Free Web Site - Free Web Space and Site Hosting - Web Hosting - Internet Store and Ecommerce Solution Provider - High Speed Internet
Search the Web

Spoke van die Witwatersrand

Mev. Welgemoed het uit die genoemde boek ook die volgende gestuur oor dinge wat destyds aan die Rand gebeur het. Die storie van mnr. Bond behoort taamlik bekend te wees aan die leser, maar dit bly aangrypende leesstof...

Ten spyte van wolkekrabbers en hysers het verskeie spoke hulle in Johannesburg tuisgemaak. Die geval van die fotograaf wat spoke teen sy wil afgeneem het, lewer ‘n treffende voorbeeld van hulle aanwesigheid te midde van die stadsgewoel. Daar is reeds dikwels foto's van geeste geneem en baie Suid-Afrikaners sal waarskynlik die geval van die broers Falconer onthou wat in 1932 aan bedrog skuldig bevind is. Hierdie fotograaf is egter byna tot wanhoop gedryf deur die indringerigheid van "besoekers uit die ander wêreld" . Hy was wyle mnr. J. Bond, van Beitstraat, Doornfontein, wat omstreeks 1909 ‘n ateljee geopen en sy bestaan gemaak het met die neem van die gewone huwelikspare, skoolkinders en familiegroepe.

Toe begin die moeilikheid. Keer op keer wanneer hy sy foto's ontwikkel het , het daar agter of langs die persone wat hy afgeneem het, figure verskyn wat sy klante herken het as gestorwe naasbestaandes. Bond was woedend. Mnr. B. Stead, van Johannesburg, wat hom geken het, vertel:

"Ek het van die voorvalle gehoor en saam met twee vriende, mnr. E. Jackson en mnr. A. H. Flemming, besluit om ondersoek in te stel. Op ‘n Saterdagmiddag het ons, vergesel van ons onderskeie vroue, na mnr. Bond se winkel gery. Nadat hy ons vertel het wat gebeur het, het ons aan die hand gedoen dat hy ons afneem en my twee vriende, albei ervare fotograwe, het hulle eie pakke plate te voorskyn gebring. Met mnr. Bond se toestemming het hulle om die beurt self die plate hanteer, dit in die rame geplaas, hulle in die kamera gestoot en hulle self in die donkerkamer ontwikkel. Mnr. Bond is slegs toegelaat om die knop te druk.

" Die eerste plaat het slegs ons drie mans met ons vroue getoon. Die tweede plaat het egter ‘n ongeveer vyftienjarige meisie met ligte hare getoon wat, links van die groep, blykbaar baie naby aan die kamera gestaan het, aangesien sy twee keer so groot as ons gelyk het. Die derde plaat, ook uitsluitend deur my vriende hanteer, het driekwart van die figuur van ‘n glimlaggende donker meisie van ongeveer dieselfde ouderdom bevat. Ons het albei herken as die onderskeie susters na mnr. Jackson en mnr. Flemming wat reeds lank gelede oorlede is.

"Ek het laasgenoemde foto voor my terwyl ek skryf. Die egtheid van die Bond-foto's is deur al my vriende erken wat saam met my die ateljee besoek het, en die geheimsinnige gebeure het die arme Bond so ontstel dat hy, nadat hy daarin geslaag het om die pos van bestuurder van die ou Grand-bioskoop in Markstraat te kry, sy beroep as fotograaf laat vaar en tot by sy dood enige jare gelede in beheer van die bioskoop gebly het. "

* * *

Dit spook, na beweer word, ook in die tonnel wat die Hoofposkantoor in Jeppestraat met die Johannesburgse stasie verbind. Terwyl die tonnel in aanbou was, is ‘n man daar met noodlottige gevolg onder ‘n hoop grond toegeval, en verskeie persone wat in die Poskantoor werksaam is, het my vertel dat sy skim soms snags in die tonnel rondstap. Die opsigters is met ‘n heilige respek vir die betrokke gedeelte van die tonnel vervul.

* * *

Hoewel spoke geen voorliefde vir spoorwegeiendom skyn te toon nie, het die stasie Langlaagte eenmaal ‘n wagkamer gehad waarin dit gespook het. Kort na die Tweede Vryheidsoorlog was die omgewing van Langlaagte skraal bebou en om die stasie te bereik, moes jy ‘n hele ent deur die oop veld stap. Die geboue op die perron was van sink en baie meer beskeie as in hierdie dae van geëlektrifiseerde hooflyne aan die Rand. ‘n Groot gedeelte van die verkeer het uit naturelle bestaan wat in die naburige kampongs gewerk het. Die storie wat ek nou gaan vertel, is afkomstig van mnr. Conrad Wahl wat in ‘n myn in die nabyheid gewerk het.

" Een aand. " het mnr. Wahl vertel, " het een van my vriende in die klein sinkgebou gesit wat as wagkamer gedien het. Hy was te vroeg vir sy trein en het gesit en lees by die lig van die dowwe olielampe en nou en dan opgekyk om te sien of die trein nog nie in sig is nie. Miskien was dit die sterk wind wat gewaai het, of dalk was daar nie genoeg olie in die lampe nie – in iedere geval het my vriend hom meteens in byna algehele duisternis bevind. Terwyl hy daar gesit het, kon hy in die donker duidelik ‘n paar oë sien wat stip na hom kyk, en die dowwe buitelyne van ‘n gesig met ‘n baard onderskei. " Mnr. X het van sy sitplek opgespring en vinnig op die perron langs weggestap. " Wat is verkeerd met julle wagkamer?" het hy die sinjaalman, die eerste persoon wat hy raakgeloop het gevra.

