Free Web Site - Free Web Space and Site Hosting - Web Hosting - Internet Store and Ecommerce Solution Provider - High Speed Internet
Search the Web

Die spook in Oupa se leunstoel

Uit nog 'n taamlike ou boek kry ek die volgende vertelling, en as ek dit so beskou lyk dit of dit die waarheid moet wees. Die storie van meneer C.G.S. de Villiers laat my met groot deernis terugdink aan die plaaslewe in vergange se dae.

My oupa aan vaderskant het ek nooit gesien nie. Hy is in 1801 gebore en in 1875 gesterwe, maar my vader en ooms en tantes het baie van hom vertel, en die familie besit nog 'n onverganklike, tasbare herinnering aan oupa Viljee- Oupa se leunstoel. Eintlik was die stoel al 'n erfstuk in Oupa se dae, want dit het aan ouma Viljee se vader behoort. En as daardie stoel kon praat, wat sou dit nie alles te vertel hê van die Afrikaanse sedes en gewoontes en van ons volkslewe van die end van die agtiende en begin van die negentiende eeu nie ? My oudste broer Jan, wat na Oupa Viljee geheet het, was sy troetelkind en hy het dikwels vertel hoe Oupa eendag in sy stoel gesit het en, toe sy kleinseun die voorhuis binnekom, hom tot by hom geroep het, uit die ou leunstoel opgestaan en na 'n mahoniehoutkas geloop en 'n fyn groen kelkie daaruit gehaal en dit vol wyn geskink het.

"Seun," het hy gesê, "neem hierdie kelkie wyn uit jou Oupa se hand. Ek wil nie hê dat jy sterk drank in die geheim moet leer ken nie. Jou Oupa wil jou eerste kelkie wyn self vir jou gee."

Terwyl die ou man daar so staan, val die kelkie meteens uit sy hand. Oupa kon nog net met behulp van die kleinseun sy geliefde stoel haal, maar die beroerte, die gevreesde "Viljeeskwaal", het sy eerste spore op hom gelaat, en kort daarna is hy oorlede, volgens sommige oorlewerings op sy bed, volgens ander juis op daardie leunstoel. Maar drie-en-sewentig jaar gelede was die stoel reeds 'n eerwaardige ou familiestuk en moes dit al baie lief en leed met die familie deurgemaak het, onder andere 'n opspraakwekkende spookgeskiedenis waarvan ek nog ooggetuies goed geken het.

Huislike omstandighede het in ons land so baie verander gedurende my eie leeftyd dat dit nodig is om die aartsvaderlike gewoontes en sedes van vanmelewe se dae en selfs die huislike roetine vir die jonger geslag te verduidelik. Die kookgeriewe sou 'n jonggetroude vrou van ons dae uiters ongerieflik indien nie onoorkomelik nie beskou het; die kombuis was wel groot en die vuurherd ruim, maar daar was geen stoof en geen aluminiumkastrolle nie. Op die vuurherd is 'n oop vuur opgemaak, en saans voordat die huismense gaan slaap het, is die kole met as bedek, sodat dit die volgende oggend vroeg nie nodig moet wees om die tonteldoos te gebruik wanneer die koffiewater gekook moes word nie. Die potte het òf op drievoete gestaan òf aan kettings oor die vuur gehang, vandaar die ouderwetse uitdrukking wat my moeder nog altyd gebruik het: kos oorhang. Aan die linkerkant van die vuurherd was daar 'n vierkantige ysterdeurtjie soos dié van 'n grafkelder in ou kerkhowe. Daardie deurtjie was die bek van die oond, wat van die werf af nog meer soos 'n grafkelderaanhangsel van die woonhuise vertoon het.

Wanneer daar moes gebak word- en op ons plaas moes dit elke dag gebeur- is die oond tot 'n gloeiende hitte gestook en die temperatuur getoets deur 'n droë renosterbostakkie daarin te gooi. As die takkie meteens aan die brand geslaan het, kon die brood inkom, maar dan moes dit vroegtydig opgemaak gewees en dit moes begin "opkom" het. Bakwerk was nagwerk, maar huisbediendes was handig en volop en getrou, en die vroumense het saans vroeg gaan slaap, sodat bakdae nie met baie verlies van nagrus gepaard gegaan het nie.

