'N PAAR OULIKE WEBWERWE

THE SHADOWLANDS

Hierdie was die eerste webwerf wat ek op 'n gereelde basis besoek het (en nog steeds besoek). Dit het 'n yslike argief vol spookstories en daar is ook fotos in ander afdelings. Die spookklanke is beslis die moeite werd om te besoek. Dave Juliano is 'n kêrel wat hou daarvan om sy aande in spookhuise deur te bring, maar dit lyk nie of hy en sy span al te veel van die anderwêreldse inwoners gevang het nie.

CASTLE OF SPIRITS

Hierdie webwerf word deur 'n Australiese dame hanteer en hier is ook 'n baie skaflike versameling spookstories. Die formaat is effens meer toeganklik as dié van Shadowlands, maar dan is daar dinge waarmee ek moet verskil, soos die dame se benadering tot onderwerpe soos die Ouija-bord.

JEFF RENSE

Ek geniet hierdie man se webwerf (en program) sommer baie, en ek dink u sal verstaan hoekom. Hier is nie net die "gewone" rare dinge soos vliëende pierings en wit gedaantes nie, maar ook allerhande brokkies nuus van reg rondom die wêreld. Dinge wat andersins verby ons sou gegaan het, maar dalk 'n tweede kykie werd is.

MIKE JARMUS

Ek het so 'n idee hierdie radioprogram word nie meer uitgesaai nie, of hulle het opgehou om hierdie webwerf op datum te hou. Hier is in elk geval pragtige opnames beskikbaar, en soos hulle tereg sê, dis beslis die moeite werd om te luister na Al Bielek se vertelling oor "Project Rainbow"(ook bekend as die Philidelphia projek).

THE CUTTING EDGE

Hierdie is 'n Christelike webwerf met 'n formaat wat baie lyk soos dié van Jeff Rense s'n. Hier is artikels wat u hare sal laat rys, vertellinge wat betrekking het op die eindtyd en dies meer. Dit is, soos baie van hierdie webwerwe, ook op 'n radioprogram gebaseer.

GHOSTSTUDY.COM

Hierdie webwerf spog met 'n pragtige reeks spookfoto's, en alhoewel die meeste van die "kolk"-tipe is, is daar 'n paar foto's wat my sommer lekker laat ril het. Kyk bv. na die een getiteld "Crowd Demons". 'n Mens kan lank sit en wonder oor die kiekies wat sommige mense neem.

GHOSTPIX.COM

Nog 'n webwerf met pragtige spookfoto's. Dit is veral die spookrolprentjies wat die aandag trek en ek het dit goed gedink om een daarvan , in die DivX-formaat, op my webwerf in te sluit. Dit is tydens die spookjagters (as ons dit so in Afrikaans kan vertaal) se besoek aan 'n ou skool geneem. Daar is ook onder meer artikels oor die elektroniese stemverskynsel (EVP) en stories om te lees.

CRISIS IN SOUTHERN AFRICA
Hierdie webwerf kan allermins deurgaan as 'n "oulike" webwerf, maar ek voel gedwonge om dit hier te plaas vanweë die nimmereindigende vlaag plaasaanvalle waaronder ons boere gebuk gaan. Jan Lamprecht (wat 'n ruk gelede 'n hoogs interessante boek oor die hol aarde-teorie die wêreld ingestuur het) maak deesdae voorbrand vir hierdie saak onder die internasionale gemeenskap. Daar is ook 'n besprekingsforum waar u u standpunt kan stel. Wees gewaarsku, daar is foto's hier te sien wat u diep gaan ontstel, maar besoek dit nogtans.

TOM SLEMEN

Ek het 'n hele rukkie gelede op hierdie man se webwerf afgekom en voel verplig om ook hier melding te maak daarvan. Tom Slemen is 'n Engelsman wie se stories hoofsaaklik draai rondom die stad Liverpool, maar daar is ook 'n skakel op sy werf wat te doen het met eienaardige gebeurtenisse in Amerika. Hier is heelwat stories, miskien nie so veel as wat die geval is by bostaande webwerwe nie, maar Tom is ook 'n skrywer van formaat en die klem val hier op kwaliteit. Daar is baie nuwe materiaal hier, iets wat my hart sommer baie verbly. Jy sal hier stories raakloop wat te make het met grillerige monsters, tydverskuiwings, voorbodes, tranetrekkers oor verlore liefdes en, les bes, spoke. Kortom, 'n werf wat jou sommer 'n hele tydjie met heerlike leesgenot kan vermaak.

WEIRDRESEARCH.COM

Soms ontdek ek per ongeluk 'n webwerf terwyl ek eintlik met 'n ander soort soektog doenig is, en so was dit ook met die bostaande webruimte. Ek gaan nie te veel uitbrei oor wat alles hier te sien is nie, hier word veral gefokus op VVV's en onverklaarbare dinge. Die spookfoto's is taamlik bekend en alhoewel dit lyk of dit net nog 'n werf is met foto's en artikels wat geleen is by ander webtuistes, was daar een item wat my nogal laat regop sit het: 'n besonder duidelike video van 'n spookseuntjie. Ek sluit die skakel hier in vir dié van u wat die rolprentjie (in Quicktime-formaat) dadelik wil aflaai. Die storie wat hieraan gekoppel word het my laat besef dat daar feitlik geen kans van gekskeerdery hier bestaan nie. Kontak my as u nie regkom met die video nie, ek kan hom ook in avi-formaat stuur vir u.

