Free Web Site - Free Web Space and Site Hosting - Web Hosting - Internet Store and Ecommerce Solution Provider - High Speed Internet
Search the Web

Geestesverskynings van lewendes

Die volgende uittreksel kom uit 'n boek van T.V. Bulpin en ek dink die titel is "Grootste Suid-Afrikaanse spookstories". Die boek is al feitlik Africana en mev. Welgemoed, van wie ek die storie ontvang het, sê dat daar geen melding gemaak word van kopiereg in die boek nie. As dit nie die uitgewers se goedkeuring wegdra nie, sal ek dit onmiddellik verwyder.

Geestesverskynings van lewendes, soos hulle genoem word, is byna nog moeiliker te verklaar as die van gestorwenes. Mnr. K. A. Carlson, voormalige hoof van die Vrystaatse Bosboudepartement en 'n baie bekende figuur in daardie provinsie, beskryf 'n insident waarin hy self die "gees" was. "Op Knysna het ek goed bevriend geraak met Llewellyn Edwards, die bankbestuurder, , en sy gesin. Hy het later baie jare in Johannesburg gewoon waar hy algemeen bekend was,"Vertel mnr. Carlson "Een namiddag toe ek by hulle gaan kuier, het mev. Edwards baie opgewonde verklaar dat sy nooit weer met my sal praat nie as ek haar weer so die skrik op die lyf jaag. Ek het haar verseker dat ek geen benul het waarvan sy praat nie, maar sy het volgehou dat ek dit baie goed weet. Na herhaalde ontkennings van my kant het sy eintlik verduidelik wat gebeur het. Sy was in die voorportaal en het my voetstappe op die paar trappe wat na die voorstoep oplei, gehoor. Sy het gehoor hoe ek na die voordeur stap en klop. Sy het die deur oopgemaak en niemand aangetref nie. Sy het besluit dat ek êrens weggekruip het. Ek het opgedaag terwyl sy nog vas oortuig was dat ek haar die een of ander poets bak.

By 'n ander geleentheid het sy haar suster Annie en Edwards terwyl hulle in die sitkamer gesit het, almal my voetstappe en klop aan die deur gehoor. Die deur na die voorportaal sowel as die deur na die eetkamer waar die bediende besig was om die tafel te dek, was oop en hulle het die meisie beveel om die voordeur te gaan oopmaak. Sy het ontken dat enigiemand geklop het, en hulle het haar versoek om nie onnosel te wees nie aangesien hulle aldrie my voetstappe en geklop herken het. Sy het gehoorsaam en hulle verseker dat daar niemand is nie. Ek het 'n rukkie later opgedaag."

Die gebeurtenis was vir mnr. Carlson niks nuuts nie aangesien hy soortgelyke ondervindings in Swede, sy geboorteland, gehad het. "Ek was nog 'n seun en die gesin het soos gewoonlik in die sitkamer my vader se terugkeer van sy werk afgewag, toe ons almal hom die voorportaal hoor betree, sy wandelstok in die stander hoor steek en hom sy jas en hoed hoor ophang. Ek het die deur oopgemaak om hom te groet, maar hy was nie daar nie en vyf minute of meer het verstryk voordat hy opgedaag het. Hierdie insident het hom so dikwels afgespeel dat ons later geen notisie meer daarvan geneem het nie behalwe as 'n aanduiding dat ons vader spoedig tuis sou wees. Die kamers van ons woonstel in Stockholm het almal op 'n gang uitgeloop wat by 'n trap geeindig het. Daar was destyds geen gas nie en die gang was op winteraande gewoonlik donker. Een aand het ek die gang betree om na my kamer te gaan. Toe ek die deur bereik, het ek die voetstappe van een van my broers herken wat met die trap opkom, die gang bereik en na my toe aankom. Toe ek hom op sy naam noem, het die geluid onmiddellik opgehou. As die jongste lid van die gesin het die oueres my somtyds poetse gebak. Ek het gesê dat hy my nie kan bang maak nie aangesien ek sy voetstappe duidelik herken het. Toe ek kort daarna in die sitkamer terugkeer, het ek gevra waar Frederik is en aan my meegedeel dat hy nog nie huis toe gekom het nie. Nog steeds agterdogtig dat hulle almal met hom saamgespan het om my te terg, het ek oral gesoek, maar hy was nêrens te vinde nie. Toe hy later opdaag, het ook hy my verseker dat niemand my 'n poets probeer bak nie. Hierdie verskynsels het vir alle lede van die gesin so alledaags geword dat ons hulle as vanselfsprekend aanvaar het."

