Siener van Rensburg

Van mev. Welgemoed het ek ook die volgende storie ontvang, geneem uit dieselfde boek as die vorige spookstorie. Alhoewel die gesigte van Siener van Rensburg nie juis deurgaan as spookstories nie, het ek dit goedgedink om dit wel hier te plaas, aangesien sy voorspellinge hier met die eeuwending weer sterk in die nuus is.

Slegs eenmaal in die geskiedenis van Suid-Afrika is daar in 'n amptelike Blouboek gewag gemaak van 'n man met profetiese gawes en is sommige van sy visioene deur 'n geregtelike kommissie van ondersoek aanvaar. Die man was Niklaas van Rensburg en die Blouboek is deur die Unieregering op 26 Februarie 1915 uitgegee met die amptelike titel " Verslag oor die Uitbreking van die Rebellie en die Beleid van die Regering in Verband met sy Onderdrukking. "

Sonder om op die ingewikkelde en tragiese verhaal van daardie gewapende opstand in te gaan, wil ons die een en ander vertel oor die buitengewone loopbaan van Van Rensburg. Hy was bekend aan en gerespekteer deur twee Eerste Ministers van die Unie, genl. J. B. M. Hertzog en genl. J. C. Smuts, en het hoog in aansien by die Afrikanervolk gestaan. In die Blouboek, opgestel deur die kommissie onder die voorsitterskap van wyle regter Lange, word verklaar:

"Die siener was Nicolaas van Rensburg, van Lichtenburg, 'n eenvoudige en ongeletterde boer. Hy was 'n profeet nie sonder aansien in sy eie land nie. By baie geleenthede het hy positiewe bewys gelewer dat hy buitengewone profetiese gawes besit, so het mense verklaar en geglo. Dit sou nie van pas wees om hier voorbeelde te verstrek van die baie telepatiese voorspellings ( of gelukkige raaiskote ) wat tot sy krediet geplaas is nie. Dit staan vas dat hy 'n groot invloed op die verbeelding van duisende van sy volksgenote gehad het. Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog het sommige kommandos wanneer Van Rensburg in hulle laer was, alle voorsorgmaatreels laat vaar. As, Oom Niklaas, verklaar dat die Engelse nie in die nabyheid is nie, was dit heeltemal onnodig om wagte op te stel en op die uitkyk te wees. 'n Merkwaardige ( en blykbaar heeltemal egte ) visioen wat met juistheid sekere gebeurtenisse voorspel het wat tot die vredesluiting gelei het, het sy aansien verhoog. Hy het dwarsdeur die land beroemd geword en orals is eienaardige verhale van sy wonderlike gawe vertel."

Om in die geskiedenis nog 'n voorbeeld te vind van die verbasende rol wat Niklaas van Rensburg in die Tweede Vryheidsoorlog gespeel het, moet ons tweehonderd jaar terug gaan na die Frankryk van Lodewyk XIV en na die veldtogte van die Protestantse boere wat as die Camisarde bekend was. Hulle het in opstand gekom teen 'n Regering wat die Katolieke geloof op hulle probeer afdwing het, en het daarin geslaag om baie jare lank alle pogings om hulle te onderdruk, te verydel. Hulle opstand het in Julie 1702 begin en die troepemagte van die Koning is keer op keer dronkgeslaan deur die verbysterende vermoe van die boere om deur heldersiendheid vooruit te weet presies wat die regeringsmagte teen hulle beplan en waar hulle waarskynlik aangeval sou word.

