|
|||||||
|
|
|
|||||
|
|
|||||||
Die volgende vertelling kom ook uit T.V. Bulpin se boek. Ek stel sonder meer die skrywer aan die woord.
|
Wat sou u sę as u iemand sonder enige tegniese
hulpmiddels oor een van Suid-Afrika se
besigste strate sien sweef?
Daar is 'n geval aangeteken waar dit gebeur het binne gesig van getuies van die hoogste aansien. My outoriteit vir die storie is 'n predikant, wyle eerw. D.P. Faure, meer as dertig jaar lank leraar van die Unitarierkerk in Kaapstad. Ek was 'n kind toe ek hom gedurende die Eerste Węreldoorlog as 'n hoog bejaarde man in Kaapstad ontmoet het. Soos baie mense het eerw. Faure belang gestel in geeste en aanverwante verskynsels waarvan hy uit verskeie persoonlike ervarings kon vertel. In die sewentigerjare het sekere mnr. Eglington uit Engeland in Kaapstad kom kuier en by 'n gemeenskaplike vriend Marshall tuisgegaan. Ek haal verder eerw. Faure se eie woorde aan: "Mnr. Marshall was 'n klerk in die Ouditeurskantoor en het destyds in die huidige Parlementstraat gewoon op die eerste verdieping van 'n gebou waarvan die onderste vloer die Ouditeurskantoor gehuisves het, of op die eerste verdieping van die huis langsaan. "Hulle het een aand in die voorkamer gesit waarvan die vensters op die straat uitgekyk en oop gestaan het. Die onderwerp van die gesprek was geeste en mnr. Eglington het gesę dat hy voel dat hy, beheer, word. Hy het van sy stoel af opgestaan en is tot byna teenaan die plafon opgelig waarna hy deur die een venster gesweef het en nadat hy 'n halwe sirkel oor die straat uitgevoer het, deur die ander venster weer in die kamer ingesweef het. "Dit het in mnr. Marshall se kamer gebeur; daar was geen masjinerie van enige soort wat hom in staat kon stel om so 'n toer uit te haal nie, as dit inderdaad denkbaar is dat enige masjinerie kan bestaan met die hulp waarvan enigiets van die aard gedoen kan word 'n Lamp het in die kamer gebrand en buite het die maan helder geskyn." Mnr. Faure huiwer om die toer aan geeste toe te skryf. "Hoe merkwaardig die gebeure ook al mag wees, is dit moeilik om in te sien hoe dit die gevolgtrekking regverdig dat liggaamlose geeste, menslike wesens wat ons verlaat het, iets daarmee te doen het." Hy voeg daarby: " Ons kan egter nie van die feit wegkom nie dat dit gebeur het. Dit kan nie weggeredeneer word nie." Natuurlik het mnr. Marshall se storie groot opspraak in Kaapstad verwek en die Maleiers het verklaar dat hy spoke gesien het. Mnr. Eglington was die enigste een wat nie verbaas was nie aangesien dit slegs een van 'n aantal soortgelyke avonture was wat hy beleef het. Hierdie voorval is nie uniek nie. Wat hier volg, is bevestig deur een van die vooraanstaande ge- leerdes van die Victoriaanse Engeland, lord Lindsay, 'n lid van die Royal Society, wat dit met sy eie oë gesien het. Dit het in Engeland gebeur toe die beroemde D. D. Home in die sewentigerjare by hom gekuier het. "Ek het saam met mnr. Home en lord Adare en 'n neef van laasgenoemde in 'n kamer gesit," skryf lord Lindsay. " Gedurende die ( spiritistiese) sitting het mnr. Home in 'n beswyming verval en in hierdie toestand is hy uit die venster en deur die lug in die kamer langs ons s'n ingedra en weer terug deur ons venster. Die afstand tussen die vensters van die twee kamers is ongeveer sewe voet ses duim en daar was nie die minste vastrapplek tussen hulle nie, en daar was ook nie meer as 'n twaalf duim bree vensterbank by elke venster nie. "Ons het gehoor hoe die raam van die venster van die kamer langs ons s'n opgeskuif word en byna onmiddellik daarna het ons Home voor ons venster in die lug sien sweef. Die maan het helder in die die kamer ingeskyn en ek het met my rug na die lig gestaan. Ek het die skadu op die vensterbank gesien en Home se voete ongeveer ses duim bokant die vensterbank. Hy het 'n paar sekondes in hierdie posisie gebly en toe die vensterraam opgeskuif en met sy voete eerste in die kamer ingesweef en gaan sit. "Lord Adare het toe na die kamer langsaan gegaan om na die venster te kyk waaruit hy gedra is. Die raam was slegs ongeveer agtien duim opgeskuif en hy het sy verbasing daaroor uitgespreek dat mnr. Home deur so 'n nou opening gedra kon word. "Home, nog steeds in 'n beswyming, het gesę: ' Ek sal julle wys hoe dit gedoen is," en toe het hy met sy rug na die venster agteroor geleun en is kop eerste en met sy lyf stokstyf deur die smal opening geskiet. Stadig het hy weer deur die venster na die kamer teruggekeer. Die venster is ongeveer sewentig voet van die grond."
* * * * * * * *
In Suid-Afrika is die swaartekragwette, indien nie die van die land nie, eenmaal selfs in 'n openbare hof verbreek. Die toneel was Port Elizabeth op 5 November 1912. Die Assistent-magistraat het pas in die hof gaan sit en die verrigtinge van die dag sou 'n aanvang neem. Mnr. Buckley, Klerk van die Hof, was besig om die lys sake af te lees wat verhoor sou word. By die prokureurstafel langs hom het mnr. D. M. Brown, 'n bekende plaaslike regsagent, gesit. Mnr, Brown was een van die bekendste manne in Port Elizabeth en lid van die Kaapse Parlement. Hy sou in een van die sake verskyn en het twee groot regsboeke na die hofsaal saamgebring waar hulle een op die ander gestapel is. "Hulle onderskeie posisies," verklaar 'n jornalis wat aanwesig was, "het feitlik 'n gelykbenige driehoek gevorm. Die boeke was by die punt en mnr. Brown en mnr. Buckley was by elke hoek van die basis." Of mnr. Brown of mnr. Buckley dit eerste gesien het en of hulle dit gelyktydig gemerk het, is nie bekend nie, maar iets eienaardigs het gebeur. Die twee massiewe regsboeke " het in die lug opgestyg, 'n aansienlike tyd lank daar bly sweef en weer na die tafel toe afgesak." Drie keer het dit gebeur in 'n tydperk van tussen twee en vyf minute met niemand naby genoeg aan die boeke om hulle aan te raak nie. Sy Edelagbare was nie uitermate ontsteld nie en het die saak laat voortgaan. Onmiddelik het die publiek in die hof die gebeure fluisterend maar opgewonde begin bespreek. Wat kon die rede vir die boeke se eienaardige gedrag wees? Die verklaring wat aangebied is, was dat mnr. Brown se hoofklerk 'n paar dae tevore aan voedselvergiftiging gesterf het. Hy het aan die saak wat nou voor die hof was, gewerk en was op die hoogte van al sy besonderhede. Blykbaar wou hy nie te kenne gegee dat sy dienste , indien benodig, nog beskikbaar is.
* * * * * * * * *
Ek laat dit nou aan die geagte leser oor om 'n verklaring vir hierdie voorvalle te vind. Moet net nie sę dat hulle nie plaasgevind het nie!
|