Met die intrapslag as't ware het hy my van die insident vertel wat hy beleef het so 'n 15 km buitekant Lichtenburg. Hy was saam met 'n gemeenskaplike kennis van ons en dan nog 'n familielid van dié persoon, en die driestuks was daar buite op 'n stuk grond waar voorheen 'n tronk was (of een of ander soort gevangenis, klink dit my). In ieder geval, dit was nog net die murasie wat daar was. Wikkie vertel hulle is daarheen want hy het vroeër verneem daar gebeur eienaardige dinge op dié stuk grond. Hy sien toe ook 'n gees voor hulle uitloop so asof dié hulle dalk kon lei iewers heen. Dit was egter nie die groot ding wat by hom bly vassteek het nie. Daar was 'n ander, baie meer onsmaaklike karakter wat hy as 'n donker, bose wese kon identifiseer. Hierdie gees, persoon of wat ons hom ook al kan noem, het hy vir die eerste maal gehurkend sien sit op die grond. Dié wese was baie gesteld op sy eie terrein, klink dit my, en het die drie van hulle bly agtervolg. Wikkie sê dit het 'n goeie 250 meter of so geneem voordat hy hierdie bose gees, en ook die gevoel, kon afskud.
Wikkie vertel my dan ook dat hy tussen hierdie twee tipes geeste onderskei, naamlik die ligte tipe (wat nou as "goeie" geeste deurgaan) en die donker, boosaardige tipe, soos die bogenoemde een. Hy sê ook vir my dat hy hulle in verskillende fases waarneem, soos 'n baie soliede soort spook aan die een kant, maar dan sien hy ook soms die wasige, rokerige tipe. Hy kry tipies 'n krieweling op sy arms en die res van sy lyf, wat gewoonlik verklap dat daar iets aan die gang is. Daar is ook die gebruiklike daling in temperatuur, 'n koue gevoel.
In so 'n geval sal hy baie onopmerklik begin rondkyk waar die eteriese wese hom bevind. Dit doen hy, sê hy, want die spoke kom baie keer agter dat hy die vermoë het om hulle raak te sien en hy vermy hierdie soort kontak met hulle. Hy sê hulle is geneig om geheg te raak aan jou as jy eers met hulle gepraat het, of op een of ander manier gewys het jy neem kennis van hulle. Dit is maar daarom dat hy hulle net bloot ignoreer.
Dan is daar die voorbodes. Hy vertel dat hy op 'n stadium in Sunny Park in Pretoria gebly het, en die huis het 'n lang, breë gang gehad. Een middag het hy in die sitkamer gesit en 'n doodskis het die vertrek binnegekom, op die doodsbaar. Hy sê hy moes eintlik opsyskuif om plek te maak vir die kis. Die kis was gedeeltelik oop en hy het sy swaer herken in die kis (wat op daardie stadium nog geleef het). 'n Maand later is die swaer toe oorlede, en hy sê die kis en die ruiker by die begrafnis het presies net so gelyk soos dié wat hy in die voorbode gesien het.
In 'n ander geval, wat ook in Pretoria afgespeel het, was daar 'n jong gesinnetjie wat in 'n huis ingetrek het terwyl die vrou swanger was. Sy het kort daarna geboorte geskenk aan 'n seuntjie, en so gebeur dit toe snags dat die kleintjie, tot drie maal in die verloop van die nag, gevind word in die sitkamer waar hy snoesig toegedraai gelê het op die rusbank, mooi gestut deur 'n kussing sodat hy nie kon afval nie. Telkens sou sy ouers hom maar terugvat na sy kinderwiegie, net om hom later weer in die sitkamer te vind. Dit lyk of daar 'n spook was wat graag die kleintjie wou ronddra en nie in die wiegie wou hê nie. Wat ook al die wese se ware bedoelings was, weet ons nie, maar daar was geen skade aan die kleintjie gedoen nie. Wikkie het kontak gehad met hierdie mense en hulle het hom oorgenooi, maar hy het egter geen spook kon sien daar nie.