'n Tipiese voorbeeld word deur Claude Arnasson beskryf: " Eenmaal het ons op die punt gestaan om aan die ower van die Gardonrivier in 'n hinderlaag te loop toe een van ons broers geinspireer is en die Gees aan ons vertel het dat ons 'n ander pad moet kies. Die oggend daarop het ons inligting ontvang wat ons laat besef het teen watter groot gevaar die Gees van die Here ons beskerm het." By 'n ander geleentheid toe sekere La Salle voornemens was om die Camisardleier Cavalier te vermoor, het 'n sekere boer, genaamd Durand Fage in 'n trance sy geheime planne aan die kaak gestel. Hy is gearresteer en het skuld beken. In so 'n mate het die Camisarde mettertyd op hulle heldersiendheid staatgemaak dat hulle dit onnodig geag het om enige ander voorsorgmaatreels te tref. Jan Vermet vertel: " Ek was aanwesig op 'n klein byeenkoms in 'n grot naby Bois Chatel waar 'n jong meisie geinspireer geraak het en nadat sy 'n lang tyd gepraat het, as volg geeindig het: " Ek verseker jou, my dogter dat sekere persone jou wil vang. Daarom is dit noodsaaklik dat jy vertrek voordat hulle jou vang." Kort daarna het soldate werklik by haar huis opgedaag." Jean Cabinel het onder eed verklaar: " In Junie 1702 het ek Anduze verlaat om na Geneve te gaan. Ek was op drie byeenkomste in my land aanwesig. Op een van hulle het 'n jong man in 'n trance verval en die volgende voorspelling gemaak: " My liewe seun, ek raai jou aan om van hier af weg te gaan. Julle is almal verraai. " Geeneen van ons het hierdie goedbedoelde waarskuwing ter harte geneem nie, maar binne 'n uur is ons deur die gewapende burgers van Anduze aangeval en vyftien van ons is gevange geneem."

Durand Fage het ook die volgende te vertel: "Tussen Neres en Las-Cour-de-Creviez, het broeder Cavalier, ons leier, 'n visioen gehad. Hy het, nadat hy 'n tyd lank baie stil was, skielik opgestaan en die volgende woorde geuiter: " God! My God! Ek het in 'n visioen gesien dat die Maarskalk van Montravel wat hom in Alis bevind, 'n boodskapper uitgestuur het met briewe teen ons wat in Niems afgelewer moet word. Haas julle! Die boodskapper is so en so aangetrek, ry op so 'n perd en is vergesel van so en so. Maak gou! Julle sal hulle aan die oewer van die Gardonrivier aantref!" Drie van ons manne, Ricard, Boure en 'n ander een het onmiddellik op hulle perde gespring. Hulle het na die rivier gejaag en presies op die aangewese plek het hulle die boodskapper en sy geselskap aangetref presies soos Cavaier hulle beskryf het. Die boodskapper is na ons kamp gebring en ons het die Maarskalk se briewe in sy besit gevind. Op hierdie wyse het ons inligting bekom wat vir ons tot die allergrootste voordeel was. Die boodskapper is te voet huis toe gestuur. Ek was by ons magte toe dit gebeur het, en verklaar hiermee dat ek dit gesien het."

Bloedverwante van dieselfde Camisarde het in die dae van die Hugenote na Suid-Afrika gekom en hulle aan die Kaap gevestig. Dit is die skakel tussen die profetiese gawes van daardie Protestantse vegters en soortgelyke insidente in die Tweede Vryheidsoorlog. Niklaas van Rensburg se ouers was arm en het naby Ottosdal in Wes-Transvaal gewoon. Hy is in 1862 gebore en het selfs as kind reeds tekens van sy merkwaardige gawe getoon. Sy heldersiendheid is in die sewentigerjare vir die eerste keer op die proef gestel toe sy vader na die naburige Lichtenburg gery het en die kinders met hulle moeder alleen op die plaas was. Moeilikheid het met die plaasbediendes ontstaan en mev. Van Rensburg het reeds besluit om van die plaas weg te vlug. Die klein Niklaas het egter na haar toe gekom en gevra: " Waarom moet ons gaan?" Sy het aan hom meegedeel dat die naturelle hulle sal vermoor en dat elke oomblik wat hulle versuim, die gevaar vererger. Niklaas het sy kop geskud en gesę: " Nee, Mammie. Dit is nie nodig dat ons vlug nie. Die Here het in 'n droom aan my verskyn en gesę dat Hy ons sal beskerm solank Pa weg is." Die vrou was so diep onder die indruk van die vasberade kalmte van die kind dat sy van plan verander het. Die dreigende naturelle het die werf verlaat en die Van Rensburgs het hulle agtjarige seuntjie in 'n nuwe lig gesien.

