Vreemde teenwoordigheid in 'n kitskosrestaurant

Na 'n besonderse lang spookstoriedroogte was ek bly om van ene Noelene te kon hoor. Sy het 'n eienaardige ervaring by 'n sekere kitskos-kettinggroep gehad en, wat dit soveel te meer besonder maak, is die feit dat haar manlike metgesel dit ook beleef het ! Ek het die betrokke plek al besoek maar was ongelukkig nie in die ruskamer waar die gebeurtenis hom afgespeel het nie. Na dese sal ek beslis 'n punt daarvan maak om weer eendag daar 'n draai te maak.

Persoonlik glo ek nou nie regtig in spoke wat wit is en bo die die aarde sweef nie, maar ek het al self 'n ervaring of twee gehad wat ek dalk aan 'n gees of so iets sal toeskryf. Jy weet die gevoel wat baie mense van praat as jy op die plek kom. 'n Koue gevoel omring jou en jy is baie onrustig en dis of jy aanvoel daar is iets daar.

Een só 'n gebeurtenis onthou ek baie goed en as jy dalk dit wil plaas net om uit te vind of iemand anders dalk ook die ervaring gehad het. Ek sal graag wil weet of daar 'n verduideliking is vir die ervaring. Dit het die 1ste April 1995, vroeg Saterdagaand, plaasgevind. (En nee dis nie 'n Aprilgek-grappie nie). Ons was in 'n kitskoswinkel op Magaliesburg op pad na Pilansberg. Nadat ons die bestelling geplaas het is ek na die dames toilet. Ek onthou daar was een deur wat na die mans en dames gelei het, wanneer jy die deur oopmaak is daar trappies af en 'n muurbalbaan aan jou regterkant.

Ek het dadelik 'n onrustige gevoel gehad toe ek die deur oopgemaak het. Dan links was daar deure na die mans en dames afsonderlik. Nadat ek in die dames in is het ek hierdie ongelooflike koue beklemming gekry en dis of daar iets daar was, dis baie moeilik om die gevoel te beskryf. Maar dit was onuithoudbaar versteurend en vreesaanjaend tergelyk. Ek is so vinnig as wat ek kan uit die toilet uit en terug by ons tafel. My metgesel is kort na my terugkeer ook toilet toe sonder dat ek enige iets aan hom genoem het van my ervaring.

Na ons ete terwyl ons vir die rekening gewag het, het ons begin praat en het hy my gevra of ek iets gevoel het toe ek toilet toe was. Met die wat ons daaroor begin gesels vind ons dat ons altwee die snaakse ervaring gehad het. Tot vandag toe wonder ek of iemand dalk daar oorlede is, of die enigste ander verduideliking wat ek aan kan dink, is dat iemand of 'n groep persone dalk geeste daar opgeroep het. Miskien is daar iemand wat weet wat die verduideliking is.

Terug na die Wit Hand