|
Hierdie is sommer spookstories wat my ma-hulle vertel het, wat hulle weer by
hulle ouers gehoor het. Volgens oorlewering het hierdie storie naby Worcester
afgespeel. Die man wou ontslae raak van sy gesin, want hy het iemand in die oog
gehad. Waarop hy toe sy vrou en kind gif gevoer het. Hulle lyke is naby die
dorpsdam gelos in vlakwater wat dit laat lyk het asof die vrou die kind wou red
en altwee dus verdrink het. Die man is tog aangekla maar geen bewyse kon gevind
word dat hy die moorde gepleeg het nie. Die dag wat die regter die man
onskuldig bevind gebeur die volgende - elke keer as die regter onskuldig skryf,
val daar 'n bloeddruppel op die ou. Niemand kon verklaar waar die bloeddruppel
vandaan kom nie. Toe dit egter die derde keer gebeur, het die man heeltemal
ontsenu geraak en hulle na die plek toe geneem waar hy die gif begrawe het by
'n brug langs die hoofweg. Of die feite heeltemal korrek is, kan ek nie sê nie.
Dit is maar hoe ek dit onthou het.
Dan het my oupa die storie vertel van goëlery. In die omtrek van die plaas het
'n hele paar misdade plaasgevind. Huise is besteel - juwele en waardevolle
artikels, maar niemand het 'n persoon gesien nie. Terwyl een van die boere by
sy skape is, let hy 'n vreemde hond op teen die berghang naby sy skape. Hy trek
los en skiet na die hond, maar kry hom nie raakgeskiet nie. Na 'n paar dae
gebeur dieselfde voorval, maar hierdie keer is die boer reg vir hom. Hy wond
die hond en volg die bloedspoor tot by 'n grot. Daar vind hy 'n swart man wat
gewond is asook al die juwele en waardevolle artikels by hom in die grot.
Hierdie is nie 'n spookstorie nie, maar wel 'n storie wat in 'n hospitaal
gebeur het. Die omie is op sy sterfbed met al sy kinders om hom. Sy besittings
is mondelings verdeel en dit bepaal onder andere dat sy seun sy trouring sal
kry die dag as sy pa sterf. 'n Dag of wat later skakel hulle die seun en sê sy
pa is sopas dood. Die lyk word in 'n kamer gestoot om gewas te word en vir die
kinders om afskeid te kom neem. Die seun wil toe pa se trouring van sy vinger
afhaal en dis toe net daar wat die geneuk plaasvind. Pa word wakker uit 'n
skyndood en konfronteer sy seun. Kan hy dan nie wag tot hy werklik dood is nie
voor hy wil erf nie. Blykbaar het die pa nog so vyf jaar daarna geleef.
|