Free Web Site - Free Web Space and Site Hosting - Web Hosting - Internet Store and Ecommerce Solution Provider - High Speed Internet
Search the Web

'n Paar nuttige programme

Hier volg 'n paar skakels na gratis programme wat ek in die verlede afgelaai het vanaf die internet.

WINZIP
Een van daardie "moet-hê"-programme as jy hou daarvan om allerhande sagteware en nog wat af te laai van die internet. Winzip, so lyk dit my, het ontstaan uit die ou PKZIP wat destyds uit DOS gewerk het, maar nou met 'n baie nuttige Windows-koppelvlak spog. Daarby het dit 'n uiters nuttige regterkliekfasiliteit waarmee jy baie vinnig vouers en lêers mee kan verdig.

SCANNER

Een van die oulikste (en baie nuttige) gratis programme wat ek seker nog raakgeloop het op die internet. Dit vertoon die vouers en lêers op jou hardeskyf op 'n grafiese wyse, met sirkelsektore wat in verhouding staan tot die grootte van elke vouer. Daar is fasiliteite beskikbaar om bv. lêers en vouers uit te wis en as jy die muis beweeg oor die sektore word die grootte outomaties getoon. Definitief 'n moet as jy met groot lêers werk of 'n klein hardeskyf het en gereeld onderhoud moet doen op jou hardeskyf.

WEBFERRET

Beslis 'n program waarsonder jy nie maklik kan klaarkom as jy gereeld soek na inligting op die internet nie. Webferret span verskeie soekmasjiene in om in 'n japtrap webadresse vir jou te lewer. Die nuutste weergawe het ook die eienskap dat dit 'n ekstra kolom het met die waarskynlikheid van die inligting waarna jy soek, persentasiegewys.

VIRTUAL DUB

Virtual Dub is 'n uiters nuttige program om avi- en mpg-rolprente mee te redigeer. Dit beskik oor die mees basiese funksies soos knip en plak, asook 'n reeks filters om die beeld skoon te maak, die grootte van die raampie te verander en nog 'n klomp ander funksies. Dan kan jy ook 'n reeks "bitmap"-prentjies van die rolprent maak, of die klankbaan stroop as 'n wav-lêer.

DLEXPERT
DL Expert is 'n ongelooflike vinnige aflaainutsprogram. Die verbruikerskoppelvlak is dalk effens lomper as bv. dié van Net Vampire, maar ek was verstom toe ek die program vir die eerste maal gebruik het. Die beginsel waarop dit werk is as volg: die lêer wat jy aflaai word in sg. "threads" opgebreek en hierdie stringe kom dan gelyktydig by jou modem aan. Jy kan soveel as 'n 100 stringe aanvra, en die program is intelligent genoeg om van een skakel na 'n volgende te kan spring indien nodig. Dit kan natuurlik ook grafika en webbladsye aflaai wat andersins bitter lank sou neem om deur te kom. Ek beveel hierdie program selfs bó Download Accelerator aan.

COBIAN BACKUP
Dié van u wat nogal baie met u rekenaar werk sal weet hoe dit voel as daar skielik 'n probleem opduik en 'n klomp noodsaaklike inligting eensklaps verdwyn. Ek hou daarvan om byvoorbeeld my eposadresse, internetgunstelinge en sulke goed gereeld te rugsteun, maar dit kan nogal 'n langdradige proses wees om te gaan rondkrap in allerhande versteekte vouers op die hardeskyf. Na ek 'n paar programme probeer het wat nie juis in my behoeftes voldoen het nie, was ek verheug om te kon afkom op Cobian Backup. Hierdie program kan op 'n gereelde tydbasis wat jy self kies, jou kritieke inligting outomaties (of ook op jou bevel) rugsteun, en selfs verdig as jy so verkies. Dit kan afsonderlike lêers asook hele vouers rugsteun en dan kan jy natuurlik kies wanneer hierdie proses moet plaasvind.