* * * * * * * * * * * *

My vader het 'n eienaardige ervaring in die bekende Standard-deurgang tussen President- en Markstraat in Johannesburg gehad. Hy het een middag omstreeks vyfuur daarlangs gestap toe hy 'n man wat hy goed geken het, David Mackay, 'n boumeester, in teenoorgestelde rigting sien aankom. Saam met hom was mev. Mackay en agter hom het twee kinders gestap, vergesel van 'n man en 'n vrou met 'n uitlandse voorkoms. Hulle het vlakby my vader gestap, en het gelyk of hulle diep in gedagte is. Aangesien dit my vader voorgekom het asof mnr. Mackay ontsteld is, het hy hom nie aangespreek nie. 'n Paar dae later het hy hom weer ontmoet. "O, Rosenthal," het Mackay gesê, "ek het 'n vreeslike tyd deurgemaak. My vrou is pas oorlede en ek het dae aaneen langs haar bed gesit. Ons bure was baie gaaf vir ons en 'n paar Italiaanse vriende het die kinders by hulle aan huis geneem." Toe hulle die tye nagaan, het geblyk dat op die oomblik toe die groep in die Standard- deurgang by my vader verby gestap het, Mackay by sy sterwende vrou was en dat nog die kinders, nog die Italiaanse egpaar stad toe gegaan het. Aangesien my vader en die Mackays nie uitermate intieme vriende was nie, het die verklaring dat daar die een of ander gedagte-oordrag plaasgevind het, onwaarskynlik voorgekom.

* * * * * * * * * * * * *

Mnr. J.G.Millais, seun van die beroemde Victoriaanse skilder sir John Everett Millais en self 'n vermaarde diereskilder, het 'n merkwaardige insident aangeteken wat gedurende sy reise deur Afrika onder sy aandag gekom het. Dit betref 'n groot jagter, mnr. A.H.Neumann, wat op 29 Mei 1907 tydens 'n besoek aan Londen gesterf het. "Omstreeks 1876 het Arthur Neumann en sy broer Charles terwyl hulle in Natal geboer het, intiem verkeer met 'n gesin genaamd Jackson wat 'n klein dogter Noomi gehad het aan wie Arthur besonder geheg was. Sy was sy peetkind en toe sy groter word, het Arthur wat aansienlik bemiddeld was, versoek om haar te mag aanneem, maar dit is geweier. Tussen die kind en die jagter het daar egter sulke hegte liefdesbande bestaan dat hulle nog deur tyd nog deur afwesigheid beinvloed is. Sy het hom "Oom Neumann" genoem en gedurig aan hom geskryf oor haar kinderlike hoop en ambisies. Dit was inderdaad 'n band van simpatie tussen twee wesens waaraan selfs hulle onderskeie ouderdomme geen verskil kon maak nie. Ten tye van Arthur Neumann se dood was Noomi in 'n kloosterskool in Belgie en die hele verhaal van Neumann se verskyning aan Noomi Jackson is vervat in die volgende brief van mev. Jackson aan Charles Neumann:

Kenilworth Court,
Putney, S.W.
4 September 1907.
Geagte mnr. Neumann,

Hartlik dank vir jou vriendelike brief wat ek vanoggend ontvang het en wat vir my 'n groot troos was. Ek sal nou my uiterste doen om N. haar studies te laat voortsit wat sy so graag wil doen. Wat betref die eienaardige insident waarvan ek jou vertel het, sal ek my bes doen om dit neer te skryf en jou alles te vertel wat gebeur het. Eerstens moet ek sê dat dit my ernstige begeerte was dat Noomi nie moet weet hoe haar oom N. (soos sy hom altyd genoem het) aan sy einde gekom het nie, en gevolglik het ek haar niks oor sy afsterwe meegedeel nie tot die Dinsdag na sy dood toe ek in my weeklikse brief daarvan melding gemaak het. My paar woorde was: "Ek het baie treurige nuus vir jou. Die arme oom Neumann het Woensdag skielik gesterf en is Saterdag begrawe." Die brief is nog drie dae vertraag. Toe ek my dogter op 6 Augustus op Charing Cross-stasie ontmoet, was byna haar eerste woorde: "Ma, vertel my asseblief die waarheid oor oom N." Ek het gesê: "Wat bedoel jy, Skat?" Toe antwoord sy: "Jy kan my nie mislei nie, Ma; vertel my net die waarheid. Het hy gesterf omdat 'n vrou hom nie wou liefhê nie?" Ek het gesê: "Waarom vra jy dit?" Sy het geantwoord: "O, Ma vertel my die waarheid. Hy het na my toe gekom en dit self aan my vertel en hy ly so vreeslik." Toe het sy my vertel hoe dit plaasgevind het.