Hy het opgegroei soos honderde ander Boereseuns, sy Pa se beeste opgepas en in sy vry tyd die Bybel gelees. Dit is as vanselfsprekend beskou dat hy 'n predikant sou word, maar daar was nooit genoeg geld nie. In 1883 egter, net nadat hy mondig geword het, het Niklaas ouderling op Wolmaransstad geword. Hy het kort daarna 'n meisie ontmoet met wie hy getrou het, en hom op die vaderlike plaas Rietkuil gevestig. Sy enigste groot avontuur voor die Tweede Vryheidsoorlog was sy deelname aan die veldtog teen Mapog. Hy het hom besonder dapper gedra, maar koors opgedoen.

Van Rensburg se reputasie as siener was nog steeds bloot plaaslik en sou moontlik nooit oor die hele land versprei het nie as die oorlog tussen die Republieke en Brittanje nie in 1899 uitgebreek het nie. Anders as baie heldersiende persone, het hy gewoonlik sy boodskappe in die vorm van drome ontvang. Die gesigte was van simboliese aard en selfs hy kon hulle nie altyd juis vertolk nie. Sodra die Tweede Vryheidsoorlog uitgebreek het, het sy boodskappe egter prakties en van groot nut geword. Vergesel van sy broer Hans van Rensburg, het hy in 'n kommando in die omgewing van Taungs in Betsjoeanaland gedien. Groot opgeruimdheid het na 'n suksesvolle skermutseling met die " Tommies " in die Boere se kamp geheers. Vrolike liedjies het onder konsertinabegeleiding weerklink. Die enigste lid van die kommando wat nie opgetoe was nie, was Niklaas van Rensburg. Hy het peinsend eenkant gesit. Mettertyd het die burgers vaak geword en gaan slaap. In die middel van die nag is Hans van Rensbrug skielik wakker geskud. Langs hom het sy broer gestaan met 'n bekommerde uitdrukking op sy gesig. "Ek het 'n vreeslike gesig gesien, " het Niklaas gesę. "Ek het gesien hoe ons huise afgebrand en ons vroue en kinders weggeneem word." Hans het sy skouers opgetrek en weer gaan slaap, maar Niklaas van Rensburg het so bekommerd gebly dat aan hom verlof toegestaan is om tydelik na sy plaas terug te keer. Toe die nuus soos 'n veldbrand oor die land versprei dat plaashuise afgebrand en die vroue en kinders na konsentrasiekampe geneem word, het al hoe meer Boere onthou wat Van Rensburg gesę het, en op verdere visioene gewag. Van Rensburg het van kommando na kommando gegaan. Oral is hy verwelkom en die leiers het met die grootste aandag na sy woorde geluister.

Hier is 'n uittreksel uit die Oorlogsdagboek van genl. Hertzog: " 19 Maart, Doornspruit: Gisteraand hier deurgebring met genl. De la Rey; sy gesin ontmoet. Aangename tyd. Niklaas van Rensburg ontmoet wat 'n suksesvolle slag naby Wolmaransstad voorspel en beskryf het hoe die vyand gaan beweeg. Slag sal in die nabye toekoms plaasvind. "20 Maart, Doornfontein: Vanoggend hier aangekom. Hoofkommandant De Wet is aangeval; berig word dat die vyand uit Klerksdorp trek. Ons sal moet vasstel of dit waar is. Brief aan Klasie geskryf. "21 Maart. Genl. De la Rey het aangekom. Van Rensburg sien wit vlag wat van die kant van die vyand na ons ( bedoelende genl. Botha ) kom. Van Rensburg lę 'n besoek af. "24 Maart, Doornspruit: Berig vroeg vanoggend dat die vyand 'n uur van ons verwyder is . Met groot haas opgesaal. Gaan verken saam met Jack. Sien niks nie. Van Rensburg voorspel slag waarin ons suksesvol is. "25 Maart, Doornbult: Berig ontvang dat staf van genl. De la Rey met sy verkenners deur vyand gevang is. Volgens later verslag slegs verkenners gevang."