Eintlik moes ek hier nog 'n ander aartsvaderlike gewoonte geskryf het, maar dit het nie betrekking op die kombuisgedrywighede nie en dit staan buitendien in verband met die bonatuurlike verwikkelings van hierdie ware storie. Dit kom dus eers later.

Een goeie dag, of oggend, of nag, het my drie tantes douvoordag opgestaan om te gaan bak. Daar was drie susters, maar net Chrissie en Sannie het 'n rol gespeel in die makabere gebeure. Suutjies het die susters uit die vere gekruip om die "oumense" nie wakker te maak nie, hulle vinnig aangetrek, dan die bediendes gaan roep, en alles was gereed vir die bakplegtigheid onderwyl die res van die gesin ongestoord voortslaap.

Sannie het toevallig iets in die voorhuis nodig gehad, en toe sy die saalagtige vertrek uitgaan, merk sy dat daar iemand op Oupa se leunstoel sit: natuurlik Oupa self met sy slaapmussie op sy kop. Dat dit tog effens snaaks was dat Oupa met sy ordentlikheidsin daar binne half aangetrek in die pikdonker en koue sit, daaraan het Sannie blykbaar glad nie gedink nie. Hoofsaak was dat Oupa al op was.

Die "baksters" het intussen al hul eerste koppie koffie gedrink, en toe Sannie weer die kombuis binnekom, sê sy aan haar suster:

"Chrissie, skink gou vir Pa 'n koppie koffie in en neem dit vir hom."
"Maar my liewe mens, Pa en Ma sal nog lank nie wakker wees nie. Dit kan nog skaars vieruur wees."
"Vier uur of nie, ek sê jou Pa is nie alleen al op nie, maar hy sit reeds daar binne op sy stoel."
"Maar dink jy dan nie dat Pa hom vanself sou aangemeld en in die kombuis sou kom koffie soek het nie ? Jy wil my net vir die gek hou: jy dink ek is 'n jong vink wat jy met vrot strooi in plaas van met kaf kan vang !"
"Nou goed, as jy nie die koffie wil in neem nie, sal ek dit doen so gou ek die deeg van my hande gewas het."

Chrissie het hierop nie verder op haar laat wag nie; sy het die geblomde kommetjie vol koffie geskink, dit saam met 'n kers in 'n blink koperblaker op 'n skinkbord gesit en dit voorhuis toe geneem, versigtig-versigtig, want tussen die kombuis en die voorhuis was daar twee trappies: een van die onnodige, onredelike dinge waarvan 'n ou familiehuis wemel.

Stadig stap Chrissie met haar môregawe na Oupa se leunstoel, maar- daar sit niemand daarop nie. Versigtig en voetjie vir voetjie dra sy die skinkbord die gang af, gaan by die oopstaande deur van haar ouers se kamer in, buig oor die rustig slapendes en oortuig haarself dat Oupa se ligte snorkie nie kan geveins wees nie. Dan stap sy terug kombuis toe, vas beslote om met Sannie plat Afrikaans te praat- of wat hulle destyds die omgangstaal ook mag genoem het.

Maar Sannie hou vol met die geskiedenis van "Pa met sy nagmussie met die klossie" en laat haar hoegenaamd nie deur Chrissie van haar wysie af bring nie.
"Pa het op daardie stoel gesit , sê ek jou, en hy het 'n nagmussie op gehad."
"En ek sê jou, Pa het nie in daardie stoel gesit nie," antwoord Chrissie. "Ek sê jou verder, Pa lê rustig langs Ma en snork; en buitendien het hy nie eens 'n nagmus op nie. Ek weet jy hou my vir die gek ! Maar wag maar, boontjie kry sy loontjie !"

