|
|||||||
|
|
|
|||||
|
|
|||||||
|
Ek het as jongeling saam met die eerste Voortrekkers die land ingekom,toe
die bloedspoor van Mosilkaats nog oral vars was. Wat ek wil vertel, het
gebeur in die jaar 1852. Ek was toe in die fleur van my lewe- 'n jong,
getroude man met 'n vrou en drie kinders. Ons het in die Bosveld in die
distrik Waterberg gewoon. Ek had ook 'n plaas in die Hoëveld, maar het met my
vee vir die winter na die Bosveld getrek met die doel om langer daar te bly as
gewoonlik, om te saai en vrugtebome te plant op my Bosveldplaas. Nadat ons
ongeveer vier maande op die plaas was, het my vrou ernstig siek geword aan die
koors.
Dit was kort na die geboorte van ons derde kind dat my vrou die koors gekry het, en sy was maar swakkerig. En hoewel sy beter geword het, kon sy van die swakheid maar nie ontslae raak nie, sodat ek bang begin word het om haar langer in die Bosveld te laat bly. Omdat ek self by die vee moes bly, stuur ek haar en die kinders toe met twee getroue skepsels en twee huisbediendes met die wa na Pretoria toe na die dokter. Ons was albei maar baie treurig en neerslagtig by die afskeid, want dit was die eerste keer van ons getroud was dat ons so lank uitmekaar sou wees. Ek het my egter met die hoop dat dit vir haar 'n vermaak en 'n ontspanning sou wees om 'n tydjie in Pretoria deur te bring, so 'n bietjie getroos. In dié tyd was dit baie eensaam op my plaas daar in die Bosveld. Dit was niks buitengewoons nie om 'n hele jaar lank selde of nooit 'n witmens te sien. In Pretoria sou my vrou by haar suster kuier en terselftertyd onder behandeling van die dokter wees. Ek het ook 'n ordentlike hoeveelheid volstruisvere, biltong en velle met die wa saamgestuur om in Pretoria te verkoop. Omtrent 'n maand na my vrou se vertrek, aan die begin van Junie 1852, kom my wadrywer te voet terug met 'n brief van my vrou waarin sy skryf dat sy veilig in Pretoria aangekom het, maar dat die dokter wat in die tyd daar was, weggeroep is Warmbad toe waar daar dié jaar 'n menigte gevalle van koors was. Baie mense was reeds aan die koors oorlede in Waterberg en ook in Lydenburg. My swaer, skryf sy verder, is ook van plan om met sy familie na Waterberg te gaan. Sy het nou besluit om met my wa na die warmbad te gaan waar sy van die water gebruik kan maak en tegelykertyd ook medisyne van die dokter kan gebruik. Ek moet haar dan oor twee maande by die bad kom ontmoet, en dan kom ons saam weer huis toe. Ek het reeds baie na haar verlang, en besluit toe om heel gou te ry. My plaas- ek was toe juis besig om lemoen- en nartjiebome te plant waarvan die boord tot vandag toe nog daar staan- het ek met vee en al toevertrou aan die sorg van my betroubare ou April wat die brief gebring het. Ek het hom opdrag gegee om maar voort te gaan om vrugtebome te plant. As ek teen die einde van die winter nog nie terug is nie, moet hy met vee en al na my plaas in die Hoëveld trek waarheen ek dan direk sal gaan met my vrou. Dit was omtrent die 26ste of 28ste Junie 1852- die presiese datum het my ontgaan- dat ek en 'n jong baster Boesman-Hotnot, sowat agtien jaar oud en met die naam Hans Lennerts, van my Bosveldplaas af vertrek het. Hans Lennerts leef vandag nog en hy was gedeeltelik getuie van die vreemde ontmoeting wat ek op daardie reis deur die Bosveld gehad het. Om eers na die Rustenburg-pad te ry, sou 'n alte groot draai wees en dit was alte sanderig en dus te swaar vir my twee perde. Daarom het ek besluit om die bees- en voetpaaie reguit deur die Bosveld te volg na die Bad toe. Die reis sou omtrent sewe dae duur, sodat ek en my vrou en haar swaer omtrent gelyk daar sou aankom. As wapen het ek een sesponder-sterloopgeweer en een tweeloopgeweer vir hael en koeëls saamgeneem. Op die derde dag