Op die Woensdag na Arthur se dood was sy Mere Paul in die kerk behulpsaam om skoon te maak en af te stof. Sy het bo-op 'n leer gestaan en was druk besig toe sy omkyk en een van haar skoolvriendinne ( wat, soos sy geweet het, destyds nie in die klooster was nie) na haar toe sien kom. Sy sê dat sy verbaas en geskok was om haar vriendin in nonnedrag te sien. Die non het haar versoek om van die leer af te klim en sy vertel dat sy 'n eienaardige snaakse gevoel, gekry het toe sy op die grond staan en haarself nog op die leer gewaar. Die non het haar aan die arm geneem en haar deur 'n sydeur van die kerk, waar sy nog nooit tevore was nie, en deur die nonne se refectorium, waar niemand toegelaat word nie, tot in hulle private kapel gelei. Sy kan alles, met inbegrip van die prente aan die mure, beskryf. Sy is na een van die banke in die kapel geneem en het daar gaan neerkniel. Sy het iemand in haar nabyheid gevoel en toe sy opkyk, sê sy, het oom Neumann langs haar gestaan. Haar eerste gedagte was: "Ma het my nooit vertel dat hy na België kom nie." Maar sy het gevoel dat iets verkeerd is, want daar was 'n uitdrukking van verskriklike lyding op sy gesig. Hy het nader aan haar gekom, sy hand in hare geplaas en gesê: "N." my lewe het nou geeindig. 'n Vrou wou my nie liefhê nie en ek ly verskriklik. Ek het op die aarde nooit geglo wat ek behoort te geglo het nie. Bid asseblief vir my." Aardse gebede, het hy gesê, is vir hom tot groter hulp. Daarna het dieselfde non gekom en haar uit die kapel gelei en sy het haarself half bedwelm op die leer gekry. Sy het daarin geslaag om af te klim. Mere Paul het opgemerk dat sy baie bleek en siek lyk en het haar na haar kamer geneem waar sy 'n paar uur lank gelê het.

Sedertdien het hy iedere oggend vroeg, drie- of vieruur, verskyn maar slegs vir 'n oomblik. Hy het nooit weer gepraat nie, maar iedere keer verander die uitdrukking op sy gesig en lyk hy gelukkiger. Haar woorde aan my was: "O, Ma, ek het so gebid! Ek wil daardie vreeslike uitdrukking van smart op sy gesig toe ek hom die eerste keer gesien het, vergeet. Daardie uitdrukking verdwyn nou." Die dag toe sy die kloosterskool verlaat het, het hy soos gewoonlik verskyn, maar hier het hy nie weer sy verskyning gemaak nie. My word meegedeel dat sy hom waarskynlik weer sal sien wanneer sy na die skool teruggaan ; die atmosferiese toestande hier is daarteen. Die kind skyn dit baie kalm op te neem. Wat haar so vreeslik bekommer het, is dat sy nie die waarheid geweet het nie en dat sy dit nie kon waag om my te vra wat gebeur het nie aangesien al hulle briewe gelees word. Sy moes dus wag totdat sy huis toe gaan. Sy het Mere Paul in vertroue vertel wat gebeur het waar sy dit anders nie sou kon uitgehou het nie. Jy sal begryp hoe besorgd ek was aangesien ek nie geweet het hoe dit haar sal beinvloed nie. Ek het nog nooit in my lewe van so iets eienaardigs gehoor nie. Mens kan die feit nie wegredeneer nie dat alles deur hom aan haar vertel is - alles wat ek vir haar geheim wou hou. Daar is niemand in België wat enigiets van hom of ons weet nie. Iedere oggend tussen drie- of vieruur staan hy langs haar bed en gee haar te kenne dat hy gelukkiger voel ; maar hy praat nooit meer nie. Ek sou daarvan hou dat jy my dogter ontmoet. Sy keer op 2 Oktober na die skool terug. Sy sê dat sy glad nie omgee om hom weer te sien nie - as dit nie so was nie sou ek haar nie laat teruggaan nie - maar haar hart is in haar werk. My gemoed voel verlig noudat ek jou alles vertel het en as ons almal ons gebede voeg by die van die kind, sal hulle help om die treurende te troos.
Met vriendelike groete,
B. Jackson."