Dis toe dat Sannie se skerts in erns begin oorslaan.
"Chrissie, kom gaan gou saam spens toe en kom kyk of 'n mens al die beskuit kan begin opmaak."
In die spens aangekom, maak Sannie die deur toe sodat die meide nie die gesprek kan afluister nie.
"Chrissie, ou suster, dinge lyk my glad nie pluis nie."
"Wat lyk nie pluis nie ? Die brode begin mooi rys en die beskuitdeeg kom fluks op."
"Chrissie, ek speel nie die gek met jou nie ! Daar was iemand met 'n nagmus op sy kop in Pa se leunstoel. Chrissie, wie was dit ?"
"Ag loop, Sannie, jy's vol verbeeldings !"
"Nee, Chrissie, ek het my niks verbeel nie ! En as Pa nie in daardie stoel gesit het nie...wie was dit dan ?"
"Wie meen jy dan kon dit gewees het ? Hier is tog geen ou mans met nagmussies op die werf nie. As jy bang is, kan jy Pa vra om saans die voordeur te sluit, as hy nog weet wat van die sleutel geword het."
"Ja, Chrissie, ek sê dit reguit, en ek is ook nie skaam om dit te beken nie: ek is bang, ek is doodbang !"
"Bang vir wat ?" Vir wie ?"
"Chrissie, daardie ou man op die stoel...Dit was 'n spook."
"Nee, Sannie, nou maak jy my kwaad. Jy wil tog nie regtig sê dat jy aan spoke glo nie. Pas op: As Pa dit moet hoor !"
"Pa kan dit gerus maar hoor ! Ek is Ma se kind, en ek wet Ma glo aan spoke, want Ma kan hulle sien !"
"Dan is ek Pa se kind," sê Chrissie vererg. "Ek glo aan geen spoke nie !"
"Pas op wat jy sê !" Ou ai Truitjie het mos altyd gesê 'n mens moenie die spoke beledig deur nie aan hulle bestaan te wil glo nie."
"Ag, jy met jou ewige ouvrougeklets ! Kom ons begin die beskuit opmaak."
"Chrissie ! Ek weet dit was 'n spook, en...Chrissie...was dit nie miskien..."
"Sannie, as jou oudste suster verbied ek jou om daardie naam te noem. En as jy dit op jou lippe neem, gaan ek op die daad Ma wakker maak en haar dit vertel. En ek belowe jou dit: Ma gaan jou 'n gedugte pak slae gee, al is jy al 'n groot meisiekind ! Jy weet dat Ma ai Leentjie daar en dan in die pad gesteek het toe sy ontdek het dat sy uit die familie gekekkel het."

In watter stemming die bakkery afgehandel is, kan 'n mens jou voorstel, maar die familie-oorlewering vertel niks daarvan nie, soos dit ook niks vertel van die gewone gang van die eenvoudige plaaslewe die res van die dag nie, behalwe dat Sannie aan haar ouers niks van die geheimsinnige besoeker en van sy wederregtelike gebruik van hul vader se leunstoel vertel het nie. Chrissie het die hele gebeurtenis òf nie geglo nie òf dit aan Sannie se oorspanne toestand toegeskryf.

En voordat 'n mens die res van die storie kan vertel, moet jy die jonger lesers met nog 'n stukkie van vanmelewe se huislike omstandighede vertroud maak, omstandighede wat vir my eie geslag hoegenaamd nie vreemd was nie.

Hoe ongelooflik dit ook mag klink: vanmelewe se plaashuise het geen waterleiding gehad nie. Die water is in emmers aangedra kombuis toe, en 'n knap boervrou was net so trots op haar rye blink geskuurde emmers as hedendaagse vrouens op hul pyrex-skottels of hul versilwerde teepotte. Omdat daar geen waterleiding was nie, was daar ook geen badkamer met sy koue en warm waterkrane nie. Die daaglikse bad is dus 'n nuwigheid, maar die mense het hul liggame tog skoon gehou, en die heer des huises het elke aand sy balie voetwater laat indra om die stof van die daaglikse arbeid te kan afwas. Oupa ook.

Dit was die plig van een van die dogters om elke aand vir Oupa se wasbalie en sy waslap te sorg, en destyds is geen werk van enige aard ooit as vernederend beskou nie.

Daardie aand was dit Chrissie, die ongelowige spokeveragter, se beurt om die balie in te dra. Toe sy by die middeldeur inkom, het Oupa reeds op die leunstoel gesit, sy voete ontbloot met die oog op die reinigingsritueel.

Chrissie loop reguit tot voor Oupa, en net toe sy wou vooroor buig om die balie neer te sit, sê sy: "Hemel, wie slaan my so !"

Die balie val uit haar hande op die vloer, die water spat links en regs, almal snel toe om te red wat te red is, maar Chrissie sit geen hand by nie, want sy lê in 'n floute uitgestrek op die vloer.

Huisrate is onmiddellik toegepas, maar al wat bykom, was Chrissie. Daar was geen ander plan as om haar na die meisiekamer te dra en haar in die bed te sit nie.

