Free Web Site - Free Web Space and Site Hosting - Web Hosting - Internet Store and Ecommerce Solution Provider - High Speed Internet
Search the Web

Mev. Wessels se voorbode

Uit T.V. Bulpin se boek oor spoke kom ook die aangrypende verhaal van 'n mev. Wessels wat 'n gesig gehad het oor die skip waarop haar seuns sou vaar. Interessant om dit te vergelyk met die gebeure rondom dié van die S.S. Waratah wat in 1909 naby die ooskus gesink het.

Die naam Wessels is in Suid-Afrika goed bekend. Een van ons Hoofregters was ‘n Wessels en die naam kom ook onder die Voortrekkers voor. Ek wil hier egter iets vertel oor ‘n ander vertakking van die familie, die Wessels van Wesselton. Enigiemand wat Kimberley ken, sal die Wesselton- myn onthou. Dit was geleë op die ou Petrus Wessels se plaas Benauwdheidsfontein waar in 1890 ‘n diamantpyp ontdek is. Sommige lede van die familie het hulle skielike rykdom gebruik om te reis. Twee van die seuns het in die jare na die ontdekking in Europa, Amerika en elders gaan toer. Nadat hulle ‘n tyd lank in Los Angeles, Kalifornië, deurgebring het, het hulle na Suid-Afrika teruggekeer, vasberade om so gou moontlik weer op reis te gaan. In 1896 het hulle besluit dat die tyd aangebreek het om weer te vertrek. Een van hulle het na die kantore van die Castle-Linie in Kaapstad gegaan. "Ek wil vir Mei aanstaande bespreek," het hy gesê. " Watter bote sal dan vertrek?" " Daar is ‘n besonder gemaklike nuwe boot," het die klerk geantwoord en ‘n brosjure voor die dag gehaal. " Ek kan die skip aanbeveel. Die datum van vertrek is 28 Mei." Mnr. Wessels het na die plan van die boot gekyk en geantwoord: "Goed. Bespreek vir my twee kajuite. Laat ek bietjie sien- maak dit hierdie twee."

Toe die Wessels-broers aan hulle moeder vertel dat hulle op die skip gaan vertrek, was hulle verbaas om op te merk dat sy geensins ingenome lyk nie. Terwyl sy by vorige geleenthede met belangstelling na hulle reisplanne geluister het, het sy nou bekommerd en afgetrokke gelyk. " Wat makeer?" het die een seun gevra. " Ek weet nie, my seun," het sy geantwoord. " Ek weet regtig nie."

Die dae en weke het verby gegaan. Die ou dame het nog steeds bekommerd gelyk- meer as ooit tevore. " Ons kan nie agterkom wat haar so ontstem nie," het haar vriende gesê. "Sy praat gedurig oor daardie skip." Die 28ste Mei het al hoe nader gekom. " Kan julle nie ‘n bietjie vroeër vertrek nie?" het mev. Wessels gepleit," of ‘n bietjie later?" " Nee, Moeder," het die seuns verduidelik. " Daar is honderde persone aan die Rand wat vir die somer na Europa wil gaan. Al die mense wat in die groot boom op die Beurs geld gemaak het, is van plan om nou na die buiteland te reis. Die skepe is vol bespreek en ons sal op die 28ste moet vertrek." Mev. Wessels het niks gesê nie, maar almal het gemerk hoe sy by die dag, indien nie by die uur nie, al hoe meer ontsteld raak. "Moet asseblief nie gaan nie. Julle moet nie gaan nie. Ek weet dat julle nie behoort te gaan nie," het sy ‘n paar dae later gepleit. Die seuns het nou net mooi genoeg gehad van die ou dame en haar bekommerdheid en het dit aan haar gesê.

Dit was 28 Mei 1896. ‘n Vars seewind het in die Alfred-dok in Tafelbaai gewaai. Onder die bagasie wat in die lynboot van die Castle-maatskappy gelaai is, was ook koffers met die naam Wessels op hulle. Die twee mans was reeds aan boord en het na die skare onder op die kaai staan en kyk. Skielik het ‘n hansom op die kaai stilgehou. Die ou mev. Wessels het daaruit geklim. " Julle moet nie met hierdie skip vertrek nie," het sy uitgeroep. " Asseblief nie. Ek het ‘n droom gehad- ek het ‘n visoen gesien. Iets vreesliks gaan gebeure." Alle pogings en argumente van haar seuns om haar gerus te stel, was tevergeefs. Dit het gelyk asof sy ‘n aanval van beroerte sou kry as hulle nie ingee nie. Die twee broers het mekaar ergerlik aangekyk. " Ek veronderstel," het een van hulle gesê, "dat Moeder sal dood wees wanneer die skip vertrek as ons nie na haar luister nie." ‘n Paar minute voor die boot se vertrek is hulle bagasie weer aan wal gebring. " Het jy al ooit van ‘n lawwer affêre gehoor," het een van die seuns gesê. " Ek is die spulletjie so moeg dat ek vanjaar glad nie meer oorsee sal gaan nie."

