|
|||||||
|
|
|
|||||
|
|
|||||||
|
Die bekendste spookhuis in Transvaal is ongetwyfeld die woning van genl. J. C.
Smuts op
Irene. Die feit dat hierdie beroemde Suid-Afrikaner
ook sy familiespook het, is nie algemeen bekend nie.
Mnr. George H. Wilson,voormalige redakteur van
"The Cape Times," skryf in sy herinneringe:
"Gedurende my besonder gelukkige verblyf op
Irene het ek in aanraking gekom met die gees
wat sedert die dae van die Tweede Vryheidsoorlog
in die ou gebou spook. Genl. Smuts se huis was
oorspronklik ‘n offisiersklub vir die Britse troepe
in Pretoria na die besetting en is deur genl. Smuts
aangekoop wat dit na Irene laat vervoer en weer
laat oprig het op die plek waar voorheen die
woonhuis gestaan het van ‘n aansienlike bemiddelde ou boer. Toe die Britse
magte nader, het
die boer, volgens die verhaal, goud ter waarde
van £30,000 êrens op die plaas begrawe. Op die
tweede dag van my verblyf op Irene het ek in ‘n
baie gemaklike klein kamer langs die eetkamer
geslaap, toe ek skielik omstreeks vyfuur die
oggend wakker word en ‘n vriendelike ou man,
in voorkoms baie soos pres. Kruger, ‘n paar voet
van my langs die bed sien staan. Ek kon hom
duidelik sien en ek meen dat ek wawyd wakker
was. In ieder geval het ek regop gaan sit en
my hand na hom uitgestrek, waarop hy skielik
verdwyn het.
By die ontbyttafel het mev. Smuts my gevra of ek ‘n aangename nagrus gehad het en ek het geantwoord: "Ja, maar ek het omstreeks vyfuur ‘n eienaardige ondervinding gehad," en die storie van die vriendelike ou man begin vertel. Op hierdie stadium het ek gemerk dat Sijlma wat oorkant my gesit het, my deur eienaardige gesigte te trek, die een of ander teken probeer gee. en ek het besef dat ek die een of ander taktloosheid begaan het, maar ek kon nie lank genoeg stilbly om my gedagtes agtermekaar te sit nie. Toe het mev. Smuts gesê: "Ja, ek wil graag alles oor die voorval weet. Kan jy hom beskryf?" Ek het die ou man so goed as moontlik beskryf en sy het aan genl. Smuts gesê: "Sien jy nou, Oubaas, ek het jou nog altyd gesê dat die spook in die huis is, en nou het mnr. Wilson hom ook gesien." Ek het gesê dat ek die ou man inderdaad duidelik gesien het. Mev. Smuts het gesê dat die gees ongetwyfeld weer aan my sal verskyn, en as dit gebeur, moet ek nie handel soos die oggend nie. Ek moet hom nie verdryf nie, maar sag met hom praat en vra: "Waar het jy daardie £30,000 begrawe?" Ongelukkig het die spook nie weer verskyn nie … maar diegene van ons wat niks besonders te doen gehad het nie, het gereeld met pik en graaf op waarskynlike plekke ywerig gaan grawe. Maar ons het nooit die £30,000 gevind nie. Die spook, het mev. Smuts my vertel, loop dikwels in die nag of vroeg in die more in die huis rond."
* * * *
Soos verwag kan word in ‘n land waar in oorlog en in vrede baie tragiese gebeurtenisse plaasgevind het, is daar op die Transvaalse platteland baie plekke waar dit spook. Een van hulle is naby Bronkhorstspruit waar maj. Anstruther by die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog in ‘n hinderlaag gelok is. Hier maak, volgens ‘n storie wat baie boere in die omgewing sal bevestig, die geeste van die ongelukkige Britse " Tommies" wat in 1880 daar doodgeskiet is, nog steeds hulle verskyning in die stille ure van die nag. Nie ver van Ventersdorp en langs die dorpie Morgenson is daar ‘n plaas "Ullmasdale" wat deur die Regering in 1931 tot diamantdelwery geproklameer is. Destyds het aan die lig gekom dat dit daar spook. Die plaas is in die Republikeinse dae deur ‘n boer gekoop wat egter nie self op die plaas gaan woon het nie. ‘n Bywoner het die plaas betrek en die boer het in sy eie huis drie myl daarvandaan gebly. Toe hy een aand gaan slaap, het iemand hard aan die venster geklop. Buite het die bywoner gestaan, lelik deur dorings gekrap en klaarblyklik baie opgewonde. " Wat makeer?" het die boer gevra. "Meneer," het die besoeker geantwoord, "daar is spoke op Ullmasdale. Ek het geslaap toe stemme my gewek het. Daar was perde op die werf en ek het die gerinkel van metaal gehoor. Toe het ek hulle in die maanlig herken. Dit was Britse kavalliere onder bevel van ‘n offisier wat ‘n metaalhelm op sy kop gehad het. Ek het hulle na my toe sien kom en weggehardloop." Die boer het tot dagbreek toe gewag en toe na Ullmasdale gery. Daar was oral perdespore, maar niks anders nie. Sedertdien het die opstal onbewoon gebly. Eienaardige ligte is egter dikwels op die plek deur boere wat in die nabyheid gewoon het, en deur delwers gewaar.