van ons reis was ons in 'n gedeelte van Waterberg wat vir my geheel en al onbekend was. Dié dag het ek twee koedoes geskiet. Ek het die velle en soveel vleis as wat ek nodig geag het, opgelaai. Met dié vrag op die kar het dit maar swaar gegaan deur die sand. Ons het stadig voortgesukkel. Met die middagskof het een perd begin siek word. Die streek was geheel onbewoon. Van die oggend agtuur af het ons geen enkele plek gesien waar water te vinde was nie. Teen sononder kon die perd nie meer verder nie. Ek het toe maar uitgespan en ek en Hans Lennerts het daar in die rondte na water gesoek, maar niks gekry nie. Gelukkig had ek nog 'n jagfles met water, en ek het 'n handvol meel en water gemeng en vir die perd ingegee. Die bietjie water wat toe oorgebly het, was nie genoeg vir koffie nie. Gelukkig was die perd teen tienuur die aand soveel beter dat hy begin vreet het. Ons span toe weer in om 'n entjie verder te ry om te kyk of ons nie water kan kry vir die arme perde wat baie dors had nie. Die wildvleis het ek laat agterbly om die vrag ligter te maak, en waar die sand swaar is, loop Hans en ek langs die kar. Dit was volmaan en helder lig. Ons het skaars 'n uur gery, toe hoor ons in die verte honde blaf. Ek dog dat dit 'n kafferkraaltjie was, want daar was geen waarskynlikheid dat daar trekmense in die dorre streek sou woon nie. Tot vandag toe is die streek so te sê onbewoon. Vir wintersveld is die bosse te ruig, die gras te suur en die water te skaars. Toe ek die honde hoor blaf, gee ek vir Hans Lennerts die dubbelloopgeweer en stuur hom na die plek om te verneem waar ons water kan kry en waarlangs die beste pad deur die Bosveld lei. Intussen span ek uit om weer vir die siek perd 'n bietjie meel te gee. My plan was om, wanneer Hans terugkom, die kar daar te laat staan en met die perde na die naaste water te gaan. Die een was te swak om verder te trek. Na omtrent 'n uur kom Hans Lennerts terug met 'n witman wat my beleef groet en sê dat sy naam Swartz is . Ook vertel hy my tot my verwondering dat hy daar woon en hy nooi my vriendelik om saam met hom na sy huis te gaan en die nag daar te slaap. Hy sal 'n paar volk met osse stuur om die kar te haal en ook na die huis te bring. Ook sal hy die wildvleis laat haal waar ons dit gelaat het. Swartz was 'n groot, sterk-geboude man, omtrent veertig jaar oud, met rooi baard en rooi hare. Hy het Hollands gepraat soos 'n Kapenaar en hy was baie vriendelik. Swartz en ek stap huis toe terwyl Hans Lennerts met die perde agterna kom. Die huis staan op 'n bult, omring deur ruigte en digte plate bos. Ek was baie verbaas om so 'n taamlike groot huis daar in die onbewoonde woesteny te kry. Die man het ook baie vee. In die maanlig sien ek teen die rant twee groot krale, en langs die huis staan twee bokwaens en twee karre of 'n veerwa en 'n kapkar- ek is nie seker nie. In elk geval was dit duidelk dat die man ryk was. Die huis was goed gebou met twee klein glasvensters in die twee voorste vertrekke, en die dak was met gras gedek. In die huis ontmoet ek die vrou wat soveel jonger as haar man lyk, dat sy sy dogter sou kon wees. Sy is 'n mooi vrou, maar sy is bleek en lyk baie angstig. Toe ons die huis binnekom, lyk sy só verskrik dat sy sonder om te praat beurtelings na haar man en na my kyk asof sy 'n vreeslike onheil verwag. Swartz vertel haar toe op hoe 'n manier ek daar uitgekom het waarna haar verleentheid blykbaar tot bedaring kom. Maar die hele tyd wat sy by ons in die huis is, lyk sy verskrik en beangs, blykbaar weens my koms. Haar houding het die agterdog by my laat ontstaan dat dit nie pluis was in die huis nie, en dit het 'n afkeer in die gesin gewek. Toe die vrou uitgegaan het om 'n stukkie kos vir my te berei, het Swartz die ontstelde