Die spookmotor naby Clanwilliam

Hier aan die einde van 1995 was ek in die Wes-Kaap gewees saam met my ouers, en ek het die een oggend saam met my tante gekuier in haar kombuis. So dwaal die rigting van die gesprek toe na die eienaardige ervaring wat haar man destyds gehad het duskant Clanwilliam.

Sy sê my oom, wat al in 1986 oorlede is, het hier in die vroeë jare sewentig, of dalk laat sestigs, een dag Kaap toe gery met van sy kollegas om daar 'n noodhulpkursus by te woon. Sy herinner my toe op hierdie punt daaraan dat my oom beslis nie van die ligsinnige soort was wat 'n storie uit sy duim sou suig nie. So het hulle dan die laatmiddag in die pad geval op pad terug na Vredendal.

Sy sê dit was hier in Clanwilliam se koers rond, op 'n punt waar die pad 'n besondere skerp draai maak, dat my oom en sy kollegas 'n motor voor hulle in die pad sien. Niks eienaardig daaraan nie, die ligte het binne in die kajuit gebrand so in die halfskemerte. Hulle snak toe na hulle asems toe die motor skielik die pad verlaat en in die laagtetjie langs die pad verdwyn.

My oom en sy kollegas het onmiddellik afgetrek van die pad af en, met die noodhulpkursus nog vars in hulle hoofde, loop ondersoek instel. Ek moet dalk hier verduidelik dat die stuk grond langs die hoofpad waarskynlik effens laer is as die pad self, met bossies en so aan. My tante sê hulle het loop soek in daardie skemerte, en nie soveel as 'n verdwaalde bout of moertjie gekry nie. Daar was nie eens die geluid van metaal wat afkoel nie.

Ek het lank sit en dink oor hierdie ervaring. Een moontlike verklaring is dat my oom en sy kollegas die spookmotor dalk onbewustelik geprojekteer het, en terselftertyd kon waarneem. Dit sou egter interessant wees as iemand na vore kan kom en vertel van soortgelyke ervarings, dalk is dié motor nou nog te siene daar naby Clanwilliam. Ek weet ook dat daar 'n ander spookmotor naby Klawer is op die N7, maar dit is 'n baie ou motor.

Terug na die Wit Hand