* * * *
Ds. C. W. du Toit, leraar van die gemeente Jeppestown, Johannesburg, het van ‘n eienaardige persoonlike ondervinding vertel. In die jaar 1888 het tussen Potchefstroom en Klerksdorp’n familie Steenkamp gewoon. Hulle huis het langs die pad gestaan en in hulle nabyheid was daar ‘n uitspanning. Daar het nouliks ‘n dag verby gegaan sonder dat iemand hulle besoek het. Die gesin het bestaan uit die vader, die moeder, ‘n dogter en ‘n volwasse seun. Hulle was ordentlike godvresende mense. Die dogter sou in die huwelik tree en alles was in gereedheid vir die troue, maar op die dag van die feestelikheid het die bruid se vader in sy winkeltjie dood inmekaar gesak en die plegtigheid is uitgestel. Hy is naby die huis begrawe en ‘n rukkie later is die dogter getroud. Ongeveer ‘n jaar later het die moeder en seun alleen in die huis gesit toe daar aan die deur geklop word. Die seun het die deur onmiddelik oopgemaak, menende dat dit ‘n reisiger is wat van die uitspanning gebruik wil maak. Daar was egter niemand te sien nie. Die jong Steenkamp het weer gaan sit maar spoedig is daar weer aan die deur geklop. Die seun het weer op gestaan en toe hy die deur oopmaak, het die gees van sy vader voor hom gestaan. Dit was buite donker maar hy kon hom duidelik herken. " Jy is van plan om weg te gaan en jou moeder alleen te laat," het die gees gesê. " Jy moet dit nie doen nie, want sy is ‘n hulpelose weduwee." Die seun was verbysterd, want hy het werklik lank reeds daaraan gedink om elders ‘n heenkome te gaan soek maar teenoor niemand ‘n woord daaroor gerep nie. Hy was baie ontsteld maar het belowe om op die plaas te bly en sy moeder nie te verlaat nie. " Gee my jou hand, " het die gees gesê. Die jong Steenkamp het ‘n sakdoek om sy hand gedraai en die dooie en die lewende het mekaar plegtig die hand gegee. Die gees het Psalm 134 gesing toe hy stadig terug na sy graf stap waar hy verdwyn het. Die seun het die sakdoek van sy hand losgewikkel en op die sakdoek kon duidelik die merke van die gees se hand gesien word. Sedert daardie dag het die seun byna nooit weer gepraat nie. " Ek self het die sakdoek gesien en mev. Steenkamp self het my die storie vertel," het ds. Du Toit gesê.
* * * *
Ook die Vrystaat is ryklik bedeeld met spookstories. Die meeste het ‘n plattelandse agtergrond en is van die goëlery-soort. Mnr. L. de Beer het in die distrik Wepener ‘n ondervinding gehad wat te veel vir die senuwees van die meeste mense sou gewees het. Hy het in die negentigerjare [t.w. 1890's] twee weke op ‘n plaas deurgebring. " Een Woensdagaand het ek wakker geword en gemerk dat die muurpapier van my kamer aan die brand is. Die hele muur was met knetterende vlamme bedek. Meteens het die vuur doodgegaan – die kamer was weer pikdonker en daar was geen rook of reuk nie. Op daardie oomblik het die horlosie in die kamer langsaan twaalfuur geslaan. "Wat ‘n eienaardige affêre," het ek gedink. Nadat ek van die skrik herstel het, het ek weer aan die slaap geraak en is nie weer gesteur nie. Die volgende oggend by die ontbyttafel het ek die huisvrou gevra wat verkeerd is met die kamer waarin ek geslaap het. Sy het betekenisvol geglimlag en wou weet waarom ek die vraag stel. Ek het daarop vertel wat gebeur het. Haar seun, ‘n jong man van 23-jarige ouderdom, het droogweg die mening uitgespreek dat ek gedroom het. Ek het egter volgehou dat dit nie die geval was nie. ‘n Week het verby gegaan en daardie Woensdagnag is ek weer deur dieselfde gebeurtenis gewek. Die muurpapier was weer in vlamme – net soos die vorige keer - met die verskil dat daar op die muur tussen die vlamme oral helder sterre van vuur te sien was. Net so skielik as die vorige keer het die vlamme verdwyn en was die kamer weer in duisternis gehul. Weer het die horlosie in die eetkamer twaalfuur geslaan. Ek het ‘n tyd lank oor die gebeurtenis gelê en nadink en besluit om die gasvrou verder oor die verskynsel te ondervra. By die ontbyttafel het ek gevolglik die gebeurde weer te berde gebring. Toevallig was sy alleen, en ek het haarfyn beskryf wat plaasgevind het. " Wel," het sy geantwoord, ons praat nie graag daarvan nie, maar daar is iets nie pluis met die kamer nie. Nie een van die kinders slaap graag daarin nie. Soos ek reeds gesê het, praat