gedrag van sy vrou probeer vergoelik deur te sê dat sy glad nie gesond voel nie en meen dat dit erger kan word. Dit is iets wat haar senugestel soms erg aantas en dit is die oorsaak van haar ontsteltenis. Ek vertel hom toe dat my vrou by die Bad by 'n dokter is en nou kan hy sy vrou ook daar na die dokter bring sodat sy weer gesond kan word. Hy kyk my nors aan en ek sien toe eers dat hy 'n wrede gesig het. "Hier is alles wat nodig is dat sy beter en gesond kan word," antwoord hy. Verder gee hy my te vertaan dat ek my nie met sy sake hoef te bemoei nie en dat dit beter sal wees as ek nie verder daaroor praat nie. Dit was duidelik dat hy en sy vrou uit die Kaapkolonie gekom het. Maar waarom dan deur die mooi Hoëveldstreek, waar jy 'n pragtige veeplaas vir 'n paar osse kan ruil, trek en hier in die ongesonde, dorre streek 'n plaas kom aanlê ? Ek kon geen antwoord op die vraag vind nie, maar dit het dadelik 'n agterdog by my laat ontstaan: Die man het seker een of ander groot misdaad in die Kolonie begaan, nou het hy gevlug en hier in die bosse kom wegkruip. In dié dae was dit heeltemal maklik om jou deur sodanige vlug te red en hier te kom woon, selfs op die Hoëveld en selfs in meer digbewoonde streke. Ek weet van baie misdadigers wat hulle om dié rede hier kom vestig het, wat nooit tereggestaan het vir hul misdade nie- 'n mens vind trouens nou nog enkele van hul nageslag. Intussen was aandete gereed. Ek moes alleen eet terwyl die man en vrou stil en erg neerslagtig eenkant sit. My verdenking van hulle het al hoe sterker geword. Ek het ook besef dat hulle moontlik 'n suspisie het teen my. Hulle kon gedink het: "Die man kan ons gaan verklap en ons so in die hand laat kom van mense wat van ons misdaad gehoor het." Toe ek klaar geëet het, sê Swartz aan sy vrou: "Kyk, ek en die neef gaan uit om sy perde te versorg. Sit solank die boeke reg." Sy kyk hom bevrees aan en sê met 'n bewende stem: "Ag nee, dis al só laat , ons sal die lees vanaand maar laat staan." Hy sê nog 'n slag norsweg: " "Haal die boeke uit !" Toe ons buite kom, vind ons die perde reeds versorg in die afdakstal langs die huisgewel, en Hans was besig om voer te sny. Naby die huis het ek 'n spruit gesien met 'n paar kuile staande water. Ons verneem toe ook van die volk dat een van hulle met twee osse gegaan het om my kar te haal, en 'n ander om die wildsvleis te bring. Toe my kar aankom, haal ek die twee roers af en neem hulle met my saam na die vrykamer waar ek moet slaap. Hulle was albei gelaai en doppies had ek by my. Ek kon maar nie ontslae raak van die aaklige verdenking dat daar iets verkeerd is met die huisgesien nie, en met die twee roers byderhand voel ek veilger, wat ook al verkeerd mag wees. Toe ek in die eetkamer kom, sien ek die vrou in 'n donker hoek by 'n werktafeltjie sit met haar voorkop op die een hand gerus terwyl sy stilweg bitter huil. Dit het my aaklige agterdog net sterker gemaak. Op die groot tafel staan 'n brandende vetkers met die boeke daarnaas. Swartz gaan daarby sit, maak die Bybel oop en begin te lees uit Romeine 8, eers die tweede en daarna die eerste vers. Toe ek skerp na hom kyk, sien ek dat hy met sy oë toe sit en die hoofstuk uit sy hoof opsê, maar verkeerd begin het, terwyl die Bybel by Spreuke voor hom ooplê. Daarna doen hy 'n gebed, so vurig en ernstig as ek selde gehoor het. Dit was of die man uit die diepste diepte van sy hart smeek om genade en vergiffenis van sonde wat begaan is, waarvan 'n deel blykbaar op die vrou rus, want sy begin naderhand hardop te snik. Ek dog dat daar seker 'n swaar skuld op hulle lê waaroor hul gewete hul baie pynig. Daarna het ons mekaar 'n goeie nagrus toegewens en ek het na my kamer gegaan. Die versorging van alles het soveel tyd in beslag