Ek het 'n paar piesangs loop haal en 'n dik skyf kaas vir die wag gesny. Ons het toe aan die gesels geraak op die kombuis se agterstoep en my gespreksvennoot se gedagtes het 'n wye draai gemaak. So vertel hy my van sy ervaring wat hy, nie te lank gelede nie, in een van die ablusies daar naby gehad het.
Hy sê hy het die aand ook van sy wagstaanbeurt gekom en moes toe eers 'n draai maak by die ablusie. Dié wat al by Bethlehem was, weet dat dit daar bitterlik koud kan raak in die winter, en hierdie aand was ook geen uitsondering nie. Só gaan staan hy dan toe by een van die urinale om die nodige te verrig.
Nou moet ek eers verduidelik dat ons by hierdie ablusies urinale gehad het wat twee-twee na mekaar gekyk het. Die wag vertel dat hy so oor sy skouer loer en sien dat daar nog 'n wag agter hom was, waarop hy hom toe groet. Die tweede wag het heel natuurlik die groet beantwoord. My gespreksvennoot sê hy het weer teruggedraai na sy urinaal, maar dit was of iets nie lekker is nie.
Hy draai hom weer na die tweede wag en sou toe sien hoe die kêrel so 'n entjie sweef bo die grond. Nodeloos om te sê, die eerste wag maak hom toe baie vinnig uit die voete. Ons het hierdie gebeurtenis daar op die stoep bespreek en maar tot die gevolgtrekking gekom dat dit 'n troep moet wees wat moontlik op die grens gesterf het.
Sover as wat dit myself aangaan moet ek erken dat ek nooit só iets ervaar het tydens my jaar en 'n half wat ek in Bethlehem gestasioneer was nie. Dit is wel so dat die ablusie maar 'n koue, onsmaaklike plek was om te besoek in die klein uurtjies van die nag. Daar is tog iets wat ek moet noem, en dit is dat die pottekamer, net langs die kombuis, my altyd effens laat ril het as ek saans daardeur geloop het. Ek sou later by die swart vroulike werkers hoor dat 'n troep hom agter in die pottekamer opgehang het aan die daksparre voordat die plafon ingesit is.