ons liewer nie daaroor nie, want eendag wil ons miskien die plaas verkoop en dan kan die spookkamer dinge bemoeilik. Jy het seker gemerk hoe my seun verlede week die gesprek in ‘n ander rigting probeer stuur het deur kortweg te verklaar dat jy moes gedroom het. Wel, een aand het my dogtertjie ( sy is twaalf jaar oud ) in die skemerte op die huisorrel in die eetkamer gespeel toe die stoel skielik deur onsigbare hande onder haar uitgeruk is en sy op die vloer geval het. Sy het huilend en baie opgewonde na my toe gekom en vertel wat gebeur het. Sy het my gewys waar die stoel eers gestaan het en waar dit toe is – ‘n afstand van minstens vier tree. Sedertdien kan ek my dogter nie beweeg om na sononder alleen in die eetkamer in te gaan nie, om nie eers te praat van die huisorrel te bespeel nie. " ‘n Mosoetoe wat op die plaas bly, vertel ons dat hy een Woensdagnag op sy perd huis toe gery het met sy vierjarige kind voor hom op die saal. Toe hulle die opstal nader, is hy skielik met die kind in sy arms oor die perd se kop geslinger en hulle het geweldig hard op die grond neergeslaan. Gelukkig is geeneen van hulle beseer nie. Hy sê dat hy gevoel het asof onsigbare hande hom oplig. Dit is eienaardig dat al hierdie dinge op Woensdagaande gebeur. "Wat betref die kamer waarin jy slaap, is die enigste verklaring waaraan ons kan dink dat, toe hierdie huis gebou is, my seuns nie genoeg klippe gehad het nie. Hulle het met die wa die veld in gery om klippe bymekaar te maak. Hulle het op "'n verlate graf van 'n swarte afgekom en die grafsteen opgelaai. Dit is uiteindelik in die fondament van die kamer ingemessel en vandaar al hierdie moeilikheid." Na die middagete was die boer self aanwesig en is die onderwerp weer ter sprake gebring. Hy het egter die idee dat dit in die huis spook, as belaglik beskryf en my dringend versoek om die storie nie verder te vertel nie. My aangename besoek het geëindig en ek het vertrek. ‘n Paar weke later het ek op ‘n sakereis weer die plaas aangedoen. Ek het met die boer sit en gesels toe hy meteens sê: " Toe jy die vorige keer hier was, het ek beswaar gemaak teen jou verklaring dat dit in die huis spook. Ek moet nou egter erken dat dit werklik die geval is. Een Woensdagaand het my vrou my wakker gemaak en gesê dat ek moet opstaan en na die kamer gaan waar my seuns slaap. Die kamer is langs die eetkamer. My vrou het iemand die koppies op die tafel in die eetkamer hoor hanteer en veronderstel dat een van die seuns sleg voel en moontlik die een of ander middel wil drink. Ek het opgestaan maar albei seuns vas aan die slaap aangetref. Hulle het my die volgende oggend verseker dat geeneen van hulle siek gevoel of om enige ander rede gedurende die nag hulle slaapkamer verlaat het nie. "Die Woensdagnag daarop het my vrou my weer gewek en gesê dat sy die spensdeur hoor oopgaan het en daarna duidelik die geratel van breekgoed in die eetkamer verneem het. Sy was oortuig dat een van die seuns nie lekker voel nie. Ek het egter geweier om op te staan en gesê dat dit net soos die week tevore, sommer haar verbeelding is. "Toevallig het ‘n Indiërsmous dieselfde aand op die plaas aangekom en om slaapplek gevra. Ek het hom verlof gegee om in ‘n buitekamer te slaap, maar aangesien dit ‘n warm, helder maanligaand was, het hy verkies om op die werf in die oop lug te slaap. Van daar kon hy in die eetkamer inkyk aangesien die blinders nie afgetrek was nie. Die volgende oggend het die Indiër my vrou gevra: "Miesies, was die Miesies siek?" My vrou het ontkennend geantwoord. "Want," het die Indiër voortgegaan, omtrent middernag het ek ‘n vrou in wit klere uit daardie kamer sien kom" – hy het na die spens gewys – "en toe het sy na daardie koppies gegaan en hulle ‘n tyd lank hanteer. Toe het sy skielik verdwyn," "My vrou het toe aan hom verduidelik dat dit die spook moes gewees het. "O, " het hy gesê. "As dit die geval is, sal ek in die veld iets gaan haal. Ek sal die goed voor die voordeur en die agterdeur verbrand en die spook sal weggaan." "Die Indiër het dit egter nie gedoen nie," het my gasheer voortgegaan. " Nie dat dit saak maak nie, want ek glo nie eintlik aan spoke nie. Moet egter nie met iemand daaroor praat nie, want eendag wil ek dalk die plaas verkoop."