MAXLISTER, CATHY, DISCLIB en DIRECTORY LISTER

Die eerste drie programme kan die lewe vir 'n mens aansienlik vergemaklik as jy 'n groot versameling CD's vol data of selfs gewone klank-CD's het en nie ure wil vermors as jy op soek is na 'n lêer nie. Die fokus val natuurlik veral op die verwyderbare media soos natuurlik CD's en sogenaamde "zip"-aandrywers maar selfs ook hardeskywe. Soms wil ek soek na 'n lêer wat iewers gaan wegkruip het op my hardeskywe (en hulle is mos geneig om dit te doen, nie waar nie ?) en dan kan ek dit baie vinnig opspoor uit 'n beeld wat ek vooraf van die hardeskywe gemaak het, selfs vinniger as uit Windows Explorer. Directory Lister val egter nie heeltemal in dieselfde kategorie as die eerste drie nie aangesien dit nie inligting opspoor nie, maar dit kan wel 'n baie netjiese, geformateerde uitdruk (hetsy na 'n lêer of 'n drukker) lewer van enige vouer of 'n hele hardeskyf se inhoud. Ideaal as jy by iemand wil spog oor al die liedjies wat jy in 'n MP3-vouer het !

GMAX en ANIM8OR
Ek was nog altyd gaande oor programme waarmee 'n mens driedimensionele voorwerpe mee kan skep en gevolglik was ek bly om te hoor dat die maatskappy Discreet, wat die vervaardiger is van die toonaangewende 3D Studio Max, nou 'n gratis weergawe het van hierdie program. Gmax kan ook as't ware "Max Lite" genoem word aangesien sekere funksies van Max nie hier beskikbaar is nie, maar dit bied vir die nuweling nog steeds 'n magdom van moontlikhede. Dit kom eintlik tot sy reg vir diegene wat graag hulle eie karakters ens. wil skep vir speletjies, ek gebruik dit tans om vliegtuie te maak vir die bekende Microsoft Flight Simulator. Aangesien Gmax nie sy eie beeldingsmasjien (ek hoop dis 'n goeie vertaling vir "rendering machine") het nie is dit 'n goeie idee om die nodige sagteware hier af te laai. Anim8or steek ook glad nie sleg af teenoor Gmax nie en is ideaal vir diegene wat hulle eerste treë wil waag in die 3D-arena. Aanvanklik het ek gedink dat daar nie veel onder die skynbaar eenvoudige gebruikerskoppelvlak skuil nie, maar was my verbasing groot toe ek dieper begin delf het en gevind het dat mens baie komplekse en gedetailleerde voorwerpe met hierdie klein programmetjie kan maak. Wees gewaarsku, dis nogal 'n stryd om die basiese begrippe baas te raak, maar gelukkig is daar al heelwat tutoriale beskikbaar op die internet.

TASKBAR ACTIVATE
Soos dit in die lewe gaan, is dit soms die klein dingetjies wat 'n groot verskil kan maak. "Taskbar activate" onderstreep hierdie feit deeglik. Dit stel jou in staat om jou volle skerm te kan gebruik maar nog steeds volle toegang tot jou taakstaaf (as ek dit nou reg vertaal het) te hê. Taskbar Activate laat jou taakstaaf onsigbaar aan die onderkant (of elders, as jy só verkies) van jou skerm lê terwyl jy dan die volle grootte van jou monitor se skerm kan gebruik vir jou programme. As jy dan egter iets wil kliek op jou taakstaaf, is dit bloot 'n kwessie van linkskliek aan die onderkant, en dan wip jou taakstaaf weer op. Wanneer jy met 'n program besig is en nie wil hê dat die taakstaaf moet opwip as die muiswyser per ongeluk sou huiwer oor die onderste rand van die skerm nie, kan jy 'n tydwaarde verstel in Taskbar Activate wat verseker dat die taakstaaf slegs na 'n sekere tydsinterval, van 'n breukdeel van 'n sekonde tot etlike sekondes, sal opwip.

DIALOGBOX ASSISTANT
As jy baie rondspring tussen die vouers op jou hardeskyf, of dit nou is om 'n lêer te spaar in een vouer en die volgende oomblik 'n lêer oop te maak in 'n ander een, dan is hierdie program net reg daarvoor. Die meer onlangse weergawes van Windows het natuurlik iets soortgelyks, naamlik "My recent documents", maar Dialogbox Assistant spring feitlik onmiddellik oop, anders as Windows se fasiliteit, wat maar taamlik lank neem. Alhoewel die nuwer weergawes van Dialogbox Assistant "shareware" is, sal die bostaande skakel jou lei na die ou gratis weergawe, nommer 1.01.

______________________________________

Bostaande skakels was almal aktief op 11/01/2005. Kontak my gerus as u vind dat dit nie meer werk nie, of as u sukkel om die programme af te laai.

Terug na die Wit Hand