Afkop-Jim in die skoolkoshuis

Die volgende spookstorie speel hom af hier in die een gedeelte van die tegniese skoolkoshuis waar ek loseer. Dit is nie baie lank nie maar ek voel tog dit is die moeite werd om te vertel.

Ek het onlangs een van die leerkragte se vroue, sê maar mev. Ferreira, gaan help met 'n rekenaarprobleem. Aangesien ek gehoor het dat daar meer inwoners in hierdie koshuis is as net die vlees-en-bloed tipe, en omdat ek gehoor het dat sy insae in die kwessie het, het ek mev. Ferreira gepols oor die spook. Na ons 'n koppie tee gedrink het, het sy my vertel van hierdie karakter wat die naam "afkop-Jim" gekry het. Wie hierdie persoon was, weet ek nog nie, maar dit gaan ek verseker nog probeer uitvind.

In ieder geval, sy sê dit het 'n ruk gelede gebeur met die afsluit van 'n skoolkwartaal. Dit was nog in die tyd toe die betrokke deel waarin ons volwassenes loseer skoolkinders gehuisves het. Die betrokke middag het sy en 'n ander dame, wat 'n ander onderwyser se eggenote is, die gange deurgegaan om al die kamers se vensters toe te maak. Dit moet natuurlik gedoen word om te verhoed dat die vensters stukkend slaan as die wind waai of om bloot te keer dat die kamers nat reën as die weer sou opsteek. Mev. Ferreira vertel dat hierdie ander dame so met die wegtrek 'n stuk yster geneem het met haar, aangesien sy blykbaar kon aanvoel dat daar iets bonatuurlik teenwoordig was. Mev. Ferreira het maar net geglimlag, aangesien sy nie eintlik glo in geeste en sulke dinge nie, alhoewel sy (soos ek self) wel 'n lekker spookstorie kan geniet.

Hulle het die hele koshuis deurgewerk en elke kamer se vensters behoorlik toegemaak, op beide vloere, tot reg agter by die badkamers en toilette. Sy vertel dat, toe hulle alles mooi toe gehad het en sy teruggekeer het na haar eie woonstel, die ander dame haar aandag vestig op een van die kamers waarvan een venster toe nog oopstaan. Dit was vir haar baie eienaardig aangesien sy geweet het dat sy beslis daar verbygegaan het. Gevolglik het sy maar teruggegaan en die venster gaan toemaak.

Ja, u kon dit raai. Kort nadat sy terug was in haar woonstel kyk sy deur haar venster en vind toe dat die bogenoemde kamer se venster weer oop was. Sy het my nie vertel of sy weer daardie kant toe is nie, ek reken ek sou 'n hele paar mense met my saamneem as die taak aan my gegee sou word !

Ek moet net noem dat daar al met die tyd 'n paar selfmoordgevalle was in hierdie koshuis, blykbaar het hierdie "afkop-Jim" se dinge begin met die geval van 'n skoolseun wat hom opgehang het in die betrokke kamer (of een baie na aan die kamer met die oop venster). Dit is dus nie vreemd dat hierdie soort ding ook hier gebeur nie, en ek gaan poog om meer uit te vind van hierdie rare karakter.

Terug na die Wit Hand