* * * * * * * * * * * *

Mnr.G.A.Walter, 'n Kaapstadse handelaar, het 'n goed gestaafde ervaring van 'n geestesverskyning van 'n lewende gehad. Dit het op 12 Februarie 1880 gebeur en hy het dit in die ou "South African Illustrated News" beskryf: "Baie persone sal die jong Skot onthou wat meer as drie jaar lank die pos van onderwyser en orrelis van die Duitse Lutherse Kerk in Langstraat beklee het. Die arme Charley Duncan was'n buitengewoon knap jong man, 'n uitstekende geleerde, 'n merkwaardige taalkundige, 'n skitterende musicus. Die feit dat hy, ‘n Skot, Duits aan Duitse kinders onderrig het, is genoegsame bewys van sy talent. Voeg hierby ‘n aantreklike voorkoms en ‘n lewendige, opgeruimde geaardheid en daar was blykbaar niks om Charley Duncan te verhinder om die hoogste sport van die leer na roem en rykdom te bereik nie. Daar was, helaas, een sonde – een fout wat soos ‘n doodskleed oor die andersins foutlose karakter van Charley gehang het – die vloek van drank. As hy eenmaal alkohol geproe het, was daar niks wat hom kon keer nie totdat die horries sy liggaam gemartel en hom uitgeput en ellendig gelaat het. Charley was een van daardie kêrels wie se ondeug dit was om periodiek aan die fuif te gaan. Wanneer sober en buite beheer van die drankduiwel, was hy ywerig, nougeset en nooit laat by sy werk nie. Maar na die eerste glas – dikwels op hom afgedwing deur onverstandige vriende – het ‘n wilde suipery gevolg wat nie geeindig het nie totdat hy die laagste laagtepunt bereik. Ek self het nog nooit iemand raakgeloop op wie drank so ‘n verskriklike vat gehad het as op die ongelukkige Charley nie.

En so het dit gebeur dat hy, na herhaalde waarskuwings, uiteindelik ontslaan is uit sy pos by die Duitse Kerk. Ek het hom ontmoet kort nadat hy in die Kolonie aangekom het, en sy talryke goeie hoedanighede het my hom baie jammer laat kry. En toe ek hom een aand ‘n paar weke nadat hy sy betrekking kwytgeraak het, in ‘n toestand van uiterste verwaarlosing en gebrek raakloop, was dit slegs natuurlik dat ek hom uit jammerte na my huis geneem het. Ek het lank en ernstig met hom gepraat en met trane in sy oe het hy my belowe om ‘n laaste poging aan te wend om homself te red. Ek het hom by my in diens geneem en hy was so knap en vinnig in sy werk en so absoluut eerlik dat hy spoedig ‘n waardevolle hulp vir my geword het. Ek sowel as die lede van my gesin het baie geheg aan hom geraak en hom met bedagsaamheid en liefde behandel. Hy het langer as ‘n jaar ‘n nugtere en ywerige lewe gelei en dit het werklik gelyk of hy die drankvloek van hom afgeskud het. Hierdie hoop is ongelukkig verydel. Ongeveer drie maande voordat ek verplig was om hom te ontslaan, het hy skielik aan die drink gegaan en weke aaneen nooit nugter geword nie. Toe ek hom weer in ‘n uitgeteerde, jammerlike toestand sien, het ek hom jammer gekry en hom nog ‘n kans gegee. Dit was egter nutteloos. Hy het herhaaldelik weer aan die fuif gegaan en na minder as twee maande was ek verplig om hom in die pad te steek.