* * * *
‘n Gesaghebbende op die gebied van Suid-Afrikaanse spoke was die skilderagtige Ier, Alfred Aylward ( hoewel dit nie sy werklike naam was nie. As lid van die Sinn Feiners het hy sy naam om veiligheidsredes verander ). Aylward het saam met die eerste diamantdelwers na die Noorde gekom en 1870 gehelp om die "Swart Vlag-rebellie" te organiseer. Daarna het hy in Transvaal teen Sekoekoeni geveg. Hy het die volgende verhaal vertel: "In 1869 het ‘n gerug deur die distrik Weenen versprei dat die huis van die boer, Van - , op die wal van die Klein-Tugela, die toneel is van nagtelike duiwelstreke van ongevaarlike maar uiters hinderlike aard. Die gesin het gekla dat selfs wanneer alle vensters en deure gesluit is, groot klippe, mieliekoppe en ander groot voorwerpe in die verligte sitkamer heen en weer geslinger word … Die spoke op die plaas het soms hulle vertoning afgewissel deur lemoene of pampoene netjies soos ‘n span osse op die vloer te rangskik met ‘n groot mieliekop as wa en ‘n grashalm as ketting. Dit was blykbaar ‘n wenk aan die gesin om van die plaas weg te trek. Die steurings wat aanvanklik slegs met lang tussenposes plaasgevind het, het later iedere aand die gesin op horings gehad en aan die begin van die winter van 1869 het iedereen in daardie dele van Natal van die spokery by die Van – s gepraat. Die bure het natuurlik met allerhande voorstelle gekom om die spook te verdryf wat , na beweer is, die gees van ‘n vrou was wat drie jaar tevore oorlede is. Verklaar is dat die vrou die moeilikheid veroorsaak om haar op haar man te wreek omdat hy weer getroud is en die stiefmoeder toegelaat het om die eerste vrou se kinders te mishandel. Een aand teen die einde van Mei het ‘n groot geselskap bestaande uit die meer intelligente boere van Weenen en die aangrensende distrik Kliprivier, vergesel van M`Cormack ( ‘n oud-gediende en vriend van die skrywer hiervan ) met perde en gewere vergader om die Bose Gees te verdryf. Die huis was op ‘n gelykte geleë en daar was geen bome binne veertig tree van sy mure nie. Daar was geen kelders nie en die feitlike nuwe grasdak het ver oor die soliede mure uitgesteek sodat daar nêrens ‘n plek was waardeur iets in die huis ingegooi kon word wanneer die vensters en deure gesluit is. Die huis was veertig voet lank en veertien voet breed en was deur twee agt voet hoë tussenmure in drie vertrekke verdeel. Die middelste een was negentien voet en die ander twee onderskeidelik tien en nege voet lank. Die deure tussen die vertrekke was met gordyne toegehang maar die voor- en agterdeur wat uit die middelste vertrek na buite gelei het, was van stewige kosyne en deure voorsien. Daar was vier klein vensters, twee in die middelste vertrek en een elk in die ander twee kamers. Daar was geen ruite nie, maar al vier vensters was, toe ek hulle gesien het, van binne met stewige houthortjies gesluit. Die huis was karig gemeubileer. Die mure was gewit en die balke van die dak oral van onder sigbaar. Die vloer was van grond en met mis besmeer. Wanneer jy eers binne in die huis is en alle vensters en deure gesluit word, sou jy dink dat die gesin absoluut veilig sou wees teen enige molestering van buite en maklik enigiemand in die huis sou kan betrap wat hulle ‘n poets wil bak. Daar was geen kaggel of skoorsteen nie, want die kombuis was in ‘n buitegebou geleë. Toe die geselskap op die plaas aankom, het hulle eers gewapende wagte om die huis opgestel. Die het bestaan uit ervare jagters aan wie selfs die geritsel van ‘n blaar nie sou ontgaan het nie. Sewe manne het toe in die huis in gegaan en self al die vensters en deure van binne gesluit. Daar was twee bediendes in die huis en hulle is gelas om tussen die knieë van twee oplettende kêrels te gaan sit. Die gesin is versoek om onder die tafel in die middel van die groot vertrek in te kruip. Die kerse is aangesteek en in doodse stilte is die spook afgewag. Ek het vergeet om te sê dat dit byna volmaan was. Die lug was onbewolk en die manne buite kon elke krakie of spykergat in die witgekalkte buitemuur van die gebou onderskei. Tien minute na die aankoms van die manne het die poppe begin dans. ‘n Halwe dosyn granate het op die tafel in die middel van die kamer geval. Dit is gevolg deur ‘n hael van klippies wat ek later self besigtig het. Geen klippies van dieselfde soort kom binne tien myl van die plaas voor nie. Een van die wagte het opgestaan om die granate van nader te betrag. Hy het nouliks sy stoel verlaat, of dit is met groot geweld agter hom aangeslinger. Daarna het stukke kalkklip waarvan die kleinste tien pond geweeg het, oral in die kamer begin val. ‘n Yslike kluit het, blykbaar uit ‘n groot hoogte, op die vloer geval en uitmekaar gespat. Tog was daar geen gat in die dak nie. Die eienaardigste aspek van die hele affêre was dat geeneen van die klippe en stukke klei ‘n enkele lid van die groot geselskap in die klein vertrek geraak het nie. Hulle opgewondenheid het toegeneem toe daar hewig aan een van die hortjies geklop word. Die manne buite het egter, soos later vasgestel kon word, niks gehoor of gesien nie. M`Cormack wat ‘n nog lewende getuie van hierdie gebeurtenis is, is op sy eie manier ‘n vroom man en het besluit om die sterkte van sy geloof te toon. Hy het opgestaan, sy hoed afgehaal en die spook in Iers op hoogs plegtige wyse gelas om die huis te verlaat, en terug te keer na waar die slegtes geen kwaad meer kan doen nie, en die goeies hulle rus vind. Of hy, meegevoer deur sy onderwerp, te ver gegaan het, weet ek nie, maar stortvloed van welsprekendheid is skielik beëindig deur ‘n klip wat hom verbysterd in sy stoel laat neersak het. Hierdie gewelddadige teenaanval was te veel vir die besoekers. Reeds hoogs benoud, het hulle hul gevangenes gelos, die deure oopgeruk en na buite gehaas, gevolg deur ‘n reën van klippe, mieliekoppe, aartappels, granate en al die ander wapens waarvan Suid-Afrikaanse spoke hulle bedien. Waar hierdie besonderse spook die wapens weggesteek het, bly egter ‘n raaisel. Die manne wat buite wag gestaan het, was volkome onbewus van wat binne in die huis aangegaan het. Die teken vir die algemene vlug is gegee. Elkeen het op sy perd gespring en so gou as moontlik weggejaag."