Een van die mees dramatiese voorvalle het op die plaas van Willem Basson plaasgevind wat verlof ontvang het om sy kommando 'n paar weke te verlaat ten einde sy landerye te ploeg. Van Rensburg het op sy plaas aangekom, 'n koppie koffie gedrink en was op die punt om weer te vertrek toe Basson hom vra waarom hy nie tot die volgende dag bly nie. Terwyl hy besig was om op te saal, het die Siener skielik stil geword en met 'n glasige uitdrukking in sy oe na 'n rukkie gesę: " Willem, ek sien drie koeie op die pad van Klerksdorp wat voor sononder hier sal wees. Hulle is doodmoeg en uitgeput." Dieselfde aand het drie vroue van Klerksdorp op die plaas gearriveer en aan Basson vertel dat hulle plaashuise afgebrand word en dat hulle ternouernood ontsnap het aan die Britse troepe wat hulle na 'n konsentrasiekamp wou neem.

Selfs pres. Steyn het ag geslaan op die gesigte van Van Rensburg. Genl. De la Rey se kommando was in drie afdelings verdeel met homself by die middelgroep. Ongeveer twee uur te perd agter die gevegslinie was De la Rey se hoofkartier. Toe pres. Steyn met 'n afdeling Vrystaters op 'n inspeksiereis De la Rey se hoofkwartier besoek, het Van Rensburg na hom toe gekom en gesę: " Oom Koos (genl. De la Rey ) het my beveel om u op te pas. " Twee dae later het die Siener in 'n gesig gesien hoe Engelse soldate tussen die bome op 'n rand in die nabyheid die kamp nader. Hy het pres. Steyn daarvan verwittig maar die het hom nie aan die waarskuwing gesteur nie. Van Rensburg het 'n rukkie later weer by die President aangekom met 'n brief van genl. De la Rey waarin hy dringend versoek word om die kamp te ontruim ten einde nie gevang te word nie. Die Generaal het aan die hand gedoen dat die President na die Bosveld trek waarheen mev. De la Rey reeds haar toevlug geneem het. Prof. C. M. van den Heever vertel in sy biografie van genl. Hertzog: " Daardie selfde aand is die Vrystaters nog weg. Die volgende more toe storm daar iemand by genl. Hertzog se tent in en sę dat die Engelse deurgekom het by oom Koos se kommando en sy hele staf gevange geneem het. Die hele voorstelling soos die Siener dit gegee het, was waar. Die Vrystaters het nou getrek tot aan die einde van die Molopo. Hier was 'n mooi vlei en pragtige bome. Onder die rustige skaduwees was weer vrede. En hier het die Siener baie gesigte gehad van gevegte tussen wildebeesbulle en blesbokramme, maar hy kon geen uitleg gee van die beeld wat in groot bontheid voor hom verskyn het nie.

" Voorvalle soos hierdie het 'n diep indruk op genl. De la Rey gemaak. Wat selfs vir die President en genl. Hertzog getref het, was die volgende voorval: By die aankoms op Roodewal het die President in sy veerwaentjie gelę, terwyl genl. Hertzog op die warm middag vir hom uit Quo Vadis ( nogal 'n ironiese titel vir die tyd! ) voorgelees het. Opeens het mnr. Jack Brebner, wat in sy saal lę en rus het, uitgeroep: " President, hoor wat vertel oom Niklaas hier! " Daarop roep die President vir oom Niklaas, wat aan hom vertel dat hy wit vlaggies sien; dan sien hy nog snaakse huise by 'n sloot. "President, het hy gesę en in die rigting van Kroonstad gewys, twee perderuiters, een witte en een swart. " Die volgende dag kom daar werklik twee perderuiters aan – een op 'n wit perd en een op 'n swarte! Hulle het 'n brief van waarnemende president Schalk Burger en die Transvaalse Regering gebring. "

* * * * * * * * *

Tot aan die einde van sy dae het Van Rensburg 'n geweldige invloed op genl. De la Rey uitgeoefen. Een van sy beroemste voorspellings het die Siener naby Ottosdal gemaak. Die Boere was in 'n kamp en het, soos dikwels gebeur het , sake heelwat gemakliker opgeneem as wat die toestand geregverdig het. Verkenners het die hele distrik gefynkam en geen enkele " Tommie " binne baie myle van die kamp aangetref nie. Skielik het Van Rensburg gepraat. " Luister, " het hy aan kommandant Roux gesę, " die Engelse is hier- hulle is byna op ons. Moet in Gods naam nie 'n oomblik versuim nie. Moet nie nog probeer uitvlug nie, maar verdedig hierdie kamp. Laat die burgers agter die rotse stelling inneem." Hoewel die kommandant skepties was, het hy die raad van sy besoeker gevolg. Binne enkele minute het die Britse troepe aangeval. Van Rensburg self het sy vrou en kinders op 'n kar gelaai en daarin geslaag om net betyds te ontsnap. Meer as die helfte van die Boerekommando is gevange geneem.

