Die Kakie en die kol

Mnr. Naude vertel vervolgens vir ons van sy oupagrootjie se latere ervarings op 'n ander plaas en van 'n eienaardige kol op die eetkamervloer. Dit laat mens nogal dink aan daardie "huis van gesigte" in Spanje waar daar in die vroeë jare sewentig eienaardige gesigte op die kombuisvloer en elders opgemerk is. Ek wonder ook hoeveel van hierdie oorlogstonele herhaal hulself dag na dag in ons land, sonder dat daar dalk mense is wat dit kan waarneem.

Oupagrootjie en sy nuwe vrou het baie daarna uitgesien om ‘n nuwe begin op die plaas Imbama te maak. Uiteindelik kon hulle Driehoek en sy spoke vergeet, snags lekker slaap en saam vorentoe kyk. So het hulle gedink. Nie lank na hul intrek in hul nuwe tuiste nie, het die geraamtes van ouds weer begin lol.

Tannie Anny vertel die storie van die kol op die vloer in die eetkamer van oupagrootjie se huis wat nie wou verdwyn nie. ‘n Groterige, donker kol het gereeld op die vloer verskyn en dan het hulle probeer om dit met die gebruiklike mengsel van paraffien, kerswas en ‘n tipe plant wat die vloer swart kleur, toe te smeer. Ten spyte van die proses het die kol egter elke keer weer deurgeslaan. Hulle het later seepsoda, suur en elke moontlike skoonmaakmiddel probeer, maar alles was tevergeefs. Die kol het elke keer net duideliker, natter, groter én rooier uitgeslaan. Geen plaasarbeider was bereid om twee keer aan die kol te skrop nie. Hulle het botweg geweier want volgens hulle was dit die groot spoor van die spook.

Na die skrop kon niemand vir ‘n nag of wat slaap nie. Daar was werklik iets onheilspellends omtrent dié kol. Onwillekeurig het hulle weer aan Driehoek se spoke gedink. As hulle saans deur die eetkamer stap, het hulle weer daardie snaakse gevoel van spoke ervaar. Jou hare rys en dit voel of iemand jou enige oomblik aan jou skouer wil vat. Die gedagte aan Driehoek en die spoke wat snags daar rondloop was die hele tyd in hul midde. Hulle het orals raad gevra, maar niemand kon help nie.

Uiteindelik het een van oupagrootjie se ou plaaswerkers met met die storie uitgekom dat ‘n Engelsman in die oorlog op daardie plek doodgeskiet is en dat dit sy bloed is wat telkens so deurslaan. Hy het glo ‘n wond in die maag gekry en hom daar op die plek doodgebloei. Die ou man het destyds glo die hele gedoente aanskou en hy het die storie in die grootste detail vertel. Oupagrootjie het die vloer laat uitkap en volledig laat oordoen, en op hierdie manier het die Kakie se siel uiteindelik rus gevind. Die kol was weg, en die twee oumense kon voortaan lekker in die eetkamer kuier.

Terug na die Wit Hand