* * * *
Naby Tylden, ‘n dorp in die Oostelike Provinsie, waar vroeër die Britse grensgarnisoen gestasioneer was, het aan die einde van die negentiende eeu ‘n gebeurtenis plaasgevind wat nog deur die ou mense onthou word. Die verhaal is op skrif gestel deur die plaaslike magistraat wat ingestaan het vir die juistheid daarvan en die waarheidsliewendheid van die vrou wat dit vertel het. "In die somer van die jaar waarin die voorvalle wat hier beskryf word, plaasgevind het, was my gesondheidstoestand swak en aangesien my man uit die Transkei na die buurt van Tylden verplaas is, het ek en die kinders hom per ossewa daarheen gevolg. Aangesien ons huis nog in aanbou was, was ons in ‘n moeilike posisie. Kapt. B – het op ‘n sekere dag uit Tylden na ons toe oorgery en aan my meegedeel dat daar op ‘n plaas vier myl van die militêre kamp ‘n onbewoonde klein huis is en dat hy ‘n paar manskappe sal aansê om dit vir ons uit te wit en te herstel . Met twee naturelle as drywers het ek met die kinders in ‘n kapkar daarheen verhuis. Die huis het in ‘n digte mimosabos aan die oewer van ‘n spruitjie gestaan. Dit het bestaan uit drie kamers in ‘n ry met tussendeure en elke kamer het ook ‘n deur na buite gehad. My kinders het die kamer aan die regterkant van die huis betrek en ek die kamer links. Die kamer in die middel is as sitkamer gebruik en was voorsien van ‘n baie swaar eettafel. Op die aand van ons aankoms in helder maanlig het die gedrag van die perde in die stal ons getref. Hulle het luid gerunnik, geskop en gespring en die oggend daarop het die staljong aan my meegedeel dat hulle die hele nag deur gery is. Ek het self na die stal gestap en gesien in watter toestand hulle is. Die dag daarop het my blanke kindermeisie uit Queenstown aangekom. Op daardie dag het ons gemerk dat my hond, gewoonlik vol selfvertroue, klaarblyklik vreesbevange is. Hy het gedurig onder die beddens ingekruip of onder ons rokke skuiling gesoek. Dit het die hele dag lank voortgegaan. Die diensmeisie het op ‘n rusbank in die sitkamer geslaap en ek het daardie nag alleen geslaap. Aangesien die maan nog geskyn het en die vensters geen blindings gehad het nie, was die kamer taamlik helder verlig. Meteens het ek gesien hoe ‘n wit figuur die kamer binnekom, na die laaikas gaan en daaroor leun. Ek het gemeen dat dit my twaalfjarige dogter is wat die gewoonte gehad het om in haar slaap te wandel, en het drie maal hardop haar naam uitgeroep om haar wakker te maak. Net toe ek begin praat, het die figuur omgedraai en vinnig na my toe gekom. Haar rug was na die venster gekeer, maar ek kon nogtans haar gesig duidelik sien. Dit was afskuwelik; rooi, woedende oë het in ‘n meelwit, growwe gesig gegloei en ‘n massa rooi hare het dit omraam. Hierdie verskriklike verskynsel het vinnig na my toe beweeg en met haar afskuwelike gesig vlak by myne tot stilstand gekom. Ek het my bewussyn verloor – ek weet nie vir hoe lank nie. Toe ek bykom, het ek alles onthou en haastig ‘n kers opgesteek. Ek was met angs vervul en ‘n lang tyd te bang om die kers weer dood te blaas. Eindelik het ek genoeg moed bymekaar geskraap om dit te doen, maar nouliks was die kamer donker of die afskuwelike verskynsel was weer daar. Toe sy eenmaal deur die kamer beweeg, het ek gemerk dat sy tussen die voet van my bed en ‘n groot leunstoel deur beweeg. Ek het geweet dat die stoel vas teen die bed staan en besef dat ek nie met ‘n wese van vlees en bloed te doen het nie. Op die een of ander manier het die nag verby gegaan en ek was grootliks verlig toe die nuwe dag aanbreek. By die ontbyttafel het ek die kinders en die diensmeisie ontmoet, maar ek was nog so angsbevange dat ek myself nie kon oorhaal om oor die gebeure te praat nie. Ek het die diensmeisie gevra hoe sy geslaap het. "Baie goed dankie," was haar antwoord. "Maar watter eienaardige gewoonte het die bediende om die sitkamer in die nag aan die kant te maak." "Doen sy dit?" het ek gevra. "Ja," het die diensmeisie gesê, "en sy maak ook so ‘n lawaai! Sy het in die wit rok ingekom en die meubels rondgeskuif. Sy het hierdie groot tafel teen die muur geskuif maar dit later weer op sy plek gesit." Na die ontbyt het ek probeer om die swaar tafel te verskuif maar kon dit geen duim oplig of verroer nie. Ons was verplig om ‘n paar weke in daardie vreeslike huis deur te bring en het talle eienaardige gebeurtenisse beleef. Ons besoeker het somtyds gekom en ons besittings met so ‘n lawaai rondgegooi dat ons gemeen het dat alles gebreek sou wees, maar die meubels het nooit ‘n skrapie en die breekgoed nooit ‘n krakie vertoon nie. Met tye het die kinders gillend in die kamer ingehardloop gekom, met angs vervul oor iets wat hulle nie duidelik kon beskryf nie. Op ‘n dag het my ossewa