Van Rensburg het oor die Magaliesberge getrek en by die kommando van kommandant Jordaan aangesluit. Hier het hy dieselfde onverskilligheid en laksheid onder die burgers aangetref. " Kommandant," het hy aan die bevelvoerder gesę, " ek het 'n groot trop bobbejane deur die groot kloof oor daardie nek van die Magaliesberge sien klim. Baie van hulle het kort sterte – hulle is die Engelse. Om elfuur moreoggend moet jy van hierdie kant af baie versigtig na die voet van die berg beweeg. As jy dit doen, sal jy die Engelse se hele kamp met al hulle voorrade en ammunisie verower. " Jordaan het die voorspelling van die waarsęer nie lig opgeneem nie. Inteendeel, hy het die voorgestelde plan uitgevoer en hulle het 'n hele afdeling Britse troepe met voedsel en ander voorrade, presies soos oom Niklaas voorspel het, gevange geneem.

Verder noordwaarts het Van Rensburg by genl. Kemp aangesluit. 'n Botsing was op hande en die Boereoffisiere was besig met planne om die Britse magte die hoof te bied. Sonder uitnodiging het die Siener die krygsraadsitting bygewoon. " Generaal," het hy gesę, " daar is iets verkeerd en ek voel baie bekommerd. Ek sien 'n rooi bul baie ver links en hy val op slinkse wyse terug. Dit beteken dat jou aanvalsplan verkeerd is. Jy moet nie 'n regstreekse aanval loods nie. Die Engelse wil die Boere in 'n val lok en hulle omsingel. " Genl. Kemp het sy aanvalsplan gewysig en die oorwinning van Brakspruit behaal. " Net toe die troepe in beweging kom, " lui dit in The Times History of the Boer War, " het die Boere uit 'n bos 'n duisend tree van die troepe af te voorskyn gekom en gestorm. Damont,s Horse het 'n veilige terugtog bewerk en twee afdelings M. I. het dieselfde gedoen deur mekaar tydelik om die beurt te dek; maar die orige troepe was vasgekeer. Sommige van die manne is neergeskiet, sommige is gevange geneem en sommige het in wanorde deur die klein afdeling Kanadese onder luitenant Carruthers teruggeval. Hier het slegs vyf of ses man ontsnap, terwyl 'n afdeling van ongeveer 21 man onder luitenant Carruthers, sersante Perry en Hodgkins en korporaal Wilkinson vasgestaan het en, dapper vegtend tot die laaste, oorweldig is!" Die Britte het 178 man, tien persent van hulle soldate by Brakspruit, verloor behalwe honderd man wat gevange geneem en weer losgelaat is. Vierhonderd muile en perde is doodgeskiet. Hierteenoor was die Boere se verliese minder as negentig.

