'n Paar nuttige programme

Hier volg 'n paar skakels na gratis programme wat ek in die verlede afgelaai het vanaf die internet.

WINZIP
Een van daardie "moet-hê"-programme as jy hou daarvan om allerhande sagteware en nog wat af te laai van die internet. Winzip, so lyk dit my, het ontstaan uit die ou PKZIP wat destyds uit DOS gewerk het, maar nou met 'n baie nuttige Windows-koppelvlak spog. Daarby het dit 'n uiters nuttige regterkliekfasiliteit waarmee jy baie vinnig vouers en lêers mee kan verdig.

SCANNER

Een van die oulikste (en baie nuttige) gratis programme wat ek seker nog raakgeloop het op die internet. Dit vertoon die vouers en lêers op jou hardeskyf op 'n grafiese wyse, met sirkelsektore wat in verhouding staan tot die grootte van elke vouer. Daar is fasiliteite beskikbaar om bv. lêers en vouers uit te wis en as jy die muis beweeg oor die sektore word die grootte outomaties getoon. Definitief 'n moet as jy met groot lêers werk of 'n klein hardeskyf het en gereeld onderhoud moet doen op jou hardeskyf.

VIRTUAL DUB

Virtual Dub is 'n uiters nuttige program om avi- en mpg-rolprente mee te redigeer. Dit beskik oor die mees basiese funksies soos knip en plak, asook 'n reeks filters om die beeld skoon te maak, die grootte van die raampie te verander en nog 'n klomp ander funksies. Dan kan jy ook 'n reeks "bitmap"-prentjies van die rolprent maak, of die klankbaan stroop as 'n wav-lêer.

COBIAN BACKUP
Dié van u wat nogal baie met u rekenaar werk sal weet hoe dit voel as daar skielik 'n probleem opduik en 'n klomp noodsaaklike inligting eensklaps verdwyn. Ek hou daarvan om byvoorbeeld my eposadresse, internetgunstelinge en sulke goed gereeld te rugsteun, maar dit kan nogal 'n langdradige proses wees om te gaan rondkrap in allerhande versteekte vouers op die hardeskyf. Na ek 'n paar programme probeer het wat nie juis in my behoeftes voldoen het nie, was ek verheug om te kon afkom op Cobian Backup. Hierdie program kan op 'n gereelde tydbasis wat jy self kies, jou kritieke inligting outomaties (of ook op jou bevel) rugsteun, en selfs verdig as jy so verkies. Dit kan afsonderlike lêers asook hele vouers rugsteun en dan kan jy natuurlik kies wanneer hierdie proses moet plaasvind.

MAXLISTER, CATHY, DISCLIB en DIRECTORY LISTER

Die eerste drie programme kan die lewe vir 'n mens aansienlik vergemaklik as jy 'n groot versameling CD's vol data of selfs gewone klank-CD's het en nie ure wil vermors as jy op soek is na 'n lêer nie. Die fokus val natuurlik veral op die verwyderbare media soos natuurlik CD's en sogenaamde "zip"-aandrywers maar selfs ook hardeskywe. Soms wil ek soek na 'n lêer wat iewers gaan wegkruip het op my hardeskywe (en hulle is mos geneig om dit te doen, nie waar nie ?) en dan kan ek dit baie vinnig opspoor uit 'n beeld wat ek vooraf van die hardeskywe gemaak het, selfs vinniger as uit Windows Explorer. Directory Lister val egter nie heeltemal in dieselfde kategorie as die eerste drie nie aangesien dit nie inligting opspoor nie, maar dit kan wel 'n baie netjiese, geformateerde uitdruk (hetsy na 'n lêer of 'n drukker) lewer van enige vouer of 'n hele hardeskyf se inhoud. Ideaal as jy by iemand wil spog oor al die liedjies wat jy in 'n MP3-vouer het !