Drie weke later het die nuus van die " Drummond Castle" -ramp Kaapstad bereik. Van al die passasiers en die hele bemanning is slegs drie persone gered. Dit was die grootste treurspel in die Suid-Afrikaanse skeepvaartgeskiedenis.

* * * *

Sulke waarskuwings van dreigende rampe het al dikwels in Suid-Afrika voorgekom. I,n Oktober 1930 is mnr. J. Leslie, ‘n draaibankwerker in diens by die Robinson Deep-myn in Johannesburg, aangesê om ondergronds te gaan om ‘n masjien te herstel. Hy het Sikspens, sy naturelle-handlanger, geroep en saam met hom en sy voorman na die skaghoof gestap. "Toe die hyser opkom," het mnr. Leslie vertel, "het ek my oom Albert se stem my duidelik hoor waarsku: "Moenie in daardie hyser afgaan nie." Ek het ‘n kille klamheid oor my hele lyf gevoel en aan ‘n uitvlug probeer dink om later af te gaan. " Ek het ‘n skroefhamer vergeet. Ek sal julle netnou volg," het ek eindelik gesê. Sikspens het vinnig in die hyser ingestap en dit het in die skag verdwyn.

‘n Paar minute later het ek teruggekeer en die klok hoor lui. " Wat makeer, Leslie?" het een van die manne by die skaghoof gevra. " Jy lyk siek." ‘Ek voel siek," het ek geantwoord. "’n Oomblik later was die hyser terug en binne in die bak het Sikspens gelê- dood. Iets het op hom geval toe die hyser na benede afgesak het."

* * * *

Dr. J. W. Matthews, Parlementslid vir Kimberley, het ‘n soortgelyke ondervinding gehad. Op die oggend van 1 Desember 1883, het hy op versoek van die Regering en vergesel van dr. L. S. Jameson, wat later aan die hoof van die Jameson-inval gestaan en Eerste Minister van die Kaapkolonie geword het, ‘n plaas buitekant Kimberley gaan inspekteer. Op pad terug het die perde met hulle kar op loop gegaan en in ‘n trop beeste ingejaag. Dr, Jameson het ongedeerd daarvan afgekom maar dr. Matthews is so ernstig beseer dat hy vier of vyf dae lank bewusteloos was. Na sy herstel het hy besluit om Pretoria te besoek. Op die trein is aan hom ‘n bondel briewe oorhandig waaronder daar ook ‘n brief van sy vrou was wat destyds in Duitsland gereis het. Die brief was die dag na die ongeluk geskryf en het die volgende versoek bevat: "Laat my weet of enigiets, hoe onbelangrik ook al, vandag met jou gebeur het. Ek het ‘n eienaardige gevoel dat iets, ek weet nie wat nie, plaasgevind het wat my uiters besorgd maak."

Toe sy vrou later in Kaapstad terugkeer, het hy haar dadelik oor die brief uitgevra, want sy kon onmoontlik van die ongeluk geweet het aangesien daar spesiaal sorg gedra is dat geen kabels oor die ongeval na haar gestuur word nie. Sy het hom vertel dat sy sit en lees het toe skielik ‘n hewige rilling, net soos ‘n elektriese skok, deur haar hele lyf gegaan het. Dit het haar aandag ‘n oomblik van haar boek afgetrek, maar toe sy weer begin lees, het sy ‘n stem duidelik hoor sê: "Bid vir Joe. Bid vir Joe." Dit het op Sondag 2 Desember, die dag na die ongeluk gebeur, toe in Kimberley sowel as in Dutoitspan in baie kerke vir die Parlementslid se herstel gebid is.

* * * *

Mnr. Frank Guthrie, voorheen van Port St. Johns, vertel in sy " Herinneringe" van ‘n merkwaardige waarskuwing. Hy en sy vrou het per motor in ‘n afgeleë deel van Pondoland gereis toe hulle een aand deur ‘n geweldige wolkbreuk oorval is. Hy moes die ouderwetse gasligte aansteek en was besig om sy pad met die motor stadig deur die neerstortende watermassas te voel, toe hulle op ‘n man in ‘n swaar jas afkom wat ‘n span osse lei. Toe die vreemdeling nader kom, het hy tot sy verbasing onder die breë rand van die hoed waarvan die water afgestroom het, die gesig van Sam Weyman, ‘n oud-gediende van Port St. Johns herken. Weyman het na die motor se venster gekom en geskree: " Pasop, daar is ‘n lelike verspoeling tweehonderd tree vorentoe." Guthrie het Weyman bedank en laasgenoemde het in die donker verdwyn.