PARANORMAL ABOUT.COM

Hier is nou een van daardie webwerwe wat maak dat mens net nog moeiliker opstaan van die rekenaar af. Ek lys net kortliks 'n paar van die items wat hier te vinde is: telekinese, tydreise (het iemand 'n beter woord vir "time travel" ?), die hol aarde-teorie, lewe na die dood, engele en demone, omgekeerde spraak en, natuurlik, spoke. Daar is honderde skakels na ander webadresse vir diegene wat nog meer wil lees, ek moet sê dat hulle spookfoto-afdeling nie sleg vergelyk met bv. Ghoststudy s'n nie. As jy dus 'n internetverslaafde is, maak 'n groot kan koffie of tee, gryp 'n blik vol beskuit of maak 'n meterhoë berg toebroodjies en begin lees !

AFRICAN GHOST HUNTING SAFARIS

Hier is 'n baie oulike versameling van klassieke Afrikaanse spoke in engels. Die skrywer doen dit in 'n feitelike styl, maar dit bly nogtans lekker leesgenot. Maak 'n punt daarvan om veral die stukke oor die Kasteel en ou huise in die Kaap te lees. Kaapstad en omgewing kan kompeteer met die beste in die wêreld as dit by die bonatuurlike kom.

SIENER.CO.ZA

Hierdie Afrikaanse webwerf stel dit hom ten doel om mense te waarsku teen, onder andere, die planeet Nibiru (ook bekend as planeet X). Sover het ek nog nie alles op hierdie webwerf gelees nie, maar dis interessant om te noem dat hierdie planeet (of ten minste sy nasleep) na alle waarskynlikheid die "groot ster wat soos 'n fakkel brand" van Openbaring 8 moet wees. Die waarskuwings van Siener van Rensburg en soortgelyke profete kan ook nie ligtelik opgeneem word nie.

FARSHORES

'n Webwerf soortgelyk aan Paranormal.com, veral gemeet aan die onderwerpe wat hier aangebied word. Beslis 'n besoek werd.

ORFFYREUS EN EWIGDURENDE BEWEGING

Orffyreus, gebore as Johann Bessler, het sowat drie eeue gelede al daarin geslaag om 'n masjien te bou wat werk kan verrig sonder dat dit nodig is om energie toe te voeg aan die masjien. Sy verhaal is een van triomf en tragedie omdat hierdie sonderlinge man uiteindelik na sy graf toe is met die geheim. Daar is nog 'n paar ander webwerwe op die net wat sy wiele en hierdie opwindende onderwerp in die algemeen beskryf, ek dink hierdie een vertel sy storie die beste. Is daar mense wat ook só iets wil bou ? Ek self probeer nog...

BEENMUSIEK

Nee, ek verwys nie na die "musiek" wat jou litte maak as dit klap nie maar na 'n metode wat jongmense (en selfs middeljariges) destyds gebruik het in die kommunistiese lande om na westerse musiek te luister. Hulle het opnames gesny op gebruikte X-straalplate en dit versprei in o.a. Rusland waar die musiek van Elvis en die Beatles nie toegelaat is nie. Die kwaliteit was blykbaar nie van die beste nie maar die jong Russe kon darem ten minste bietjie "litte losmaak" !

Die "Breakthrough"-opnames (EVP - Electronic Voice Phenomenon)

So op die onderwerp van plate, dalk is daar van julle wat destyds, soos ek self, die tydskrifte in die reeks van "The Unexplained" gekoop het. Julle sal onthou dat daar 'n plaatjie, of meer spesifiek, 'n sogenaamde flexidisk saam met die eerste twee tydskrifte ingesluit was. Die opname het 'n keur bevat van verskillende spookstemme (as ek dit só kan uitdruk) wat deur 'n dr. Konstantin Raudive opgeneem is en die plaatjie het my sommer baie geïnteresseer destyds. Ek het die plaatjie later verloor maar was verheug om te kon afkom op die bostaande webwerf waar die opnames in mp3-formaat geplaas is. Laai hulle gerus af en laat jou hare weer goed rys vir 'n slag !

GHOSTSTORIES.WS

Ek het die afgelope ruk dinge so bietjie laat slaplê wat betref spookstories en dies meer maar dit was besonder opwindend om op hierdie webtuiste te kon afkom. Hier is spookfoto's, lesers se stories en dan veral 'n hele rits spookvideos. Die foto's en stories is heel skaflik maar die videos het my sommer goed hoendervleis gegee ! Nou ja, mens moet maar 'n bietjie skepties wees as jy na die videos kyk, hier en daar kan dit geredeneer word dat 'n video gedokter kan wees. Wat die res betref...hou dit maar liewers vir die helder lig van die dag of sorg dat jy 'n paar mense rondom jou het as jy daarna kyk ! Ek het 'n hele paar keer oor my skouer moes loer na 'n rukkie !

YOURGHOSTSTORIES.COM

Hier is sommer 'n ontsaglike aantal spookstories op hierdie webtuiste wat jou baie plesier sal verskaf. Wat 'n mens ook tref is dat jy die stories kan sorteer volgens verskillende lande. 'n Mens kan ook kommentaar lewer op die stories.

Terug na die Wit Hand