ANIM8OR , BLENDER , FREECAD , SKETCHUP en DESIGNSPARK MECHANICAL

Anim8or is ideaal vir diegene wat hulle eerste treë wil waag in die 3D-arena. Aanvanklik het ek gedink dat daar nie veel onder die skynbaar eenvoudige gebruikerskoppelvlak skuil nie, maar was my verbasing destyds groot toe ek dieper begin delf het en gevind het dat mens betreklike komplekse voorwerpe en ook rolprente met hierdie klein programmetjie kan maak.
Blender neem dinge 'n hele entjie verder as Anim8or en weereens is dit opwindend om te kan sê dat hierdie program, wat byna op dieselfde tegniese vlak as kommersiële programme soos Maya en Autodesk se 3D Studio is, heeltemal gratis is om af te laai en te gebruik. Met hierdie program kan jy ook ingewikkelde voorwerpe skep en rolprente maak soos met Anim8or. Blender geniet goeie ondersteuning op die internet en daar is sommer 'n mooi versameling tutoriale beskikbaar op Youtube.
FreeCAD , nog 'n gratis program, is meer gerig op diegene wat geïnteresseerd is in die sg. CAD-arena en tegniese ontwikkeling van onderdele doen. FreeCAD het egter nie die animasiefasiliteit wat Blender en Anim8or het nie maar kan wel veel meer komplekse ontwerpe hanteer as die laasgenoemde twee programme. Gelukkig is dit moontlik om, byvoorbeeld, 'n lêer uit FreeCAD om te skakel na 'n formaat wat Blender kan akkommodeer en dit dan weer in Blender verder te verwerk, as jy dit so begeer.
Sketchup se basiese gebruikerskoppelvlak is sonder fieterjasies maar tog kan mens baie netjiese werk daarmee doen. Jy het nog steeds die opsie om voorwerke van die grond af te ontwikkel soos met Blender en Anim8or maar dit gebeur op 'n veel meer intuïtiewe manier so ver as wat dit oor die basiese invoermetodes gaan, vergeleke met Blender waar jy 'n swetterjoel sleutelbordinstruksies moet baasraak voordat jy taamlik bedrewe kan voorkom. Dan is daar die baie opwindende Sketchup "warehouse", 'n geweldige groot versameling van 3D-voorwerpe wat mens gratis kan aflaai en gebruik (solank as wat jy natuurlik erkenning gee aan die skeppers daarvan) en natuurlik kan jy jou eie pogings ook oplaai.
Designspark Mechanical is die nuutste toevoeging tot die lysie programme wat ek gereeld mee werk. Dit is soortgelyk aan FreeCAD maar ek het dit baie makliker onder die knie gekry. DSM hanteer ook in die algemeen vir my beter as FreeCAD. Interessant genoeg kan lêers van Sketchup in- en uitgevoer word uit DSM vir verdere verwerking. Sketchup, in sy gratis formaat, het bv. nie boolse fasiliteite nie terwyl DSM dit lag-lag kan hanteer. DSM is heeltemal gratis en ideaal vir mense wat meer tegniese dinge ontwikkel vir byvoorbeeld 3D-drukwerk. Op Youtube is daar nog nie so 'n groot ondersteuningsbasis nie maar ek kan beslis die video's van mense soos Jim Taylor en Armando Oliveira aanbeveel as jy belangstel om hierdie oulike CAD-program bietjie te toets.

TASKBAR ACTIVATE
Soos dit in die lewe gaan, is dit soms die klein dingetjies wat 'n groot verskil kan maak. "Taskbar activate" onderstreep hierdie feit deeglik. Dit stel jou in staat om jou volle skerm te kan gebruik maar nog steeds volle toegang tot jou taakstaaf (as ek dit nou reg vertaal het) te hê. Taskbar Activate laat jou taakstaaf onsigbaar aan die onderkant (of elders, as jy só verkies) van jou skerm lê terwyl jy dan die volle grootte van jou monitor se skerm kan gebruik vir jou programme. As jy dan egter iets wil kliek op jou taakstaaf, is dit bloot 'n kwessie van linkskliek aan die onderkant, en dan wip jou taakstaaf weer op. Wanneer jy met 'n program besig is en nie wil hê dat die taakstaaf moet opwip as die muiswyser per ongeluk sou huiwer oor die onderste rand van die skerm nie, kan jy 'n tydwaarde verstel in Taskbar Activate wat verseker dat die taakstaaf slegs na 'n sekere tydsinterval, van 'n breukdeel van 'n sekonde tot etlike sekondes, sal opwip.

LISTARY
Ek het destyds 'n programmetjie gebruik met die naam "Dialogbox Assistant" wat baie nuttig te pas kom as jy iemand is wie gereeld rondspring tussen vouers en lêers op jou rekenaar se hardeskyf. Dialogbox Assistant werk nog goed onder Windows XP en die ouer weergawes van Windows maar die meeste van ons werk deesdae met Windows 10 en so aan. Ek moes dus weer bietjie rondsnuffel op die internet om iets soortgelyks te kry en ek was dankbaar om uiteindelik iets te kry wat goed werk vir my, nl. Listary. Kom ek gee 'n tipiese voorbeeld: jy kyk bv. na 'n webtuiste en besluit om 'n prentjie daar af te laai in 'n vouer vol snaakse prentjies. Nadat jy dan regs gekliek het en jou tipiese Windows-boksie opgekom het kliek jy met die middelste knoppie van jou rekenaarmuis en Listery neem jou daarvanaf verder na jou mees onlangse vouers waaruit jy kan kies. Netnou wil jy dalk 'n stukkie musiek aflaai, herhaal die proses en kies nou weer 'n ander vouer waar jy argumentshalwe musieklêers bêre.