Toe het Guthrie skielik onthou dat Weyman uiters ernstig siek in die hospitaal op Port St. Johns gelê het en teenoor sy vrou opgemerk dat die ou man blykbaar besonder gou herstel het. Hulle het sy advies gevolg en ‘n verspoeling vermy wat, as hulle nie gewaarsku was nie, byna sekerlik hulle dood sou beteken het. Hulle het veilig op Port St. Johns aangekom en die dag daarop het Guthrie aan die plaaslike Assistent-magistraat vertel hoe hy, danksy sy vriend se waarskuwing, ternouernood aan die dood ontkom het. Dit kon nie Sam Weyman gewees het nie," het die Magistraat geantwoord. " Die arme ou kêrel het die dag na jou vertrek gesterf."

* * * *

In 1930 het die hele distrik Brits begin praat van die merkwaardige profetiese gawes van ‘n dogtertjie, Jacoba Marais. Sy was slegs vyf jaar oud en die kind van arm ouers, maar mense het van alle kante na haar huis gekom om nader besonderhede oor haar voorbodes te verkry.

Haar moeder het in die familiebybel verskeie foliobladsye gebêre waarop sy al Jacobatjie se voorbodes aangeteken het. "Ek het die eerste keer oor die kind bekommerd begin raak toe sy slegs twee maande oud was." het die moeder vertel. " Een middag was sy buitengewoon omgekrap, maar ek kon nie uitvind wat haar ontstel nie. Skielik het sy kalmeer en aan die slaap geraak asof niks gebeur het nie. " Later het ons verneem dat ‘n man daardie einste namiddag verdrink het en dat die tyd van die baba se eienaardige gedrag presies ooreenstem met die van die ongeluk. Ek het agterdogtig begin word, en dit het toe ook werklik geblyk dat iedere keer wanneer die kind haar eienaardig gedra, ons kort daarna van die een of ander sterfgeval of ongeluk hoor. Sy het begin praat toe sy vyftien maande oud was en hoewel haar verstand merkwaardig was, het sy dit moeilik gevind om woorde uit te spreek. Toe sy 21 maande oud was, het sy egter taamlik spraaksaam geword en kon sy taamlik duidelik praat.

Ons het destyds op Wolhuterskop gewoon. Op ‘n sekere dag het sy na my toe gekom en gesê: "Mammie, ‘n dogtertjie het in die kanaal geval en verdrink. Sê vir Pappie hy moet hom regmaak want die dogtertjie se pappie en mammie sal hom roep." "My man wat ‘n ouderling was, is ongeveer ‘n uur later na Kareepoort- ‘n naburige nedersetting- ontbied waar ‘n kind verdrink het. "Toe Jacoba twee jaar oud was, het sy na mev. Sondag se baba gewys en opgemerk: "Sien Mammie daardie klein baba? Hy sal siek word en doodgaan." Drie dae later het die kind siek geword en gesterf. Ek het niks aan die moeder gesê nie, aangesien ek haar nie onnodig wou ontstel nie, maar mev. Globbelaar en ek het Jacoba se voorspelling bespreek.

"Drie maande na hierdie voorval het sy skielik opgehou met speel, na my toe gehardloop en gesê: "Mammie, Ouboet kom huis toe. Die kar het oor sy voet geloop en hy gaan na die hospitaal." Die dag daarop het my seun by die huis aangekom. waarop Jacoba opgemerk het: "Daar is Ouboet. Ek het Mammie mos gesê." Sy voet was erg beseer en hy moes na die hospitaal geneem word. " Een Sondag het sy my aangekyk en begin: "O, Mammie, ‘n oom swem in die groot dam en verdrink." Dieselfde middag het ons berig ontvang dat ‘n man in die Hartebeestpoortdam verdrink het.