Te oordeel van die portrette van daardie dae, moes die ontkledingsproses van 'n vrou 'n ware proses gewees het. Maar eindelik- so gaan die sage- is by daardie vroulike kledingstuk aangeland wat volgens die ou spreekwoord nader as die rok is. En dis juis daardie einste kledingstuk wat die susters en die moeder nie kon uitgetrek kry nie ! Want, soos die sage weer nadruklik beklemtoon, dit het aan haar rug vasgekleef. Maar toe die wederstrewige stuk onderklere eindelik verwyder is, kon die helpers hul eie oë nie glo nie, want agter Chrissie se rug, juis daar waar die hemp vasgekleef het, verskyn daar 'n afgryslike gedrog, 'n mensehand so duidelik en natuurgetrou "asof 'n mens dit met 'n griffie op 'n lei afgeteken het !"

Toe Chrissie na veel gesukkel bygebring is en haar ondervinding en gewaarwordings kon beskryf, was haar storie gou klaar vertel: sy kon net telkens herhaal dat sy 'n geweldige klap agter haar rug gekry het toe sy daar met die wasbalie voor die stoel gestaan het. Verder kon sy niks onthou nie.

Hoe lank dit geduur het voordat die twee susters die voorvalle van die ou man met die slaapmussie, Chrissie se ongelowigheid en haar klap agter haar rug rustig kon bespreek, word nie vertel nie. As daardie samespreking ooit plaasgevind het, was dit ondanks Oupa en Ouma se strenge verbod. En dit was juis daardie verbod wat Chrissie ook later aan die bonatuurlike van haar eie ondervinding laat glo het, te meer omdat presies 'n jaar na die voorval, op dag en datum, daardie hand weer agter haar rug afgeteken gestaan het om dan spoorloos te verdwyn tot volgende jaar.

Die gebeurtenis was aan ons kinders baie goed bekend, maar die besonderhede is my eers op ryper leeftyd deur 'n suster van my moeder meegedeel- en as 'n baie groot geheim ! Solank my moeder geleef het, was "tant Chrissie se spookhand" ook in ons gesin taboe, blykbaar uit respek vir Pa wat nooit geïnteresseerd was in dinge wat nie met Spurgeon en Andrew Murray in direkte verband gestaan het nie. Ek het self op 'n dag die stoute skoene aangetrek en my wyse oom Thys oor die saak uitgevra. Hy was daardie rara avis onder sterflinge: 'n man wat baie spoke gesien het en dus vermoedelik aan hulle geglo het, maar hy was nie vir hulle bang nie. Ook hy was , soos sy suster Sannie, "Ma se kind..." Oom Thys se "verklaring" was prosaïes, amper saai.

"My liewe kind, dit was eenvoudig 'n huidaartjie wat op sus Chrissie se rug gebars het. Die dokter het dit destyds ook gesê, maar dit kan tóg waar wees."
"Maar oom Thys, was die merk nou werklik so duidelik asof dit met 'n griffie op 'n lei afgetrek is ?"
"Ek het die plek nooit gesien nie. Jy weet hoe vanmelewe se mense oor dié dinge geoordeel het."
"Maar was dit nie darem vir oom ook snaaks dat die merk elke jaar terug gekom het en dat dit, toe sy weggelê is, weer in al sy duidelikheid op haar rug afgeteken gestaan het nie ?"
"Ag, weet jy, sus Chrissie is al soveel jare der jare dood..."
"Maar, oom, gestel nou dat die man in die nagmus werklik 'n spook was, wie dink oom kon dit gewees het ?"
"Nee, man, ek is te oud om my te kwel oor argumente wat op 'n veronderstelling berus !"

Maar oom Thys met sy negentig jare en sy wysheid van twee leeftye het verniet die ou man met die nagmussie probeer doodpraat. Ek het geweet wie hy was, en oom Thys het ook geweet !

Ja, daardie leunstoel van oupa Jan Viljee wat nou aan sy agterkleinkind met dieselfde naam behoort; as daardie ou mahoniestoel moes kon praat...

Ek moet darem bepaald eendag vir Jan daardie ou familiesage vertel: 'n mens kan nooit weet nie ! En liewer blo-Jan as do-Jan...

Terug na die Wit Hand