aangekom. Soldate wat toevallig die plaas aangedoen het, het reeds die kombuis in beslag geneem en die drywer van die wa het besluit om op die wa te slaap. Laat in die nag het hy, gillend om toegang, aan die kombuisdeur begin hamer. Hulle het nie dadelik oopgemaak nie, maar toe hulle dit eindelik doen, het hy bewusteloos op die drumpel gelê. Later het hy aan ons vertel wat gebeur het. Hy het op die wakis sit en rook toe die osse wat aan die trektou vasgemaak was, skielik aan die rieme begin pluk, bulk en steun. Toe het hy ‘n klein vlam gewaar wat tussen hulle heen en weer beweeg. Skielik het ‘n figuur wat hy beskryf het as presies dieselfde een wat ek gewaar het (en oor wie ek dusver aan niemand ‘n woord gerep het nie) by hom op die wa verskyn. Sy het ‘n paar keer woes op die wa op en af gehardloop en toe haar gesig vlakvoor syne gehou, net soos sy met my gemaak het. Een aand was ons almal bymekaar in die sitkamer en ons het ons lamgeskrik toe iemand vlakby ons – inderdaad tussen ons - haar ( of sy ) hande hard klap en ‘n reeks lang en afskuwelike gille uitstort. My oudste dogter wat destyds twaalf jaar oud was, onthou die voorval nog goed. Ons het verneem dat ‘n mej. R kort tevore in agterdogwekkende omstandighede gesterf het op die naburige plaas - ‘n entjie van die huisie waar ons gewoon het. Die naturelle van die buurt het ons vertel dat geeneen van hulle dit ooit sou waag om in die donker die huisie te nader nie, want hulle het almal geweet van die vreeslike vrou wat daar rondgeloop het en vervul is met ‘n onbeheerbare woede en dors na wraak. ‘n Paar jaar later het ons na die Transkei teruggekeer. Ons het by die plaas van ‘n Boeregesin, die familie T., stilgehou en om ‘n glas melk te vra. Die gesin het onder ‘n boom voor die huis gesit. Die ou mev. T. was baie gaaf en intelligent, maar haar dogter het ‘n eienaardige, verwese uitdrukking in haar oë gehad en ons die hele tyd aangestaar sonder om ‘n woord te sê. By die uitbreek van die Kafferoorloë is die hele gesin deur swartes onder daardie selfde boom verras en uitgemoor. Aan my is later vertel dat die meisie deur die verskriklike vrou van . . . besoek is en nooit weer haar verstand herwin het nie. Op Komgha, ongeveer tien jaar na my ervaring naby Tylden, het ek na ‘n groot piekniek gegaan wat deur ‘n paar van ons georganiseer is om die eentonigheid op die klein dorp af te wissel. By die ete het ek ‘n kind met ‘n groot kappie alleen sien sit. Ek het na haar toe gestap om haar te vra wat sy wil eet, en vooroor gebuig om onder die kappie in te kyk. Ek het verskrik teruggesteier. Die kind se gesig met sy rooi hare en growwe, plat trekke en meelwit tint, was die gesig van die spook! So diep was die indruk wat hierdie insident op my gemaak het, dat ek nog dae lank ongemaklik en bekommerd gevoel het. Ek het later verneem dat die kind ‘n jonger suster is van die meisie wat jare tevore op die plaas … by Tylden gesterf het."
* * * *
Hier volg ‘n verhaal wat deur mnr. C. H. Basson, ‘n ooggetuie van wat kort na die Jameson-strooptog in die huis van mnr. J. van Jaarsveld van Hartebeestrivier in die distrik Uniondale plaasgevind het, op skrif gestel is. Dit het as volg in die Kaapstadse " Dagblad" verskyn: "Ten gevolge van wat hy gehoor het, het hy na die plaas van sekere mnr. Van Jaarsveld gegaan. Kort na sononder het die spook met sy streke begin en sekere geluide het uit ‘n kis gekom. Die spook het hom blykbaar besonder aangetrokke gevoel deur mnr. Van Jaarsveld en sy niggie, mej. Meyer. Iedere keer wanneer laasgenoemde op die kis gaan sit het, is sy rondgeskuif en ook die kis het rondbeweeg. Die mees verbysterende gebeurtenis het egter gedurende die nag plaasgevind. Mej. Meyer het gaan slaap. Ons het die kers doodgeblaas, maar sy het ons byna oombliklik versoek om dit weer aan te steek. Ons het dit gedoen en toe blyk dit dat die spook binne die paar sekondes wat verstryk het, haar hare stewig aan die bed vasgeknoop het. Ons het haar hare losgemaak, dit in een vlegsel gevleg, dit aan die end stewig geknoop en haar beweeg om weer te gaan lê. Ons het daarop om haar bed gaan staan, elkeen met ‘n dosie vuurhoutjies in sy hand. Die kers is weer doodgeblaas en onmiddellik het sy uitgeroep dat die spook haar hare trek. Ons het almal vuurhoutjies getrek en gevind dat ‘n gedeelte van haar hare uit die vlegsel getrek en andermaal stewig aan die bed vasgeknoop is,. Drie van die aanwesiges was in staat om die spook te sien. Hulle verklaar dat dit soos ‘n glimmende krap gelyk het met twee geweldige knypers. Hulle het dit deur die kamer sien sweef en hier en daar aan die muur en meubels sien raak. By ‘n vorige geleentheid het dit die vorm van ‘n geraamte se hand met twee vingers aangeneem."