STARTUPMONITOR
Ek waag dit nie deesdae op die internet sonder hierdie programmetjie nie. Startupmonitor is nie 'n antivirusprogram as sulks nie, maar dit verrig 'n uiters noodsaaklike funksie deur alle bose (en ook minder bose) prosesse en programme dop te hou wat 'n inskrywing in die "startup"-vouer wil maak. Dit waarsku jou as só iets gaan gebeur en jy het dan die keuse om dit toe te laat of te voorkom. Dit beteken natuurlik nie dat jy jou antivirusprogram nou kan weggooi nie, maar jy sal wel gou agterkom hoe nuttig Startupmonitor kan wees.

PAPERBAK

Paperbak is 'n programmetjie wat 'n baie aanskoulike metode verskaf om rekenaarinligting te stoor. Dit skakel data om in 'n datamatriks wat as 'n bitmap gestoor kan word op jou hardeskyf en dan kan hierdie prentjie van jou data gedruk word op papier. As jy die inligting wil herwin keer jy net die proses om en skandeer die matriksinligting op die papier en jaag die bitmap weer deur die program. As jy beskik oor 'n hoë-kwaliteit drukker en skandeerder kan jy so om en by 500 kilogrepe op 'n A4-bladsy bêre. Weliswaar nie die ideale metode om bv. jou onlangse vakansievideo's te rugsteun nie, maar beslis iets wat jou vriende se oë gaan vang. Blykbaar is papier se lewensduur baie langer as vandag se DVD's en CD-ROMs en hierdie feit gee Paperbak tog 'n mate van geloofwaardigheid. Sorg maar net dat jy oor so 'n honderd jaar van nou af nog 'n afskrif het van Paperbak op jou hardeskyf, en verkieslik nie op papier nie...

ICE ECC
ICE-ECC is 'n uiters nuttige program vir diegene wie veral gereeld data brand op CD's of DVD's. Deesdae weet ons dat hulle nie vir (byna) ewig hou soos destyds geadverteer is nie en ons ken daardie frustrasie wanneer 'n skyf nie meer die data daarop behoorlik kan deurgee nie. Waarom is ICE-ECC dan so 'n aantreklike opsie vir my ? Dit is 'n baie ekonomiese vorm van datarugsteuning en korrupsievoorkoming. Met ICE is dit nie nodig om 'n hele CD of DVD oor te brand en as rugsteunafskrif te bêre nie. Dit gebruik die bekende en kragtige Reed-Solomonkodes en as sulks hoef jou ECC-rugsteunlêer net 'n breukdeel van jou data se totale volume te wees. (Ironies genoeg is hierdie kodes en prosesse reeds geïmplementeer in skrywers/lesers en dit het my al baie jare gepla dat daar nog nooit programme was wat in die agtergrond kon hardloop en jou waarsku as 'n skyf erg agteruit begin gaan het nie. Ons is oor die algemeen salig onbewus van hoe hard die prosesseerders hardloop in die agtergrond om foute reg te maak op 'n skyf, selfs al lyk dit met die oog nog perfek.) Kom ek gee 'n voorbeeld hoe ek die program gebruik. Ek brand deesdae sowat 4.25 gigagrepe se data op 'n DVD en die restant word opgeneem deur 'n ICE-ECC-foutverbeteringslêer. As ek miskien oor 'n jaar of vyf weer die skyf lees en daar is data wat nie gelees kan word nie, trek ek eenvoudig alles af wat ek kan, insluitende die foutverbeteringslêer. Ek draf die program en siedaar, afhangende van hoe erg die skade is aan die skyf, kan ICE-ECC jou oorspronklike data volkome herstel ! Soms is dit nodig om 'n program soos Unstoppable Copier te gebruik, my ervaring is dat mens nog baie data kan herwin op so 'n beskadigde skyf. Dit maak ook nie saak van watter aard die skade is nie, dalk 'n bietjie hier, 'n bietjie daar, hoofsaak is, solank die persentasie verlore data nie meer is as die persentasiefaktor waarop jy aanvanklik besluit het nie (sê maar 10%) kan jy alles volkome herstel. (Vir diegene wat meer wil weet oor foutverbetering op CD's en DVD's, kyk gerus na hierdie video op Youtube: https://www.youtube.com/watch?v=LA13myth1ys&t=515s )

______________________________________

Bostaande skakels was almal aktief op 11/01/2005. Kontak my gerus as u vind dat dit nie meer werk nie, of as u sukkel om die programme af te laai.

Terug na die Wit Hand