Net voordat ons Wolhuterskop verlaat het, het sy gesê dat mev. Van Staden se baba siek is, dat sy toestand baie ernstig sal word maar dat hy nie sal sterf nie. Sy het my ook aangespoor om my gereed te maak aangesien mev. Van Staden my sal laat roep. Die dag daarop het ek ‘n boodskap ontvang dat ek dadelik na mev. Van Staden se huis moet kom. "Jacoba was nou drie jaar oud. Ongeveer twee weke na die vorige insident het sy uitgeroep: " ‘n Dogtertjie val in die water en haar broer trek haar uit! Haar moeder huil vreeslik en die kind gaan dood. " Die dag daarop is aan ons meegedeel dat mev. Hawkins se kind in ‘n bak kookwater geval en dieselfde middag gesterf het. Ons het toe op Bokfontein gewoon wat ‘n aansienlike afstand van Wolhuterskop geleë is waar mev. Hawkins gebly het.

" Kort daarna het sy vertel dat sy ‘n man sien wat seerkry terwyl hy by die vuur staan en dat daar geskiet word. Hy is vol bloed en manne hardloop na hom. Pappie is ook daar. Hulle neem hom in ‘n ambulans na die hospitaal." Later het ons die treurige nuus ontvang dat die arme mnr. Hawkins by sy blaasbalk gestaan het besig om pikke skerp te maak, toe daar ‘n ontploffing in die vuur plaasgevind het. Hy is so ernstig beseer dat ‘n ambulans ontbied moes word.

" Pas onlangs het sy ‘n hele week lank gedurig gesê: "’n Wa loop oor ‘n man en hy sal doodgaan." Die volgende Sondagmiddag het sy uitgeroep : "Nou gaan die wa oor hom. ‘n Fiets val op hom. ‘n Tante huil vreeslik. Hy is nie heeltemal dood nie, maar hy sal in die hospitaal doodgaan." Maandagmiddag, toe my man van die werk terugkeer, het sy na hom toe gegaan en gevra: "Pappie, het Pappie vir Mammie vertel dat die man doodgegaan het?" My man het haar verklarings bevestig en my later vertel dat die man oorlede is. Die oorledene was ‘n familielid en dit verklaar moontlik haar aanhoudende waarskuwings."

"Nie lank daarna nie het ‘n boer genaamd Butler van Bokfontein, sy lewe op Uitvalgrond verloor toe hy met sy motor in ‘n trein vasgery het. " Verskeie persone was by hom in die motor," het mev. Marais vertel, " maar Jacoba het slegs sy naam genoem." Dit het nouliks gebeur of Jacoba het gesê: " ‘n Dowe ou man loop op die treinspoor en die trein loop oor hom." ‘n Paar dae later is haar voorspelling op Beestekraal bewaarheid. Die feit dat ‘n ongeval tweehonderd myl van haar af plaasgevind het, het Jacoba nie verhinder om dit te voorspel nie.

" In Desember verlede jaar, " het mev. Marais vertel," het ek op Klerksdorp gekuier en Jacoba saam met my geneem. Sy was ‘n paar dae lank baie rusteloos. Op ‘n sekere dag het sy na my vader gegaan en gesê: " Oupa, ‘n klein dogtertjie het doodgegaan, in die kanaal geval en weggedryf. Haar pappie soek na haar. Haar ouma huil bitterlik." Kort daarna het ek ‘n brief van my man ontvang waarin hy my meedeel dat die lyk van mev. Oberholzer se dogtertjie in die kanaal ontdek is. Die dokter, het hy geskryf, verklaar dat die kindtjie nie verdrink het nie, maar dood was toe sy in die water geval het." Daar behoort gelet te word op die feit dat die dogtertjie op Uitvalgrond meer as tweehonderd myl van Klerksdorp gesterf het.

" By ‘n ander geleentheid het sy vertel dat sy ‘n vrou met twee babas gesien het en dat die een baba- die kleiner een- gaan sterf. Drie weke later is my dogter se baba begrawe. Ongeveer drie maande voor die huwelik van een van my dogters het Jacoba voor haar gaan staan en verklaar: " Jy wil met oom Gerrie trou, maar hy gaan eers na die hospitaal en sal baie siek wees. Hy sal terugkom en daarna sal jy met hom trou. " Op ‘n Sondag het hulle my toestemming vir die huwelik ontvang en die Donderdag daarna het Gerrie skielik baie siek geword en is met dubbele longontsteking hospitaal toe geneem. Hy was drie weke lank in die bed en later is hulle in die huwelik bevestig. "

* * * *

‘’n Voormalige lid van die Suidwes-Afrikaanse Polisie vertel van ‘n eienaardige geval waar ‘n gesig hom in die grootste nood te hulp gekom het: " In Maart 1921 het ek op agtienjarige leeftyd by die Suid-Afrikaanse Polisie aangesluit. In Januarie van die volgende jaar is ek na Aroab op die suidoostelike grens van Suidwes verplaas. Op my tweede patrollie in die distrik is ek vergesel van konstabel C. J. Fourie wat heelwat langer as ek in die diens was. Ons partolliegebied het in die Kalahari ten noordooste van Aroab gelê en ons moes in die woestyn ondersoek instel na ‘n reeks veediefstalle.

