Oom Sarel vertel ‘n ware spookstorie wat sy oom Piet hom vertel het. Oom Piet
was oupagrootjie JP se halfbroer uit die huwelik tussen sy pa,
groot-oupagrootjie JJ en sy tweede vrou, JPD Smit. Oom Piet was vreeslik
gelowig en ‘n fyn kenner van die Bybel.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog ontvang oom Piet ‘n berig dat sy oudste seun of vermis was, of gesneuwel het. Hy was baie ontsteld en wou ontsettend graag weet waar sy seun was. Daardie aand bulk die beeste verskriklik en oom Piet is in die helder maanlig uit om te gaan kyk wat aangaan. Naby die kraal voel hy iemand vat hom aan die skouer. Hy draai om en sien die skraal lang vrou met ‘n pikswart lang rok. Sy moes kompleet soos die prentjie van die heks met die besem gelyk het. Sy deel hom mee dat hy binne drie dae ‘n berig oor sy seun sou ontvang, en onmiddellik daarna is die vrou soos die wind die nag in. Drie dae later ontvang oom Piet ‘n telegram wat sê sy seun leef. Sy blydskap was onkeerbaar en hy wou die geheimsinnige vrou in swart graag bedank. ’n Week of wat later bulk die beeste een aand weer verskriklik. Oom Piet is weer uit, en die lang vrou in die pikswart rok vrou vat hom weer naby die kraal aan die skouer. Sy sê dat daar baie geld op die plaas begrawe is en dat sy hom sal gaan wys waar om te grawe. Sy sal ‘n paar dae later een aand aan sy venster kom klop en hom die presiese plek van die fonds gaan wys. Onmiddellik daarna was die vrou weer weg. Die betrokke aand hoor oom Piet ‘n sagte dog ferm klop aan die ruit van sy slaapkamer. Hy sien die lang vrou en meteens lyk haar rok swarter, haar oë onheilspellend, en haar wit tande besonder skerp in die aandlig. Oom Piet besef sy is van die bose en hy bedank haar aanbod. Hy sê vir haar dat hy ‘n kind van die Here is en dat hy hom nie met waarsêery en die bose ophou nie. Met ‘n vreesaanjaende klap van die tong en bo-aardse rammelende geluid is die vrou daar weg, en oom Piet kon die res van die nag nie ‘n oog toemaak nie. Sy storie is oorvertel en het gou deur die hele plaas en die kontrei versprei. Vir etlike maande daarna is feitlik die hele Driehoek omgedolwe, maar geen pennie van die fortuin is gevind nie. Oom Sarel vertel ook die strorie dat ‘n sekere lid van die aangetroude familie om ‘n ander rede sy graaf gebruik het, snags in die kerkhowe, sodat die mense nie kon sien hy soek beendere vir sy onderaardse bedrywighede nie. |