Nadat hy finaal my huis en diens verlaat het, het ek ‘n paar weke lank niks van hom gehoor nie – hoewel ’n gerug my bereik het dat hy siek in die Somerset-hospitaal lê. Op ‘n sekere aand, wat ek nooit sal vergeet nie, het ek met my vrou en ‘n sakevriend wat ek N. sal noem, in die sitkamer van my huis in een van die dorpe aan die Wynberg-spoorweg gesit. Dit was ongeveer nege-uur toe daar aan die voordeur geklop word. Ek het die deur gaan oopmaak en was nie weinig verbaas nie toe dit Charley Duncan blyk te wees. Hy staan op die punt om Kaapstad te verlaat en sal ek hom vergewe as hy net totsiens kom sê? Ek het hom na binne genooi en hy het in ons geselskap plaasgeneem. Hy het inderdaad ‘n bejammeringswaardige figuur geslaan. Sy maer gesig, ingesonke oe, ongekamde hare en slordige klere het in skerp teenstelling gestaan met die uitgevatte jong man met wie ek oorspronklik kennis gemaak het. Hy het die oggend die hospitaal verlaat, het hy ons meegedeel, en hy het besluit om na die binneland te vertrek met die hoop om daar ‘n nuwe begin te maak. Hy kan egter nie weggaan nie sonder om my vaarwel te sê. ‘n Tyd lank het Charley swyend in ons midde gesit totdat die onderwerp van voorbodes en geeste ter sprake gekom het. Met tipiese Victoriaanse selfversekerdheid het my vriend sulke dinge as onmoontlik en, uit harmonie met ons gevorderde eeu` beskryf. Duncan het egter onmiddellik geinteresseerd geraak en die gevolg was ‘n eienaardige aanbod: ‘Dit word laat en ek moet julle verlaat, het Charley Duncan gesê, maar voordat ek weggaan wil ek u, mnr.Walter, ‘n voorstel doen wat die onderwerp van ons gesprek aan ‘n toets mag onderwerp. Ek vrees dat ek u miskien nooit weer sal sien nie. My gesondheid is nie van die beste nie en ek het ‘n voorgevoel dat my dae getel is. Ek gee werklik nie om hoe gou die einde kom nie. Laat ons hier ooreenkom dat diegene van ons twee wat eerste sterf, indien moontlik aan die ander drie tekens of waarskuwings sal gee onmiddelik voor of na sy dood." ,Goed,` het ek gesê, hoewel ek hoop dat jy nog baie jare sal lewe en ‘n gesiene en nuttige lid van die samelewing sal word.` Charley het opgestaan en ek het hom na die deur vergesel. "Totsiens," was sy laaste woorde, en mag God jou seen. En onthou ons ooreenkoms en moet nie skrik nie as ek my belofte gouer nakom as wat u mag verwag."

* * * * * * * * * * * *

Ses weke het sedert Carley se afskeidsbesoek verstryk. Ek het niks van hom gehoor nie en besigheidspligte en sorge het my nie veel tyd gelaat om aan hom te dink nie. Ek onthou nog goed die helder mooi aand van 12 Februarie 1880. Die eienaardige gebeurtenis wat ek nou gaan beskryf, het elke besonderheid van daardie aand so helder op my gees afgedruk dat dit my voorkom asof dit pas gister gebeur het. Dit was tienuur toe ek na my slaapkamer voor in die huis gegaan het. Die kamer het ‘n yster-ledekant, drie stoele, ‘n spieeltafel, ‘n wastafel en ‘n klerekas bevat. Daar was geen tapyte of matte op die vloer nie. Daar was twee vensters en een deur. Voordat ek in die bed geklim het, het ek myself oortuig dat die vensters toegegrendel is en die deur toegesluit. Daar was niemand in die kamer behalwe my vrou en ek nie. Ek het ‘n stoel na my kant van die bed getrek en ‘n kandelaar, ‘n dosie vuurhoutjies en my pyp wat ek pas klaar gerook het, daarop neergesit. Ek het spoedig aan die slaap geraak en wil hier byvoeg dat ek baie vas slaap en nie maklik wakker word nie.

