Die spooklig op Shuluwe

Van 'n meneer Bert van den Heever het ek die volgende storie ontvang wat handel oor 'n spooklig iewers in die destydse Noord-Rhodesië. Dit wys weer vir ons dat spoke in baie verskillende gedaantes kan voorkom en die leser sal waarskynlik ook herinner word aan spookagtige motorligte wat mens veral in bergpasse raakloop.

Ek het op 'n plaas, Shuluwe, buite Lusaka in Zambië grootgeword. My pa het 'n steenmakery op 'n gedeelte van die plaas ontwikkel en daar was dus 'n groot aantal werkers wat daardie dae op die plaas gebly het. Daar het, soos mens kon verwag, soms goed van ons plaaswerf "verdwyn". Kort voor een van hierdie diefstalle is ons waghond 'n stuk vleis met glastukke in gevoer en kon die diewe, na sy dood, sonder moeite die werf betree.

My pa het toe 'n nuwe jong hond aangeskaf en besluit om hom, van meet af aan, te kondisioneer om slegs kos op bevel te neem. So het dit dan gekom dat my pa een aand teen skemer, kos vir die hond voorgesit het, sonder om die bevel te gee dat hy mag eet. Pa het om die hoek van die plaashuis stelling in geneem om te loer of die hond dit sou waag om aan die kos te raak. Skielik (so vertel Pa) het die hond se hare gerys en het hy begin knor. Pa sien toe die hond knor vir 'n lanternlig wat 'n end daarvandaan oor die plaaswerf beweeg. Min het hy toe geweet hy sien dalk 'n spook!

Alhoewel die vreemde lig wyd en suid oor die plaas geswerf het, het dit tog met groter reëlmaat 'n roete langs die ou spoorlyn gevolg. Ekself het die lig 'n paar keer gesien, maar nooit van naby nie. Daardie "eer" sou net Pa te beurt val. Maar by daardie insident sal ek nog kom. Twee gebeure uit my kleuterdae kan ek nog goed onthou. Die nag met die verkyker en die oukersaand van 55. Dit was met ligte-uit een nag dat Pa weer die lanternlig gewaar het. Die verkyker is uitgehaal en daarmee het ons vir 'n baie lang ruk die doellose swerftog van die lig op die verste punt van die plaas gevolg. Ma en Pa het tot laat bespiegel oor wie dit kon wees. Pa was vas oortuig dat dit een van sy buurmanne was wat skelm op sy plaas jag. Hy het lank wakker gelê en luister vir 'n geweerskoot om sy vermoede te bevestig. Die nag het stil verbygegaan.

'n Paar maande later was dit Kersfees en is daar besluit dat al die familie en bure op ons plaas sou kom kuier om presente uit te deel. Kort na Kersvader se besoek, en terwyl ons kinders nog presente oopmaak, het die lig ook sy verskyning gemaak. Pa het skielik besef dat die lig nie 'n koplamp kan wees nie want al sy bure was dan daar saam met hom! Hy vertel toe vir almal van die vorige kere wat hy die lig gesien het. Die grootmense het ons klomp morrende kinders vinnig in motors gestop en laat waai agter die lig aan! Nodeloos om te sê, ons kon netnie die lig inhaal nie.

Pa het later vantyd een nag gaan jag. Hy was besig om deur ruig bos te stap toe hy die lig 'n end van hom af gewaar. Hy skakel toe sy eie koplamp af en bly staan. Die lig was immers op pad na hom toe! Hy vertel dat hy so staan en wag het om die kwaaijong met die lig vas te trek toe sy nekhare onwillekeurig begin rys. Die lig het kort daarna sowat tien tree van hom af verbygesweef. Daar was geen mensehand naby die lig nie! Net 'n gelerige bol lig soos die van 'n ou stormlantern wat oor die grond sweef. Pa is nie skaam om te vertel dat hy redelik vinnig huiswaarts gekeer het nie!

My oorlede Oom Jurie, wat ook oukersaand op die plaas was, het my jare later vertel dat hy met van die ouvolk op die plaas oor die lig gepraat het. Hulle was die oorblywendes van 'n stam wat donkiejare terug hulle in daardie wêreld gevestig het en hulle het half eenkant op die plaas gebly. Onder hulle was 'n baie ou man, wat ek nog vaagweg onthou, wat vir my oom toe vertel dat die lig aan die ou stasiemeester behoort. Hy was lief om in die aand met sy stormlantern langs die spoor te loop om inspeksie te doen. Hy is egter een nag in 'n rangeerongeluk dood. "Dis hy wat daar loop," het die ou man vertel. Na die stasiemeester se dood is die spoorlyn verlê om 'n styl hoogte te vermy maar die ou meester het bly loop op die roete van vergange se dae. Of daar waarheid in die ou man se storie steek kon nooit vasgestel word nie. Maar die lig is waar en baie mense kan daarvan getuig. Ek sal ook nie weet of die lig nog daar loop nie, ek sal verbaas wees as dit sou.

'n Paar jaar gelede het ons gesin, Ouma en Oupa inkluis, die kombi gepak en loop kyk hoe Shuluwe nou lyk. Buite Lusaka het ons met groot afwagting die afdraai na die plaas gevat. Daar was nie meer 'n boom in sig nie. Die ruie bosse van die vroeë vyftigs het veertig jaar later verdwyn in 'n stofgetrapte plakkerskamp wat tot op die gesigseinder gestrek het. Ek het onwillekeurig aan die lig gedink en met heimwee gewonder of die ou stasiemeester ook maar besluit het om pad te gee. Ons het omgedraai en op pad terug het Oupa die storie van die spooklig op Shuluwe aan my kroos oorvertel.

Terug na die Wit Hand