Die spookfoto van Pilgrim's Rest

Ek was baie verheug toe ek onlangs op die volgende knipsel afgekom het. Dit beskryf 'n foto wat me. Rita Borrett destyds geneem het in 'n ou begraafplaas op Pilgrim's Rest. Volgens me. Borrett herken sy beelde van mense in die wasige lyne op die foto. Ek moet erken, dit knor maar om iets op die foto uit te maak, maar dit kan ook wees omrede die kwaliteit aansienlik versleg as jy dit op koerantpapier druk.

Sy vertel dat sy die foto geneem het op besoek aan die geskiedkundige dorpie saam met haar vriendin en sê ook dat daar geen mistigheid of wasigheid teenwoordig was met die neem daarvan nie. Dit was 'n helder middag en daar was niemand in die begraafplaas buiten sy en haar vriendin nie. Sy sê sy was besonder aangetrek na die graf van ene Leslie Pascoe.

Na sy die foto ontvang het was sy histeries bang, aangesien sy nog nie voorheen in 'n begraafplaas was nie en nog minder foto's van geeste geneem het. Sy kon iemand aan die regterkant van die foto langs 'n boom sien staan en ook die gesig van 'n man in 'n boom in die middel.

Sy beweer dat dit die gees of 'n spirituele visioen van iemand kan wees wat met haar wil kontak maak. Volgens Pilgrim's Rest se argiewe is dié mnr. Leslie Pascoe op 22 dood aan die Groot Griep op 2 November 1918. Hy het blykbaar malaria in Oos-Afrika opgedoen terwyl hy in die Vloot was. Me. Borrett vertel voorts dat sy 'n rukkie voor die foto geneem is op die luukse skip Rhapsody gevaar het en glo erg seesiek geword het. Die vrou wat haar bygestaan het op die vaart het kort daarna malaria opgedoen. Me. Borret sê dat dit dinge nog meer raaiselagtig vir haar maak.

Ek het bietjie gespeel met die foto en ek het twee of meer moontlike figure gesien. Dit kan natuurlik ook net die lower van die bome wees, maar nou ja. Die mistigheid op die foto is al reeds 'n aanduiding van eienaardige omstandighede.

Terug na die Wit Hand