geneem dat dit teen daardie tyd reeds omtrent twaalfuur was. Die vrykamer was een van die twee voorvertrekke wat elk 'n glasvenster gehad het sodat jy daardeur op die stoep en verder kon sien; die ander was die eetkamer. In een hoek van my kamer staan 'n groot houtkatel sonder gordyn. Ek het daarop gaan lê. Die stalkrip was teen die muur aan die buitekant, sodat die geraas wat die perde gemaak het en die helder maanlig deur die venster meegewerk het om my my slaap te belet, hoe moeg ek ook al was. Later het ek agtergekom dat Hans sy intrek op die perdewa geneem het by die stal, wat ek uit die venster van my kamer kon sien. Terwyl ek wakker lê, word my verdenking dat Swartz 'n ontvlugte misdadiger is, 'n oortuiging. Maar waar, wanneer en wat hy gedoen het, is die vraag. Ek raak onrustig omtrent my eie veiligheid en sit toe my twee roers by my kopkussing. Nadat ek 'n paar uur wakker gelê het, hoor ek suutjies praat en saggies loop in die man en vrou se kamer langs myne. Ek was naderhand al moedeloos en wou net opstaan om na die perde te gaan kyk en vir Hans Lennerts te roep, toe ek hulle kamerdeur- wat in die eetkamer uitgaan- saggies hoor oopgaan. Die sagte geloop en gefluister het aangehou. Ek het nugter wakker en met gespitste ore op die bed gaan sit. Ek had 'n voorgevoel dat daar iets onheilspellends staan te gebeur, terwyl ek die vrou fluisterend hoor soebat om dit nie te doen nie. Maar wat nie gedoen moes word nie, kon ek nie verstaan nie. Ek dog dat Swartz my wou vermoor sodat ek nie die geheim van sy woning daar in die woesteny kon verklap nie. Ek pak dus die sterloop met my regterhand om my te verweer as dit nodig is; die doppies had ek tevore reeds op die roers gesit. Die vrou fluister en huil en snik daar in die eetkamer, en soebat dan weer aanhoudend, maar die man sê g'n woord nie; hy loop maar aaneen kaalvoet in die eetkamer rond. Naderhand gaan die voordeur oop en die twee gaan uit tot op die stoep. Toe word ek nuuskierig en minder bang. Met die geweer in die hand sluip ek na die venster en beloer hulle daardeur. Die maan skyn so helder dat dit amper so lig is as in die dag, sodat ek tot wie weet waar op die werf alles duidelik kan sien. Albei is nog ten volle geklee. Die man is kaalvoet en die vrou loop blykbaar op haar kouse. Swartz staan by die trappies asof hy wil afklim, maar die vrou hom hom aan die arm vas en soebat nog steeds. Eindelik ruk hy sy arm los en gaan die trappies af. Die vrou bly snikkend en kermend vlak voor my venster op die stoep staan. Sy kyk hom agterna terwyl ek hom ook goed kan sien wegstap. Toe Swartz sowat twintig tree van die stoep af is, sien ek dat hy 'n ander vrou, volgens postuur omtrent van sy ouderdom, met sy een hand aan die arm beet het. Dit lyk of sy traag is om te loop. Hy stoot haar egter vorentoe tot hulle omtrent vyftig tree van die huis af is na die spruit se kant toe, en toe gaan hy staan. Dit lyk of hy 'n paar woorde met die vrou praat, kwaad word, met sy arms swaai, die vrou met die linkerhand aan die keel beetkry en haar drie geweldige vuishoue in die gesig gee sodat sy neerval. Nadat hy haar 'n paar harde skoppe of trappe toegedien het, laat hy haar lê en kom terug. Terwyl Swartz besig is om die vrou te mishandel, hoor ek sy vrou hardop kerm en huil. Die wreedheid kon ek nie swyend aansien nie. Ek wou deur die venster spring of 'n skoot skiet om hom af te skrik, maar ek kon die venster nie oopkry nie. Toe hy egter bedaard terugkom, hou ek op om te peuter aan die venster. Die vrou loop hom haastig van die stoep af tegemoet. Hulle kom stil die huis binne, gaan na hul kamer en alles word stil tot die oggend. Intussen het ek, net toe Swartz van die vrou af terugdraai nadat hy haar geslaan en geskop het, Hans