Billy se besoeker

Ek het die volgende vertelling raakgeloop by "The Shadowlands" en ek is dankbaar teenoor die dame dat ek dit ook hier kan gebruik. Dit is losweg vertaal sonder om te veel weg te gooi van die oorspronklike Engels. Carla, ek is seker die ander besoekers van "Die wit hand" sien met groot verwagting uit na jou volgende storie !

Ek is Carla van Johannesburg. Die storie wat ek wil vertel is aan my vertel deur 'n getroue vriend en kollega, Billy.

Billy en sy eks-vrou was besig met hulle egskeiding. Hulle moes hul huis verkoop en die inkomste moes tussen hulle verdeel word. Aangesien die huis in 'n buurt was waar vandalisme hoogty gevier het, wou Billy nie onmiddellik die huis verlaat nie omdat die vandale dan die leë huis sou beskadig. Hy het bewus geword van 'n paar eienaardighede, soos items wat sou wegraak en later weer op dieselfde plek sou verskyn, asook klopgeluide. Tipies mansmens, het hy dit maar toegeskryf aan toevallighede.

Billy het een middag tuisgekom van die werk af en die voordeur oopgesluit. Hy sien toe 'n hopie pos lê links van die deur buite op die stoep. Hy het gebuk om die pos op te tel en draai toe in die proses sy rug op die oop deur. Terwyl hy deur die pos kyk het hy skielik 'n harde stoot van agter gekry en dit het hom amper omgestamp. Hy draai hom toe vinnig om, met die gedagte dat hy 'n inbreker gaan verras, net om te besef dat daar niemand agter hom is nie. Die huis was nog steeds leeg. Billy hardloop toe straat toe en het op en af gekyk, maar niemand gesien nie. Dit was nou regtig eienaardig.

Ek moet hier byvoeg dat Billy heldersiende is en die vermoë het om geeste te kan sien en aan te voel. Die feit dat hy niks kon sien nie maak hierdie geval vir my baie vreemd. Ek glo dat geeste hulself slegs aan seker mense vertoon, wat die volgende deel baie ysingwekkend maak.

Billy het later daardie aand wakker geword uit 'n diep slaap en dadelik 'n "gevoel" gehad. Hy het op sy rug gelê en stadig rondgekyk of hy die "besoeker" kon sien wat sy sesde sintuig hom laat aanvoel het. Hy het na die venster, die deur en selfs die plafon gekyk, maar niks gesien nie. Al het hy hóé gekyk, kon hy niks vind wat die hare op sy nek laat regop staan het nie. Uiteindelik, van moegheid, het hy sy oë begin toemaak - en dit was tóé dat hy groot skrik. Sy oë het gedwaal na sy voete onder die kombers en by die voetenent van die bed het 'n wese gesit en loer na hom oor die knop wat sy voete maak. Dit was 'n manlike persoon met 'n bos rooi hare en 'n wrede, gekke glimlag met besondere wit tande. Toe die wese besef hy word aangekyk het dit bo-op die bed gespring en stadig oor hom gekruip, terwyl dit hom vaspen onder die bedoortreksel.

Ek het Billy gevra hoe die wese verder gelyk het, maar hy het erken dat hy op hierdie stadium sy oë toegemaak en gebid het. Die wese het hom nog vasgepen en te oordeel aan die manier waarop die wese op hom gedruk het, het hy GEWEET die skepsel moes nog staar na hom, slegs 'n paar sentimeter weg van sy gesig af. Hy het aanmekaar probeer opspring, maar die wese se gewig was te veel. Billy weet nie hoe lank dit was nie, dit het soos ure gevoel, maar uiteindelik het die gewig skielik verdwyn. Billy was onmiddellik in die gang met al sy beddegoed, toe in sy motor en daarvandaan na sy oom. Dit is nogal verrassend dat daar geen vandalisme plaasgevind het in die drie maande wat dit geneem het om die huis te verkoop terwyl hy by sy oom gebly het nie !

Ek het nog baie ander persoonlike ervaringe wat ek later sal vertel. Ek hoop u het dit geniet !

Terug na die Wit Hand