Die Boere-neerlaag by Rietkuil het aan Niklaas van Rensburg nuwe roem besorg. Dit het daarmee begin dat hy na sy veldkornet gekom en gesę het: "Die tyd is baie kort. Ek het 'n gesig gesien. Ek het gesien hoe 'n gordyn op ons neersak voordat dit lig geword het. Ons moet vlug – die Engelse kom om ons aan te val." Aanvanklik het niemand hom aan die waarskuwing gesteur nie, maar toe Van Rensburg self begin oppak, het 'n gevoel van rusteloosheid in die kamp ontstaan. Die volgende oggend het Van Rensburg, reeds 'n paar myl van die kamp, met sy verkyker terug na Rietkuil staan en kyk. Sy neef, Hans, was by hom. " Ek sien 'n man te perd," het die seun uitgeroep. Van Rensburg se onmiddellike antwoord was: " Opsaal! " Van 'n uitgeputte ruiter wat hulle later ingehaal het, het hulle verneem wat op Rietkuil gebeur het. "Oom Niklaas," het hy vertel, " die Engelse het die hele kamp gevat." Hulle het onmiddellik hulle reis voortgesit en aangesluit by die oorblywende Boeremagte onder kommandant Van Aardt wat op Yzerspruit in aksie was. Die dag het goed verloop vir die Republikeine en 'n geweldige buit is gemaak, maar Van Aardt was diep neerslagtig omdat hy nie geweet het wat van sy broer geword het nie. Hy was oortuig dat hy, indien nie gesneuwel nie, gevange geneem is. Oom Niklaas het ongeerg aan sy pyp gesuig. " Moet jou nie bekommerd nie, " het hy gesę. " Ek het 'n gesig gesien. Jou broer lewe, maar verduur groot pyn. Hy is gewond, maar hy het nie in die hande van die vyand geval nie. Nou kom hy na jou toe. " Daardie selfde aand het Philip Olivier die Boerekamp by Yzerspruit binne gery. Voor hom op sy saal was 'n swaar gewonde man - die jong Van Aardt.

Die gevangeneming van veldmaarskalk lord Methuen deur genl. De la Rey was in 'n aansienlike mate aan die heldersiendheid van Van Rensburg te danke. Die Generaal was reeds in 'n gevaarlike posisie weens die nuwe Britse taktiek en die Boere was besig met 'n krygsraadsvergadering toe oom Niklaas sy verskyning maak. Aanvanklik het hy niks gesę nie, maar die dag daarop genl, De la Rey in sy tent gaan spreek. " Koos," het hy opgewonde gesę, " ek het 'n wonderlike gesig gesien. Jou naam sal onsterflik wees. Ek het 'n groot rooi bul langs die Hartzrivier sien aankom. Een van sy horings het na benede gehang. Dit was om elfuur Vrydagoggend." Toe De la Rey wou weet wat dit beteken, was Van Rensburg se antwoord: " Die Engelse hoofmag kom om jou te vang, maar jy kan hulle verras. Jy moet jou burgers agter die rante weerskante van hulle opstel. Wag totdat die Engelse tussen hulle in beweeg. Dan beveel jy jou kommando om aan te val. Ek sien dat hulle leier in jou hande sal val." Dit was een van die laaste, maar een van die grootste Boere-oorwinnings - die slag van Tweebos. Lord Methuen, self ernstig gewond, was een van die krygsgevangenes.

* * * * * * * * *

Van Rensburg se latere loopbaan was minder opsienbarend en het meer in verband met die politiek gestaan. Hy het gesigte bly sien. In 1907 het hy in 'n baie ernstige droogte reen voorspel. Hy het die totstandkoming van die Unie in 1910 en die Nywerheidsonluste van die jare 1913 en 1914 vooruitgesien. In die Blouboek oor die Rebellie word verklaar: " Sy aansien het, eienaardig genoeg, sedert die oorlog nie verminder nie. Dit was miskien te wyte aan verskeie oorsake. Hy het nooit probeer om sy "gawe" uit te buit nie en die meeste van diegene wat met hom in aanraking gekom het, het onder die indruk gekom van sy klaarblyklike opregtheid. As hy andere mislei het, wil dit voorkom asof hy ook homself mislei het. Wat meer is, en dit was miskien die geheim van sy voortdurende sukses, sy "gesigte" was sonder uitsondering simbolies en geheimsinnig; hulle is, net soos die orakels van Delphi, gekenmerk deur hulle aanpasbaarheid. Inderdaad moes sy toehoorders sy visioene self vertolk. Die Siener het selde voorgegee dat hy hulle self verstaan of kan verduidelik.

Genl. De la Rey het groot belang gestel in die Siener wat gedurende die Tweede Vryheidsoorlog in sy kommando's gedien het. Van Rensburg, weer, het die grootste bewondering vir genl. De la Rey gehad en het in sy vriendekring dikwels daarop gesinspeel dat groot dinge die Generaal wag. Een van sy gesigte was al enige jare lank goed bekend aan genl. De la Rey en sy vriende. Die Siener het die syfer 15 op 'n donker wolk gesien waaruit bloed gedrup het, en daarna genl. De la Rey wat sonder hoed huis toe kom. Onmiddelik daarna het 'n voertuig bedek met blomme gevolg. Wat hierdie dinge beteken, kon Van Rensburg nie sę nie. Hy het vermoed dat hulle op die een of ander hoe eerbewys aan die Generaal dui." In hierdie geval het Van Rensburg egter misgetas met sy vertolking. Die blomme wat hy gewaar het, was die van die begrafnis van De la Rey wat op 15 September 1914 dood geskiet is.

