Die reuk van viooltjies...

Die volgende vertelling kry ek van Ann, al die pad van Australië af. Sy sê dit was dalk nie eens 'n spook nie, maar ek dink die teenwoordigheid van die reuk van viooltjies kan al genoeg rede verskaf om te glo dat daar iets bonatuurliks teenwoordig kon wees...

In die 1950's het ek as plattelandse twaalfjarige een skoolvakansie by my tante in Johannesburg gaan kuier. Sy was my ma se oudste suster en my niggie Marie was al in haar twintigs. Die huis was in 'n ou gedeelte van die stad.

Een aand sit ek by Marie in haar kamer terwyl sy regmaak om uit te gaan, en ek ruik die heerlikste geur, soos viooltjies.
"O, maar jou parfuum ruik lekker", sê ek, "wat is dit?"
"Ek ruik niks, dis seker maar jou verbeelding", was die antwoord, maar ek het gedink sy wou maar net nie sê watter parfuum sy gebruik nie. Seker bang ek koop ook daarvan, het ek ewe snipperig gedink.

Dit was eers jare later toe ons albei al getroud is en ons een middag langs mekaar sit by een van daardie familie-geleenthede ... ek dink dit was 'n ander niggie se troue ... toe vertel sy my die storie van die viooltjie-geur: So van tyd tot tyd het sy bewus geraak van die lekker geur in haar kamer, partymaal elke dag, dan weer bly dit weke lank weg, tot sy dit maar weer ruik. Soms in die oggend, soms in die middag of in die aand, daar was geen bepaalde tyd van die dag nie. Hulle het later maar opgehou soek na die oorsaak en net aangeneem dit is maar 'n reuk wat van buite inkom na gelang van hoe die wind is. Miskien van 'n fabriek of 'n kosmetiek-pakhuis, of selfs 'n blomtuin iewers in die omgewing

. Die naaste wat hulle aan 'n oplossing kon kom, was een aand toe mense kom kuier het met 'n klein dogtertjie. Die kind is later op Marie se bed neergesit om te slaap. Toe die ouers so teen elfuur vertrek en hulle die dogtertjie gaan wakker maak, sê haar ma: "...en jy was toe nie bang alleen in die vreemde kamer nie?"
"Ag, nee, Mamma", sê sy, "die tannie wat so lekker ruik het op die voetenent gesit en hekel tot ek aan die slaap geraak het".
Sy het by navraag vertel die tannie het 'n kappietjie en 'n lang grys rok aangehad. Sover ons weet het niemand anders ooit die "tannie" gesien nie! Sy was baie vaak toe hulle haar gaan neerlê het: dalk het sy maar die viooltjies geruik en die "tannie" gedroom! Ons sal nooit weet nie.

Niemand het ooit bang of eienaardig gevoel in Marie se kamer nie - wie die spook ookal is of was, was klaarblyklik 'n goedgesinde spook!
Ek weet nie wat verder van die huis geword het, of hy nog staan en of ander mense soortgelyke ervarings daar gehad het nie. My familie is in 1965 daar weg, en ek woon al baie jare in Australië en was nog nooit weer terug om te gaan kyk nie.

Nie 'n baie grillerige storie nie en miskien nie eers regtig 'n spook nie, wie weet?

* * * *

Terug na die Wit Hand