Ek het ongeveer ‘n uur geslaap toe ek gewek is deur ‘n geluid asof ‘n stoel stadig oor die vloer getrek word. Ek het my kop op gelig en in die kamer rondgekyk. Ek het na die stoel getas wat ek langs die bed neergesit het, en tot my verbasing gemerk dat dit buite my bereik geskuif was. Ek het nog lê en dink of dit miskien ‘n droom is, toe ek dieselfde skuurgeluid van die stoel hoor, hierdie keer duidelik en onmiskenbaar. Dit het geklink of ‘n persoon met sy gewig daarop dit stadig ‘n paar voet oor die vloer getrek het. "Wat is dit? het my vrou uit geroep. Dit is die tweede keer dat ek dit hoor." Ek het op gestaan en met ‘n ongemaklike gevoel die kers aangesteek. Die stoel het ‘n volle vier voet van die bed af gestaan. ‘n Noukeurige ondersoek van die venster-grendels, die deur, die klerekas en elke hoek van die kamer het niks opgelewer wat die stoel se eienaardige gedrag kon verklaar nie. Ek het weer in die bed geklim en pas die kers doodgeblaas toe die stoel die derde keer van die bed af weggeskuif is met ‘n geluid nog duideliker as tevore. ‘ Ek dink ek kan hierdie eienaardige gebeurtenis verklaar, " het ek aan my vrou gesê toe Charley se besoek aan ons huis my meteens byval. "Onthou jy die ooreenkoms wat Charley ses weke gelede met my aangegaan het ? Ek dink dinge het skeef geloop met die arme Charley."

Dit het ‘n tyd geduur voordat ek kalm genoeg was om aan die slaap te raak. ‘n Geklop aan die deur het my gewek. Ek het opgestaan en deur die venster gevra wie dit is. " Woon mnr. Walter hier ? " het iemand gevra. " Ek is mnr. Walter," het ek geantwoord. " Daar is ‘n man, Charley Duncan, in Langstraat. Hy is baie siek en roep ylende al die hele aand jou naam uit en wil jou sien. Ek soek al ‘n hele paar uur na jou huis. Sal jy na hom toe kom ? " "Ek sal saam met jou gaan , " het ek geantwoord, maar ek vrees dat ons te laat sal wees. Die arme kêrel sal al dood wees. " Ek het my aangetrek en die boodskapper na die adres wat hy verstrek het, vergesel. Toe ons daar aankom, was Charley, soos ek verwag het, oorlede. " HY HET OMSTREEKS ELFUUR GESTERF EN DIE TYD VAN SY DOOD HET OOREENGESTEM MET DIE VERSKUIWINGS VAN DIE STOEL IN MY SLAAPKAMER. "

* * * * * * * * * * * *

Die vrou van ‘n Suid-Afrikaanse eerste minister het ook ‘n eienaardige ervaring gehad. Sy was lady Moor, vrou van sir Frederick Moor wat Eerste Minister van Natal onder die koloniale bewind was. ‘n Afstammeling van ‘n beroemde ou Skotse baanbreker- familie, die Dunbar Moodies, het Carlotte Marie St. Clair Moodie (haar nooiensnaam) reeds in haar jeug kennis gemaak met heldersiendheid en ander gawes onder haar naasbestaandes. Sy het op Umzimtoti opgegroei as een van die elf kinders van die plaaslike leraar, eerw. W. J. Dunbar Moodie. As ‘n jong meisie het sy eers as goewernante na die Vrystaat en daarna na Kimberley gegaan. Op die diamantvelde het sy in 1878 die jong Frederick Moor, toe nog ‘n delwer en kleim-eienaar, ontmoet. Hulle is getroud en het hulle in Pietermaritzburg gevestig waar haar man ‘n prominente burger en politieke leier geword het. Sewe kinders is gebore aan wie sy baie geheg was.

In 1910 het sy ‘n besonder gevoelige verlies gely. Haar dogter Marion, ‘n baie aantreklike jong meisie, het op die stoep sit en lees toe sy skielik gesterf het. Haar moeder het haar daar aangetref presies asof sy aan die slaap geval het. Lady Moor was ontroosbaar en het gedurig vir die een of ander lewensteken van haar dogter gebid. Baie maande het verby gegaan sonder dat iets gebeur het, en sir Frederick het besluit om sy vrou na die buiteland te neem met die hoop dat sy vinniger van die skok sou genees. Hulle was in Skotland op besoek by ‘n geneesheer wat met die gesin bevriend was, toe skielik in aanwesigheid van verskeie persone die stem van Marion duidelik gehoor is. Haar woorde was ‘n blykbaar onsaaklike letterkundige aanhaling. Meteens het die betekenis daarvan tot die moeder deurgedring. Dit was ontleen aan die bladsy van die boek wat in Marion se hand was toe sy gesterf het.

* * * * * * * * * * * * *

Terug na die Wit Hand