Ons trek !

Dit was lekker om weer so uit die bloute 'n spookstorie te ontvang, en hierdie maal was dit van J. Francois Barnard. Ek skryf vir hom dat dit omtrent met "Die Wit Hand" gaan soos met ons reën, die stories is maar min ! Francois sê dat hierdie storie waarskynlik fiktief is. Dit het my min geskeel want dit lees baie lekker. As u meer van Francois se vertellinge wil lees kan u gerus sy webwerf besoek.


In die ou bywonershuisie gaan dit maar beroerd. Na jare se genadebrood eet is Lolla Smit alreeds moeg vir die druk van die lewe. Faan is altyd te siek om op die plaas te werk, maar altyd gesond genoeg om 'n snapsie te kan maak.

Dis al die hoeveelste bywonershuisie waarin hulle bly. Elke keer in die verlede nadat 'n beskonke Faan vir hulle weldoener 'n "piece of mind" gegee het, moes hulle vort.

Maar hierdie keer is dit anders.

Die plaaseienaar is 'n weduwee wat haar nie aan die Smitte steur nie. Om die waarheid te sê, die huisie is so eenkant geleë dat die weduwee uit haar pad sal moet gaan om met hulle kontak te maak.

Afgesien van broodgebrek lewe die Smitte dan uiteindelik in relatiewe vrede. Tot die nag van die storm...

Die weer het al vroegmiddag ernstig opgesteek, en na 'n swaar elektriese storm en stortreën waai 'n ysige wind oor hulle huisie.

Lolla is bekommerd oor die muile en boerbokke wat buite rondloop.

"Faan! Die muile en die bokke!" Maar Faan se harde gesnork laat haar besef dat sy weer op haar eie die dinge moet vasvat. Met 'n tjalie styf om haar skouers getrek en Faan se vuil hoed op haar kop vat sy die ongure weer aan.

Die olielampie waai sommer dadelik dood, en sal meer van 'n las enige iets anders wees. Daarom los sy hom by die deur. Met haar een hand klou sy aan haar oupa se kierie en met die ander hand druk sy Faan se hoed op haar kop vas. Dan beur sy teen die wind in die rigting van die grootpad.

"Douzerrrr!" roep sy na die een muil, maar besef dat haar stemmetjie nie teen die wind opgewasse is nie.

Sy volg die pad wat sporadies deur die blou-wit lig van die weerlig verlig word. Die stortreën deurdrenk haar klere, en die ysige wind breek haar moed om verder te gaan.

Huiwerig gaan sy staan. Die gedagte aan twee verlore muile en die klein kuddetjie bokke hier in die koue breek haar hart. Hoe swaar moet swaarkry dan word?

'n Skielike windstilte ruk haar tot die werlikheid. Dis doodstil en al wat sy kan hoor is haar tande wat op mekaar klapper. Stadig draai sy om na die huis toe.

'n Beweging by die huis laat haar vorentoe spring. Sy is seker sy het die muile en die bokke by die huis gesien toe die weerlig die wêreld verlig het. Al struikelende sukkel sy oor die klippad terug huistoe.

'n Lang, uitgerekte bliksemstraal verlig weer die veld om haar, en daar langs die huisie sien sy hoe 'n lang man met 'n wit hemp en donker broek haar muile en bokke in die kampie injaag.

En weer is dit donker.

Lolla staan versteen in die pad. Dis asof 'n koue hand die lewe uit haar hart uitdruk. Sy weet ongetwyfeld dat dit nie Faan is nie. Hy is nie so lank nie.

Met 'n "Ruk jouself reg!" stap sy versigtig nader. Soos wat die weerlig die wêreld om haar verlig sien sy dat die diere veilig op hok is, maar dat die vreemdeling skoonveld verdwyn het.

Die olielampie by die deur is ook weg.

Binne die huis trek sy haarself droog en warm aan terwyl haar kop in sy hoogste versnelling dink. Faan se reëlmatige asemhaling herinner haar daaraan dat sy nie droom nie.

Die geblêr van die bokke maak haar teen 7-uur die oggend wakker. Vinnig spring sy op en trek aan. Sy wil kyk of sy nie die man se spoor vanaf die kampie se hek kan volg nie.

Haar verwondering groei toe sy duidelik haar eie spore in die modder sien, maar niemand anders s'n nie!

"Wat soek jy daar op die grond?" vra Faan skielik agter haar. Sy wip soos sy skrik en spring dan in sy arms in.

Faan is skoon verbysterd. Al wat hy kan uitmaak is dat sy wil trek, en dat dit nou dadelik moet gebeur.

Hy besef eers die erns van die situasie toe Lolla haar kombuisware in 'n kis begin inpak.

"Maar ek dog ons bly dan lekker hier?" vra hy.

"Saam met 'n spook, ja!"

"Wat jy waar kry?" Faan se gesig kan sy verbasing nie verberg nie. Spoke! Waar het jy al van sulke bog gehoor?

Maar teen daardie aand is hulle waentjie gepak. Elke bok is met 'n riem aan die agterste klap van die waenjie vasgemaak. Die hoenders hang in draadhokke onder die wa, en bo-op die wa is elke besitting van die Smitte stewig ingepak. Met Douzer en Lenig voor die waentjie ingespan is hulle gereed om te vertrek.

"Jy kan maar agter onder die seilkap gaan slaap", sê Faan.

"Nee, eers later. Ek sit eers hier by jou."

In die dowwe maanlig praat Faan met sy twee muile, en die waentjie begin te beweeg.

Agter by die seilkap lig 'n hand die seil op. Die spook kyk vir oulaas na die bywonershuisie en sê: "Ons trek!"

© J. Francois Barnard - Januarie 2004

Terug na die Wit Hand