" Op die tweede dag na ons vertrek toe ons net die woestyngebied begin binnegaan en ongeveer drie myl van Willem de Wit se plaas was, is Fourie se perd deur ‘n slang gebyt. Gevolglik moes ek alleen in die woestyn inry. In die onbekende gebied en ongewoond aan die hitte het ek spoedig uitgevind dat ek te veel hooi op my vurk geneem het. Om ‘n lang storie kort te maak, dit het nie baie ure geduur nie voordat my waterfles leeg was en ‘n rukkie later het ek besef dat ek hopeloos verdwaal het.

" Ek het so lank as wat ek kon voortgesukkel, my perd oor die sandduine gehelp en nie geweet waarheen ek gaan nie. " Dit het donker geword en ek het die perd gekniehalter. Ons was albei feitlik pootuit. Die hele nag lank het ek gedroom van koel fonteine en koel water. Die volgende oggend moes ek tot my ontsteltenis ontdek dat Old John, my perd weggeloop het om na water te soek, maar ek was te swak van honger en dors om hom te volg. " Hier moet ek terloops meld dat my vader oorlede is toe ek slegs sewe maande oud was. Ons het mekaar nooit gesien nie en in ieder geval sou ek hom nooit onthou het nie. Ons het nooit ‘n foto van hom besit nie.

" Terwyl ek radeloos op my saal gesit het, het ek skielik op die gedagte gekom om my rewolwer te gebruik om ‘n einde aan alles te maak. Ek het dus so goed as ek kon op ‘n stuk papier ‘n verslag begin neerskryf van wat gebeur het. Terwyl ek skryf, het ek opgekyk en ‘n man voor my sien staan. Hy het aan my skouer geraak en gesê: " Stap aan, seun, " in ‘n noordwestelike rigting gewys en verdwyn. Nadat ek ‘n tyd lank oor die gebeure nagedink het, het ek my rewolwer, waterfles en dokumente opgetel en voortgesukkel, " Mens kan jou my verligting voorstel toe ek na wat soos ure voorgekom het, op die telefoonlyn afkom wat deur daardie deel van die land van Kirries Ost na Aroab loop, en nadat ek dit ‘n tyd lank gevolg het, ‘n Duitser se plaas bereik het. Daar is ek gasvry ontvang en verpleeg.

Ek het aan my moeder geskryf wat gebeur het, en later het ek ‘n foto van my vader ontvang wat uit die boedel van my ouma aan my vader se kant afkomstig was. Die man op die foto was sonder enige twyfel dieselfde persoon wat in die woestyn met my gepraat het nadat ek alle hoop laat vaar het. "

* * * *

Toe wyle mnr. Paul Roos huisvader van een van die koshuise van die Seunshoërskool op Stellenbosch was nadat hy van die Springbok-rugbytoer na Engeland in 1906 teruggekeer het, het hy ‘n jong leerling genaamd Le Grange onder sy toesig gehad. Hy het uit die Vrystaat gekom en was algemeen gewild, maar is ontstel deur voorbodes wanneer ‘n familiebetrekking op sterwe staan, en hoe nader die persoon aan hom gestaan het, hoe groter was sy ontsteltenis.

Een dag het hy met ‘n wilde uitdrukking in sy oë sy baadjie begin uittrek presies asof hy hom gereed maak vir ‘n stoeiery. Dit was blykbaar die geval, behalwe dat sy teenstander vir niemand behalwe Le Grange sigbaar was nie. Die twee- Le Grange en sy onsigbare oppenent- was blykbaar in ‘n hewige worsteling betrokke. Een oomblik was Le Grange onder en dan weer bo. Mnr. Roos, menende dat hy Le Grange ‘n guns sou bewys, het sy kamermaats gelas om hom vas te hou. Hulle kon dit nie regkry nie, want die seun was blykbaar met bonatuurlike kragte vervul. Die sweet het in strome van hom geloop en hy het hygend na asem gesnak. Hy was klaarblyklik uitgeput, maar telkens wanneer sy onsigbare oppenent gereed vir nog ‘n ronde was, het hy sy laaste kragte ingespan en opnuut begin worstel. Dit het alles meer as ‘n uur lank aangehou en toe die seun, volkome gedaan, inmekaar sak, is hy alleen gelaat.

Kort daarna het ‘n telegram aangekom met die tyding dat sy moeder oorlede is.

* * * *

Terug na die Wit Hand