* * * *
‘n Spook wat kon lag, is deur ‘n reisiger op ‘n verlate pad in die Vrystaat aangetref. "Vroeg in die jaar 1885," vertel ‘n grysaard, "was Tom Bands, ‘n drie-en-twintig-jarige jongkêrel, te perd op pad van Kimberley na Kingwilliamstown en op ‘n sekere middag het hy by ‘n plattelandse winkel in die Vrystaat afgesaal. Die winkelier het aan hom meegedeel dat die naaste dorp net mooi twintig myl van die winkel geleë is en dat hy dit omstreeks 9nm. sal bereik. Daar is vir twaalf myl net die een pad, het die winkelier gesê. Dan sal hy ‘n spruit bereik. Daarna moet hy die regterkantse pad volg wat, hoewel ‘n bietjie langer as die linkerkantse een, beter is. Bands het die spruit bereik en toe, aangesien hy te perd was, maar die korter linkerkantse pad gekies. Dit het donker geword en ‘n pragtige volmaan het geskyn, en vrolik singende het hy aangery. "Eindelik het hy die kruin van die hoë rand bereik van waar hy onder in die vlakte ‘n aantal ligte kon sien. Hy het slegs ‘n klein entjie die rand afgery toe hy op ‘n verlate huis langs die pad afkom. Aan die ander kant van die pad het hy ‘n baie groot ou man gesien die bult opstap. Hy het ‘n lang wit baard gehad en ‘n swart hondjie het agter hom aan gedraf. Hy het na die ou man gery, hom gegroet en gevra of dit die ligte is van die dorp wat hy hoop om binnekort te bereik. Toe hy geen antwoord ontvang nie, het hy sy vraag herhaal, maar met dieselfde resultaat. Ergerlik het hy die onhoflike ou kêrel iets toegevoeg en weggery. Die ou man het intussen onder ‘n groot doringboom gaan staan en toe die reisiger wegry, het hy die grysaard , Ha! Ha! Ha!" hoor lag en by homself gedink: "Wat ‘n onbeskofte vent en wat ‘n lelike lag." "Kort daarna het hy die dorp bereik en by die enigste hotel tuisgegaan. Aangesien nuus en reisigers in daardie dae skaars was, was hy spoedig die middelpunt van belangstelling van ‘n aantal persone wat die aand in die hotel se kantien deurgebring het. Hulle het hom, soos indertyd gebruiklik was, gevra waar hy vandaan kom waarheen hy gaan, wat die jongste nuus is en of hy ‘n voorspoedige reis gehad het. " Hy het van verskeie insidente op sy lang rit vertel en toe ook gewag gemaak van die onmanierlike ou man by die verlate opstal net buite die dorp. Hy het gemerk dat die dorpenaars mekaar eienaardig aankyk toe hy van die ou man praat, maar, geeneen van hulle het enige opmerking gemaak totdat die hoteleienaar hom gevra het hoe hy van die regte pad afgedwaal en by die ou opstal beland het. Hy het herhaal wat die winkelier aan hom gesê het, en die hoteleienaar wou toe weet of die winkelier hom niks meer oor die linkerkantse pad vertel het nie behalwe dat dit nie so goed as die ander een is nie. " Toe die jong man ontkennend antwoord, het die aanwesiges ‘n tyd lank onder mekaar gefluister en toe het die hoteleienaar gesê: "Man, dit was ‘n spook wat jy gesien het en met wie jy gepraat het." Bands het geantwoord: " Ek glo nie aan spoke nie. Daar is nie so iets nie." Toe verskeie aanwesiges herhaal dat dit ‘n gees was, het hy om verdere besonderhede gevra en aan hom is meegedeel dat die ou man ‘n paar jaar tevore by die verlate opstal, waar hy destyds gewoon het vermoor is en dat sy klein swart hond daarna geweier het om te eet en weggekwyn het. Die moordenaar is nooit gevang nie en weens die verskyning van die spook was die Regering verplig om die pad te verlê hoewel die gees, sover bekend, niemand enige kwaad gedoen het nie. "Die dag daarop het hy sy reis voortgesit en verskeie boere ondervra wat die spookstorie bevestig het. As Bands bewus was van die spookstorie, kon mens gedink het dat sy verbeelding hom ‘n poets gebak het, maar hy het niks daarvan geweet nie totdat hy die verhaal by die hotel gehoor het nie."