"Wat bedoel jy?" het die kêrel gevra en toe betekenisvol bygevoeg: " Het jy hom ook gesien? " " Mnr. X het bevestigend geknik. " Gaan dit al lank aan? " het hy gevra. " ‘n Paar maande. Maar dit is natuurlik moontlik dat hy al langer hier spook sonder dat ons dit besef het." " Op hierdie stadium het die trein aangekom en die twee manne het van mekaar afskeid geneem." Sy vriend het mnr. Wahl van die gebeurde vertel. Hy het kort tevore ‘n aantal persone ontmoet wat in die bonormale belanggestel het, en toe mnr. Wahl mnr. X se storie aan hulle herhaal, het hulle besluit om hulle volgende " studiebyeenkoms " op die stasie te hou. Mnr. Wahl en sy vriend het persone wat in die nabyheid van die stasie gewoon het, ondervra en ontdek dat die stasie lank reeds bekend is as ‘n plek waar dit spook. Nie alleen naturelle nie, maar ook baie blankes het dit verseg om in die aand die stasie te besoek. Daar was ook stories oor deursigtige gedaantes wat in die aand naby die stasie in die veld gewaar is.

Een persoon het die spook in verband gebring met die vroegste dae van die Rand voor die ontdekking van goud, en sommige het gemeen dat dit die gees van een van die Voortrekkers is. Vol geesdrif en inligting het mnr. Wahl en sy vriende een aand op die perron van die stasie bymekaar gekom. Dit was reeds laat, want aan hulle is meegedeel dat ook hierdie spook ‘n voorliefde vir middernag toon. Aangesien dit nog nie twaalfuur was nie, het hulle die wagkamer en ook die omgewing daarvan sorgvuldig deursoek uit vrees vir gekskeerders. ( Aangesien die ekspedisie geheim gehou is, was dit egter onwaarskynlik. ) Geleidelik het daar ‘n afwagtende stilte in die wagkamer ingetree. Die volgende trein sou eers oor ‘n uur aankom. Die olielampe het dof gebrand en om enige bonatuurlike verskynsel te stimuleer, het die persone mekaar se hande vasgehou. Selfs die mees geharde een onder hulle het so nou en dan ‘n koue rilling gevoel. Een van hulle het na die verligte wysterplaat van die polshorlosie gekyk. " Dit is byna twaalfuur, " het hy gefluister. Nog net een minuut! En toe skiet met ‘n oorverdowende gekletter die blinding voor die venster omhoog ! Dit was iets so heeltemal anders as wat enigeen van hulle verwag het, en het so skielik gebeur dat die hele kommissie van ondersoek die hasepad gekies het. Een van die mans het beweer dat hy ‘n spookagtige gesig deur die venster sien loer het. " En dit." het mnr. Wahl aan my vertel, " was die einde van die storie sover ek dit ken. Niemand het daarna weer probeer om die spook op te spoor nie, hoewel verskeie persone beweer het dat hulle hom gewaar het. Miskien is hy nog steeds daar."

* * *

Nog ‘n plek waar dit spook, is die spoorwegoorgang by Dunswart, naby Benoni. Die oorgang het altyd ‘n slegte reputasie gehad weens die talle ernstige ongelukke wat daar plaasgevind het. Gedurig het mense daar spoke gesien. Een van die jongste gevalle is die van mev. Ethel Mayfield, van Benoni, wat toe sy in Julie 1947 die oorgang nader, die figure van ‘n jong man en ‘n jong vrou in die lig van haar motor gesien het. Hulle was vlak voor die motor en dit was onmoontlik om betyds stil te hou. " Hulle het daar met hulle arms omhoog gestaan asof hulle my wou laat stilhou," vertel mev. Mayfield. " Ek het die remme aangeslaan – en niks gesien nie." Tot haar verbasing was daar geen tekens van ‘n botsing nie, terwyl dit vir die persone heeltemal onmoontlik was om betyds pad te gee. So dikwels is hierdie insident aan die polisie gerapporteer dat kapt. C. F. Pohl, hoof van die polisie op Benoni, ‘n konstabel gelas het om elke aand by die oorgang wag te gaan staan. Geen verdere insidente het voorgekom nie, maar nouliks was die konstabel daar weggeneem of ‘n ander soort voorval is gerapporteer. ‘n Man wat in ‘n fabriek in die nabyheid van die oorgang op nagdiens was, het op sy fiets huis toe gery. " Skielik wou my fiets nie verder loop nie," het hy vertel. " Ek het afgespring en rondgekyk. My hart het byna gaan staan toe ek meteens gewaar dat my fiets wat ek losgelaat het, penregop staan presies asof iemand dit vashou." Na ‘n rukkie het die spook die fiets losgelaat en was die man in staat om verder te ry. Verskeie motoriste het die teorie geopper dat die spoke van Dunswart reisigers teen die gevaarlike oorgang probeer waarsku.

Terug na die Wit Hand