Driehoek se spoke

Van mnr. Naude af het ek weer 'n storie ontvang en dié maal was dit 'n storie oor dinge wat hy onthou uit sy kinderdae in 'n plaashuis. Die insident rondom die druppende bloed is nogal grillerig en 'n mens wonder onwillekeurig watter vreeslike daad daartoe kon aanleiding gee. Net die wandeling alleen deur so 'n ou, bouvallige plaashuis laat my al lekker kriewel. Maar kom ons gaan maak nou eers 'n draai saam met Louis op Driehoek...

Tannie Bes onthou dat dit in die ou dae op Driehoek gespook het. Sy sê dit was die mense se sondes wat tot die spokery aanleiding gegee het en dat die skuldiges van weleer snags daar rondgeloop het. Ek onthou dat pa ook by ‘n geleentheid of wat spookstories vertel het en gesê het dat dit beslis op die plaas gegoël het. Oom Boet, pa se blinde broer het ook die mooiste spookstories vertel, maar ongelukkig onthou ek of suster Petra nie veel hiervan nie. Ek wonder of hy ook die spoke gesien het of dalk met hulle gepraat het. Om te dink hy het lank stoksielalleen op die plaas gebly. Meteens het ek baie meer respek vir hom.

Pa het die storie vertel van die eentonige drup-geluid wat hulle soms in die aand in hul slaapkamer gehoor het. Toe hulle met die kers ondersoek instel, sien hulle helderrooi bloeddruppels wat uit die dak op die vloer val, sonder dat daar iets was wat gebloei het. Mens kon ook nie mooi sien presies waar die druppels vandaan kom nie. Sodra die druppels een vir een val, verdwyn hulle weer. Niemand kon ooit die raaisel oplos nie.

Ek onthou as klein seuntjie dat ons almal maar bang was om op Driehoek te slaap. Donker was daar, snags in die kliphuis, donkerder as die donkerste donker wat ek ooit in my lewe gesien het. Ek onthou daar was ‘n beeld van ‘n vrou sonder arms in die huis, beslis nie ‘n replika van die bekende Venus-beeld nie, wat baie onheilspellend gelyk het en ons was altyd baie bang vir dié beeld. Die vrou sonder arms het ‘n wrede uitdrukking in haar oë gehad en selfs in die dag so onheilspellend soos ‘n spook of ‘n bo-aardse wese gelyk. Dit was in elk geval maar altyd bedags ook half donker in die huis aangesien die vensters van die ou kliphuis baie klein was. As ek aan Driehoek terugdink dink ek altyd vaagweg aan die beeld van die vrou sonder arms en die gerugte van spoke. Ek onthou ma het een aand met ‘n kers geloop en waarskynlik ‘n weerkaatsing in ‘n ruit of iets dergliks, of dalk ‘n spook gesien en vreesaanjaend aan die gil gegaan. Haar bloedstollende gille bly my tot vandag toe nog helder by. Gelukkig was my blaas op daardie stadium nie vol nie.

Vroeg in 1995 het ek en my seun JP daardie gedeelte van Driehoek waar my pa grootgeword het vir die eerste keer na 1964 weer besoek. Dit was ‘n vreemde ervaring, en ons het, ofskoon dit nog helder dag was, die spoke se teenwoordigheid aangevoel. Van die eens karaktervolle ou plaashuis het net ‘n vervalle murasie oorgebly, ‘n volwaardige spookmurasie in eie reg. Die kenmerkende helderblou muur in die eetkamer was een van die uitstaande dinge wat ek dadelik herken het. Die kleur het net heelwat verbleik maar die diep blou was nog steeds daar. Dit is eienaardig dat ek blou, en veral potblou, altyd met dié muur assosieer. Met respek gesê, die grensdrade was reeds so verwoes dat dit nagtelike verkeer tussen die huis en die grafte kan vergemaklik. Die grafte was ook reeds baie verwaarloos. Selfs sondige sterflinge verdien nie so ‘n vervalle laaste rusplek nie, of rus hulle werklik? Langs die huis het ‘n ou motorwrak gelê, waarskynlik ‘n model uit die dertigerjare. Moontlik was dit een van die kinders se motors wie die ellendige ding net daar gelos het. Die enorme bloekomboom agter die huis waaronder ouma Sannie in haar kis gelê en wag het vir die begrafnis was nog daar, maar van die vrugteboord het nie veel oorgebly nie.

Tydens ‘n wandeling later middag deur die bouvallige kliphuis sonder dak het ‘n ligte windjie onheilspellend deur die murasie gefluit en my subtiel vermaan dat ons voor skemer daar moes wegkom, want meteens het die spookstories nie meer so vergesog geklink nie. In die wegry het ek nie een keer omgekyk nie. JP het die kar se deure gou gesluit. Ons kon die teenwoordigheid van die spoke letterlik aanvoel.

Die spoke op Driehoek het letterlik my gesin asook suster Petra en haar dogter se verbeelding aangegryp. Hulle wil Driehoek toe en self gaan kyk. Dit moet ook nie sommer net ‘n kort kykie wees nie. Nee, hulle wil in die ou huis gaan oornag. Verbeel jou!! Niks skrik hulle af nie. Mariette het tot die raad van die predikant gevra en hy het haar gerus gestel en gesê as dit by kyk bly en daar is nie ‘n doelbewuste poging om die geeste op te roep nie, die poging opsigself nie sonde is nie. Moontlik sal hierdie ekspedisie uitgestel word tot die Oktober-vakansie. Dit is nou Julie 2000, beslis te koud daar.

Terug na die Wit Hand