* * * *
Dit sal moeilik gaan om ‘n spookagtiger plek in die land te vind as die verre noorde van Suidwes-Afrika. Hier lê die geheimsinnige Otjikoto-meer waar die gees van ‘n Duitse soldaat kort-kort sy verskyning maak. Self in die gunstigste omstandighede gee die gladde waters in hulle volkome verlatenheid en doodse stilte aanleiding tot sombere gedagtes. Mnr. E. G. Meyer wat in die nabyheid van die meer geboer het, het erken dat hy nooit daarvan gehou het om te lank by die meer te bly nie. Dit was in die jaar 1915 toe die Unie-troepe onder genl. Botha toegesak het op die mag van kol. Francke wat na hierdie verlate deel van die Keiser se kolonie teruggeval het. Om te voorkom dat hulle kanonne in die hande van die vyand val, het die Duitsers besluit om hulle in die Otjikoto-meer te gooi. Een na die ander is die kanonne oor die hoë oewer van die kratermeer gestoot en het hulle onder die oppervlakte van die meer verdwyn. Terwyl dit gebeur, het die voet van een van die Duitse soldate wat op die rand van die meer gestaan het, verstrik geraak in ‘n tou wat aan een van die kanonne vasgebind was. Voordat sy makkers hom te hulp kon kom, is hy oor die afgrond in die meer saam gesleur. Sedert daardie tyd is die verskyning van ‘n spookagtige figuur met die slap hoed en militêre baadjie van die ou Duitse "Schutztruppe" uit die buurt van die meer berig. Twee van mnr. Meyer se vriende het besluit om die waarheid van die storie op die proef te stel. Terwyl hulle in die donker deur die digte bosse naby die meer gesluip het, het hulle ‘n eienaardige steungeluid gehoor. Tot hulle verligting kon hulle vasstel dat dit uit ‘n verlate pomphuis naby die water kom en vermoedelik veroorsaak is deur die wind wat deur die skoorstene daarvan gewaai het. Hulle verligting was egter van korte duur. In die donker het hulle begin om klippe na die middel van die krater te gooi. "Skielik," het een van hulle vertel, het ‘n geweldige koue lugstroom op ons neergesak. My vriend het ‘n luide kreet geuiter om my te waarsku, en teen die steilte wat na die meer toe aflei, begin uitklouter. Daar voor ons op ‘n hoë lys het ‘n man gestaan wat ons nog nooit van tevore gesien het nie. Hy het die Duitse slaphoed, Koloniale uniform en hoë stewels aangehad en met sy hand na die water gewys. Ons het nie gewag om verdere ondersoek in te stel nie, maar was vier uur na ons vertrek terug op mnr. Meyer se plaas, vasberade om geen verdere navorsingsekspedisies na Otjikoto te onderneem nie!"
Die skim van ‘n boer is by verskeie geleenthede gewaar by die verlate Madibi-myn naby Mafeking en minstens een twyfelaar erken nou sy bestaan: "Ek was in die sitkamer van die Commercial Hotel, Mafeking, toe Geishford, ‘n plaaslike polisieman, my van die Madibi-spook vertel het. Ek het met die grootste belangstelling na sy storie geluister, want tot op daardie tydstip het ek slegs van spoke gehoor maar nooit een gesien nie. Ek het nie geglo dat daar so iets bestaan nie en gesê: "Jou storie, ou kêrel, is baie interessant, maar ek wed jou ‘n pond dat jy nie die ware Jakob aan my kan wys nie." "Goed," het hy geantwoord. "Ons sal twee perde uit die kamp se stalle gaan haal en nog voor middernag by die Madibi-myn wees. Daardie pond is myne." "Ons het elkeen nog ‘n drankie weggeslaan om ons senuwees te versterk en was binne ‘n kwartier op weg na die verblyfplek van die spook. Ongeveer ‘n halfmyl van die myn het ons afgeklim en ons perde aan ‘n boom vasgemaak. Geishford het gesê dat die perde in aanwesigheid van die bonatuurlike dikwels heeltemal op hol gaan en dat, dit dus gerade sal wees om hulle nie nader aan die myn te neem nie. Ons het te voet verder gegaan en toe ons die masjiengebou van die verlate myn bereik, het ons op ‘n ou balk gaan sit, ons pype aangesteek en gewag. ‘n Lang ruk het dit voorgekom asof die pond veilig in my sak sou bly, en ek het dit in soveel woorde aan hom gesê. Hy het slegs sy hand opgelig asof hy my tot geduld en stilte wil maan, en verder aan sy pyp gesuig. Behalwe die ou geboue, balke en verroeste masjinerie wat oral rondgelê het, kon ek die silhoeëtte van bosse, rotse en een of twee bome hier en daar onderskei. Dit is dieselfde ou storie van spoke wat in die nag rondloop, het ek gedink, en wanneer jy die moeite doen om hulle op te soek, dan maak hulle nie hulle verskyning nie. "Meteens het my blik op ‘n bewegende iets geval. Eintlik die spook! Ja, daar was hy so duidelik asof dit helder oordag was. Sy gelaatstrekke en sy klere was duidelik te onderskei. ‘n Tipiese Suid-Afrikaanse boer met ‘n slap hoed, donker baadjie, kakiebroek en –hemp, swaar skoene en ‘n klein sak oor sy linkerskouer. "Die figuur het na ‘n hoop beweeg wat na toue gelyk het, en nadat hy sy sak neergesit het, aan iets begin trek en agteruit begin beweeg. Hy was nou naby die rand van die mynskag. Skielik het hy gestruikel, sy balans verloor en met ‘n luide vloekwoord in die skag verdwyn. "Geishford," het ek uitgeroep, ons moes hom gewaarsku het om te kyk waar hy loop. Dit is ons fout. Hy is seker al dood!. "Hy het jare gelede al die lewe verloor," het Geishford sag geantwoord. "Jy het jou spook gesien. Hoe lyk dit met daardie pond?"
|