Toe die Rebellie begin , was hy self regstreeks betrokke en is in hegtenis geneem nadat die gewapende verset misluk het. Sy laaste outentieke voorspelling het die groot griepepidemie in 1918 betref wat nog onthou word as die verskriklikste ramp van sy soort wat ooit Suid-Afrika getref het.

'n Merkwaardige voorval in 1923 is deur mnr. B. Mussman, 'n boer in die distrik Vryburg, aangeteken. Dit toon hoe die Siener se invloed tot aan die einde van sy dae voortgeduur het. "In Desember 1923 het ons Siener, oom Niklaas van Rensburg, aan my geskryf dat ek hom moet kom haal sodat hy Dingaansdag saam met my kan vier, en hom daarna weer terug neem. Hy het gesę dat ons voorbereidings moet tref aangesien daar 'n algemene verkiesing gaan wees. Ek het hom gevra hoe dit gaan gebeur. En hy het gesę dat genl. Smuts die parlement ( wat pas in 1921 verkies was ) sal ontbind. Ek het gesę: " Nee, Oom. Ek kan dit nie glo nie." Hy het gesę dat genl. Smuts 'n vergadering op Ottosdal in die distrik Lichtenburg gehou het. Net toe die kennisgewing van die vergadering die Siener bereik, het hy sy nuwe uitgaanhoed naby genl. Smuts op die vergadering sien lę. Dit was teen sy sin om na die S. A. P. – leier se vergadering te gaan, maar hy het geweet daar was werk vir hom - dit is waarom sy hoed daar was. " Kort daarna het die magistraat van Lichtenburg, mnr. Graham Cross ( nou voorsitter van die Staatsdienskommissie, na hom toe gekom met 'n dringende versoek van genl. Smuts om die vergadering by te woon. Die Siener het geantwoord: "Nee, ek sal nie. Die Generaal wil my in 'n val lok. Omdat ek 'n politieke vergadering bywoon, sal hulle my weer in die tronk stop." Die Magistraat het sy persoonlike versekering gegee dat niks aan oom Niklaas gedoen sal word nie. Hy sou oom Niklaas by sy huis gaan haal en homself weer terugneem. Hy sou selfs aan oom Niklaas verlof gee om enige politieke vergadering by te woon. Die Siener het toe ingestem.

" Na die vergadering het genl. Smuts gesę dat hy hom privaat wil spreek. Genl. Smuts kon nie genoeg uiting aan sy blydskap gee dat oom Niklaas na hom kom luister het nie. Hy wou van die Siener weet wat hy kon doen om die kloof tussen die Afrikaners te oorbrug. Oom Niklaas het geantwoord: " Jy sal my advies nie aanvaar nie. " Genl. Smuts het hom verseker: " Selfs al sou dit my lewe kos, sal ek jou raad volg." Daarop het oom Niklaas gesę: " Ontbind die Parlement en hou 'n verkiesing. As jy 'n meerderheid kry, sal jy weet dat jou volk agter jou staan." " Uit 'n verdere visioen het oom Niklaas afgelei dat genl. Smuts sy advies sal volg. " Ja," het hy gesę, ek het gesien hoe ek 'n doringbos afkap. Ek het 'n grasdakhuis en nuwe velskoene gesien. Ons sal die verkiesing wen, want die grasdakhuis is 'n Nasionale Regering en die nuwe velskoene is 'n Nasionale meerderheid in die Parlement." " Dit was in Desember 1923. Op 8 April 1924 het genl. Smuts die Parlement ontbind en by die algemene verkiesing op 17 Junie 1924 het die Nasionale Party die doringboom afgekap." Niklaas van Rensburg is in 1925 oorlede, maar talle stories oor hom, baie ongestaaf, doen nog op ons platteland die rondte.

Terug na die Wit Hand