Die droom van die huis in Parys

Dit is altyd lekker om nuwe stories te ontvang, al is die strekking daarvan nie altyd sodanig dat mens dit 'n spookstorie kan noem nie. Hierdie een grens egter aan die bonatuurlike en handel oor 'n merkwaardige droom wat 'n dame gehad het voordat sy vertrek het na Frankryk. Ons kan dit dus 'n soort voorbode noem, en Rozanne was so gaaf om hierdie storie aan my te stuur.

Ek het toevallig op die "Die wit hand" afgekom, maar ek voel ek kan 'n bydrae maak, dit is nie 'n spookstorie nie, maar genoeg om enige mens twee keer te laat dink oor sy drome!

Ek maak sommer skuilname op in die storie, maar dit is die reine waarheid!

Emily was in Graad 11 toe haar pa, 'n ambassadeur, verplaas is na Parys om daar te gaan werk vir 'n jaar of twee. Haar ouers het dit goed gedink om haar nie op hierdie laat stadium in 'n Franse skool te probeer plaas nie, en sy het in Suid-Afrika agter gebly. 'n Paar weke voor haar ouers se vertrek het Emily se ma haar vertel van hierdie vreemde droom wat sy nou al vir 'n week elke aand gedroom het.

Die droom begin waar sy by trappe opstap, aan weerskante van die trappe staan mense, maar sy kan nie verstaan wat hulle vir haar probeer sê nie. Wanneer sy bo by die trappe kom stap sy in 'n kamer in. In elke hoek van die kamer se plafon is daar die mooiste houtsneewerk wat soos voëltjies lyk. Dan stap sy, in die droom, tot in die middel van die vertrek en sy kyk op na die dak en 'n straal water loop uit die dak tot op die vloer, dan word sy wakker. Elke aand dieselfde droom...

So gaan die dae verby en die tyd kom om afskeid te neem. Emily bly by haar tannie en haar ouers is Parys toe. Kort na hulle aankoms in Parys bel Emily se ma haar. Sy vra toe vir Emily of sy kan onthou van droom waarvan haar ma haar vertel het. Haar ma sê toe sy het by die lughawe in Parys op 'n roltrap geklim en onmiddellik die situasie herken vanuit haar droom, sy het met die trappe opgegaan en aan weerskante van haar, op die ander roltrappe het die mense almal Frans gepraat en sy kon hulle nie verstaan nie. Die ambassade het vir hulle 'n huis verskaf en dit was blykbaar 'n ongelooflike huis, met die mooiste meubels en alles waarvoor jy kon vra! Toe hulle by die hoofslaapkamer instap vir die eerste keer het haar ma amper flou geval, want in elke hoek van die plafon was houtsneewerk in die vorm van voëltjies. Die eerste nag het dit begin reën en die plafon van die slaapkamer het begin lek ! Alles was net soos in die droom. Dit was die enigste keer wat dit ooit met Emily se ma gebeur het.

Laat mens twee keer dink oor die menslike brein.

Terug na die Wit Hand