Spook in 'n generatortrok

Een van my pa se vorige bestuurders, 'n mnr. Oosthuizen, het die volgende storie vertel. Sy broer, wat intussen oorlede is, het destyds by die SAUK gewerk as kameraman. So was sy broer op 'n stadium op vakansie gewees in Durban en het met die terugkomslag in Johannesburg gehoor dat hy 'n generatortrok moes deurvat na Walvisbaai, nog dieselfde dag.

Hy sê sy broer was moeg, maar hy kon ook nie anders nie. Hy val toe met hierdie trok, wat seker gebruik word vir die opwekking van elektrisiteit, in die pad. Met die ryery het hy erg vaak gevoel en moes hard baklei teen die slaap.

Hier in Upington se omgewing rond het hy byna weggedommel en word toe bewus van 'n persoon wat hier langs hom sit. Vir proviand het hy 'n koelboks saamgeneem met kos, en so sit hierdie man langs hom met die boks en trommel 'n bekende kougomadvertensie se wysie uit op die boks. Met hierdie bewuswording skrik hy hom geheel en al wakker, en daar verdwyn die persoon toe.

Hy sê dié ding het 'n paar maal gebeur. Nes hy wil begin wegdommel, dan sit hierdie vreemde passasier langs hom en trommel op die koelboks. Hy besef toe later nou sal hy eers moet stop en vars lug skep, wat hom die wêreld se goed gedoen het. 'n Entjie verder op sy roete stop hy op 'n dorpie waar hy twee bruinmans raakloop en bied hulle 'n geleentheid verder aan. Toe hy die passasiersdeur van die trok oopmaak, bedank die twee die aanbod en klim toe agter op die trok. Dit was hierso, sê hy, dat hy besef het die vreemde passasier is ook sigbaar vir die ander mans.

Uiteindelik kom hy by Walvisbaai aan waar die span 'n dokumentêre rolprent moes maak. So tussen die verrigtinge deur het mnr. Oosthuizen se broer vertel van sy rare ervaring, waarna sy kollegas hom ingelig het oor die feit dat dit wel die spook van 'n vorige werknemer was van die SAUK. Dié persoon het dan ook inderdaad verongeluk op dieselfde roete wat hy dié dag gery het.

Later van jare is hierdie ervaring van mnr. Ooshuizen vertel op die radio, en soos dit baie keer gaan, het die ouers van die gestorwe persoon ingeluister en hulle seun herken. Hulle het met mnr. Ooshuizen in kontak gekom en hom uitgevra oor wat hulle seun die betrokke dag alles gesê en gedoen het.

Hierdie soort spook is nie uniek nie. 'n Mens hoor baie van soortgelyke gevalle waar mense beskerm word deur die inmenging van die geesteswêreld. So het mnr. Oosthuizen dan op sy roete na Suidwes-Afrika hulp gehad van 'n kollega, en is 'n moontlike ongeluk voorkom.

Terug na die Wit Hand