Of hy al engele gesien het ? Nee, die naaste wat hy daaraan gekom het was so vyf jaar na sy ma se dood. Dit was die eerste wat hy haar na al die tyd weer gesien het, en die betrokke oggend word hy wakker en sien daar is 'n geweldige helder lig in die kamer. Sy ma het daar gestaan, gekleed in wit klere, omhul in 'n selfs sterker lig. Toe hy vra hoe dit met sy pa gaan, het sy geantwoord,"Dit gaan goed met ons almal". Hierna het sy net na agter beweeg en toe verdwyn.
Wikkie sê hy het al van kleins af die wesens gesien, en het my vertel hoe sy ouers agtergekom het hoe hy as baba gestaar het na een hoek van die vertrek, terwyl daar skynbaar niemand was nie. Dit sou in sy kinderjare ook gebeur dat hy byvoorbeeld 'n "oom" langs sy bed sou sien wat verdwyn het die oomblik as dié aan hom sou raak en Wikkie begin gil het.
Dit was onvermydelik dat ek die onderwerp van poltergeeste moes aanraak, en hier het Wikkie iets belangriks genoem. Daar is al baie gepraat oor die gebruik dat jy, met al die geharwar van poltergeeste, of goëlery soos ons dit ook in die volksmond ken, kookwater moet gooi daar waar jy sou dink die gees hom bevind. Wikkie sê jy kan nie sonder meer kookwater rondgooi nie, want die persoon wat die toordery beoefen het dalk 'n stukkie hare van een van jou kinders of familie wat hulle in die voorbereiding van die moeti (as ek nou die spelling reg het) gebruik het. Jy loop die gevaar om dan, op 'n indirekte wyse, neem ek aan, jou familie te verbrand instede van die skuldige party.
Daar was ook die spook wat in sy suster se huis gewoon het, blykbaar 'n jong kêrel met gekrulde rooi hare. Sy suster, wat nie oor die algemeen hierdie wesens kan sien nie, kon egter hierdie outjie sien. Hy was nogal taamlik kontant gewees, smaak dit my. Hulle sou vind dat hy lief was om al die potte en eetgerei uit te pak op die kombuisvloer. Verder was hulle ook die probleem met die kombuislig gehad. Hulle sou byvoorbeeld die lig aanskakel, maar nie vir lank kon afskakel nie, dan sou die spook dit weer aanskakel. Hierdie lig sou aanbly tot die rooikopspook dit weer wou af hê. Sy suster sou byvoorbeeld die sitkamer instap en hom sien sit op die rusbank, waarop sy maar sou terugdraai kamer toe.
Wikkie sê dat een spook 'n ruk lank vir hom gevolg het waar hy ook al gegaan het, al was dit ook nou waar op straat of in die huis. Hy reken dit moes sy beskermengel gewees het, want dit het eendag in die stad gebeur dat hy oor 'n besige straat geloop het en hy hom misgis het met 'n verkeerslig. Met die wat hy oor die straat loop, voel hy 'n geweldige stamp asof een hom van voor uit die pad druk, en hy val toe ook agtertoe. Groot was sy skok toe 'n voertuig reg voor hom verbyjaag. Hy reken vandag dit was hierdie beskermengel wat hom daar van 'n gewisse dood gered het.
Ten slotte was daar nog die insident wat hy beleef het tussen Ventersdorp en Klerksdorp. Hy het een aand op pad na Klerksdorp skielik 'n verstikkende reuk ervaar in die motor, sodanig dat sy oë getraan het en dinge werklik ongemaklik begin raak het. Hy beskryf die reuk as iets wat soos gebrande gras geruik het. Hy raak toe bewus van 'n teenwoordigheid en toe hy hom omdraai, sit 'n jongerige meisie met swart hare op die agterste sitplek. Hy vra haar toe maar niks en ry 'n goeie minuut of wat nog so met hierdie onverwagse passasier. Net so skielik as wat sy verskyn het, verdwyn sy toe weer, saam met die verstikkende reuk.