. Hy wond die hond en volg die bloedspoor tot by 'n grot. Daar vind hy 'n swart man wat gewond is asook al die juwele en waardevolle artikels by hom in die grot.


Hierdie is nie 'n spookstorie nie, maar wel 'n storie wat in 'n hospitaal gebeur het. Die omie is op sy sterfbed met al sy kinders om hom. Sy besittings is mondelings verdeel en dit bepaal onder andere dat sy seun sy trouring sal kry die dag as sy pa sterf. 'n Dag of wat later skakel hulle die seun en sê sy pa is sopas dood. Die lyk word in 'n kamer gestoot om gewas te word en vir die kinders om afskeid te kom neem. Die seun wil toe pa se trouring van sy vinger afhaal en dis toe net daar wat die geneuk plaasvind. Pa word wakker uit 'n skyndood en konfronteer sy seun. Kan hy dan nie wag tot hy werklik dood is nie voor hy wil erf nie. Blykbaar het die pa nog so vyf jaar daarna geleef.


Terug na die Wit Hand