Lennerts agter op die rem van die wa sien staan. Hy het ook na die mishandeling gekyk, maar dadelik teruggekruip in die tentwa, moontlik uit vrees vir 'n paar oorkonkels. Dit was met die laaste skop van Swartz dat ek Hans gesien het. Ek het vlugtig na hom gekyk en toe weer na die vrou, maar sy het in die oogwenk verdwyn van die kaal grond waar daar nie eers gras of bossies was nie. Ek was so verslae van verwondering dat ek nog wie weet hoe lank deur die venster gestaan en kyk het na die plek waar die vrou verdwyn het. Toe ek egter meen dat Swartz en sy vrou vas aan die slaap kan wees, het ek my roer in die kamer laat bly en uitgesluip om van Hans te gaan verneem wat hy van die opskudding weet. Maar eers het ek die perde gaan voer gee sodat Swartz, as hy dit hoor, maar kan dink dat dit die doel van my uitgaan was. Daarna gaan ek na die wa waar ek Hans gesien het. Hy is wakker, en sodra hy my hoor loop, kom hy uit. Nog voor ek kan praat, sê hy: "Seur, die baas hier, die loop in sy slaap. Netnou was hy hier buitekant en die nooi was saam tot op die stoep, maar het nie verder meegegaan nie, en soos dit lyk , wou sy hom nie wakker maak nie. Hy het daar op die kweekplek tekere gegaan asof hy met iemand baklei, en daarna het hy gaan slaap."
Ek vra toe: "En wat weet jy van die vrou wat by hom was ?"
Die volgende môre is ons vroeg daar weg. Toe ek Swartz en sy vrou groet, praat al twee heel besadig soos gewoonlik asof daar dié nag niks voorgeval het nie, maar aan die vrou kon ek merk dat sy bly was om van my ontslae te raak. Swartz self was meer beleef en het my gevra om weer by hulle aan te kom as ek met my vrou terugkom. Of Swartz nou 'n slaaploper was, en of hy ook die gedaante gesien het wat ek gesien het, het tot vandag toe vir my 'n raaisel gebly. My vrou was weer erg siek by die warmbad en ons het die hele winter daar gebly. Eindelik het ons oor Pretoria na die plaas in die Hoëveld toe gery. Eers baie jare later het ek weer 'n keer met die ander pad gery, en toe staan nog net die murasie van Swartz se huis en krale. Ons het kort na die vermelde gebeurtenis gehoor dat Swartz verder getrek het in die rigting van Soutpansberg se Laeveld of deur na Lydenburg. Daarna het ek hom nooit weer gesien of van hom gehoor nie. Ek veronderstel dat hy sy naam in Lydenburg verander het. Hoe dit ook al mag wees, ek het later ietwat op die spoor van die waarheid gekom. Mense uit die Kaapkolonie wat ons bure was, het vertel hoe 'n sekere ryk boer met die van Swartz enige jare tevore 'n gruwelike moord gepleeg het. Hy was getroud met 'n weduwee van omtrent sy ouderdom. Die vrou had 'n dogter, omtrent agtien jaar oud, en die veronderstelling was dat Swartz op sy stiefdogter verlief geraak het. Sy vrou het hom op 'n dag daarvan beskuldig; hy het kwaad geword en in sy woede het hy haar doodgeslaan en geskop. Hy het toe met sy stiefdogter die Vrystaat ingevlug waar hy saam met haar geleef het as man. Later, toe die gevaar in die Vrystaat te groot word, is hy Transvaal in, en daar het hy eenvoudig weggeraak. My buurman het hom en sy stiefdogter persoonlik in die Kolonie geken, en hy beskryf hom as 'n sterk geboude man met rooi baard en hare. In die tyd toe hy die moord gepleeg het, was hy ouderling in die kerk en hoog gerespekteer deur al sy bure. Tot so ver my storie. Net nog 'n slotwoord: Een predikant, met wie ek daaroor gepraat het, het my laat verstaan dat ek geslaap en gedroom het en dat my agterdog die oorsaak van die droom was. Ek het hom nie daarop geantwoord nie. Nou wil ek alleen sê dat Hans Lennerts en ek al twee nie tegelyk kon geslaap en bowenop dieselfde droom kon gehad het nie. Van droom en slaap is daar geen sprake nie. Nooit in my lewe was ek helderder wakker as daardie nag nie. |