DIE ENGELSMAN BY OLIFANTSPOORT

Van 'n mev S. de Villiers het ek twee stories ontvang, vertellinge wat haar oupa aangaan. Ja, dalk is die raaisel van hierdie eerste storie nog nie opgeklaar nie. Wie sal weet, miskien lê die Engelse soldaat (as dit een van die Engelse moes wees in die Anglo-Boereoorlog) se geraamte iewers op die plaas in die storie...

My Oupa het sy hele lewe lank in die Wes-Transvaal gebly. Hy is op Christiana gebore, het mettertyd op Rustenburg beland waarvandaan hy en my Ouma Lichtenburg toe is en het lateraan op Vlakdrif en Syferbult duskant Magaliesburg gaan bly. Voor sy dood is hy terug Vlakdrif toe. Hy is in 1998 op hoë ouderdom oorlede. My Ouma is oorlede in 1987.

My Oupa-hulle het op 'n keer 'n plaas naby Olifantspoort gehad. Van dag een af het dinge net nie gevlot nie. Hulle het gedurig ongemaklik gevoel en my Ouma het hoog en laag gesweer dat sy van die begin af geweet het dit spook daar.

Eendag is my Oupa teen die rante uit op soek na edelstene. Hy het 'n paar stene tevore daar op die plaas uitgegrou en wou sy vermoede bevestig. Die hele tyd het hy egter gevoel daar is iets nie pluis nie. Dit is toe hy opkyk daar waar hy in die droë rivierbedding staan dat hy die Engelsman sien. "Hy was 'n Kakie, 'n Rooinek", het my Oupa my en my broer altyd vertel. Blykbaar het hy die Engelsman al verskeie kere gesien so uit die hoek van sy oog, maar dit was die eerste keer dat die gees direkte kontak gemaak het. Of my Oupa hom prontuit gevra het wat hy wil hê, kan ek nie onthou nie, maar die Engelsman het beduie dat hy hom moet volg. Eers wou my Oupa nie; hy was somtyds kort van draad en " vir wat sal die gees my nou so staat en pla!" het hy altyd verduidelik. Maar die teenwoordigheid van die Engelsman het hom ontsenu en hy het hom toe gevolg.

Tipies van sulke geeste is dat hulle altyd buite bereik blyk te wees. My Oupa moes vinnig loop om die Engelsman te volg. So in die loop merk hy dat daar hier en daar baksteen en klip pyle in die grond gepak lê en dat die Engelsman in die algemene rigting van die pyle beweeg.

Uiteindelik het die gees tot stilstand gekom. My Oupa het ook gaan staan. Toe wys die Engelsman na die grond. Eers verstaan my Oupa nie, maar nadat die gees herhaaldelik die gebaar herhaal, besef hy dat dié wil hê dat hy daar moet grawe. Hier raak die storie effens vaag omdat ek nie so goed kan onthou nie, maar ek weet dat my Oupa toe wel daar gaan grawe het. Hy het op 'n klomp gereedskap afgekom wat hy lank daarna nog gebruik het, maar kon nie verder grawe nie aangesien die grond te klipperig was en hy hulp nodig gehad het. Of die spook daarna weer aan hom verskyn het, weet ek nie, maar ek dink die raaisel is nog nie opgelos nie!

Terug na die Wit Hand