DIE DOODSKIS BY SYFERBULT

Die tweede storie van mev. S. de Villiers handel oor 'n gesig wat nie net haar oupa nie, maar ook haar oom tegelykertyd gesien het. Dit lyk vir my of voorbodes van 'n persoon se dood gewoonlik gepaard gaan met doodskiste, soos in die geval van Wikkie, van wie ek vroeër geskryf het.

My Oupa-hulle was maar arm en tot en met sy dood het hulle nie elektrisiteit gehad nie. (Daar is werklik mense in die Wes-Transvaal wat tot op hede nie elektrisiteit het nie !). Om televisie te kyk is die toestel aan die kar se battery gekoppel. 'n Kers is agter die televisie geplaas en drie of vier ander kerse en lampe is ook opgesteek sodat dit nie so donker is terwyl daar televisie gekyk word nie.

Ek vermoed dit was 'n tyd lank na my Ouma se dood in 1989 dat hy 'n "voorbode" gehad het. Hulle het die aand televisie gekyk soos hierbo beskryf. Hulle het 'n ruim kombuis gehad met 'n groot tafel in die middel. Die televisie het weg van die stoof teenaan die muur gestaan en die gasyskas was op daardie stadium teen die symuur van die vertrek. Om dus vanaf die televisie of die stoof na die yskas te loop, moes 'n mens noodwendig om die tafel beweeg. My Oupa-hulle het altyd by die tafel gesit en televisie kyk.

Meteens kom daar 'n doodskis uit die yskas geswewe! Die verskynsel het ongeveer ooghoogte stadig bokant die grond gesweef, oor die kombuistafel, deur die venster na die kamer langsaan en by dié se venster uit. My oom het dit ook gesien. Voorheen het my Ouma ook gesien wat my Oupa gesien het as sy naby hom was, en my oom het daardie aand naby my Oupa gesit sodat hy presies dieselfde ding gesien het! Ek kan nie onthou wie daarna dood is nie, maar daar was 'n begrafnis en dit was 'n kennis van my Oupa.

Glo dit of glo dit nie, maar dit is die waarheid. En daar is nog BAIE ander soortgelyke gevalle, nie net van my Oupa nie, maar ook my Ouma wat oorlede is, my ma se ouers, my ma self en my pa, almal nog in die land van die lewendes. Hierby reken ek nie eers die gevalle uit my man se familie nie !

Terug na die Wit Hand