Free Web Site - Free Web Space and Site Hosting - Web Hosting - Internet Store and Ecommerce Solution Provider - High Speed Internet
Search the Web

JOHANN BESSLER

Die meeste van u wat hierdie stukkie nou lees het, soos ek self, op skool geleer dat dit nie moontlik is om 'n masjien of apparaat te bou wat meer krag kan lewer as dit wat jy vir daardie masjien gee nie. Daar is nou een maal altyd verliese, 'n dieselenjin lewer byvoorbeeld maar iets soos 40 % van die energie wat wat opgesluit is in die brandstof en 'n petrolenjin selfs minder, nl. ongeveer 25 %. Ons is geleer dat daar iets is soos die wet van behoud van energie wat behels dat jy byvoorbeeld 'n klip van 1 kg oor 'n meter kan laat val om 'n soortgelyke klip van 1 kg weer een meter hoog te kan lig, maar nie 'n sentimeter verder nie. As ons die ou "energievyande" soos wrywing en lugweerstand in ag neem sal daardie tweede klip maar dalk sowat 95 cm kan klim.

Die persoon waaroor die volgende stukkie handel se uitvinding sou na alle waarskynlikheid in die vergetelheid verdwyn het as die nie vir die briljante navorsing oor die afgelope klompie dekades van 'n Engelsman genaamd John Collins was nie. Jy sal wel hier en daar die naam Johann Bessler of sy pseudoniem Orffyreus in ouer ensiklopidieë raakloop maar dan word daar ook meestal geskryf dat sy vertonings net 'n bedrieëry was. John het, met al die getuienis van ooggetuies en hoog aangeskrewe wetenskaplikes soos Leibniz, gevind dat Bessler definitief 'n baie besonderse deurbraak gehad het met wat ons seker die beste in Afrikaans ken as "ewigdurende beweging". U sal binnekort verstaan dat Bessler se uitvinding eerder beter beskryf sou kon word as 'n swaartekragwiel, of swaartekragopwekker.

Johann Ernst Elias Bessler is rondom die jaar 1680 gebore. Sy leermeester, Christian Weise, het by die jong Johann 'n sterk behoefte gekweek om kennis en 'n wye reeks uiteenlopende vaardighede te versamel. Toe hy om en by 20 jaar oud was het hy te hore gekom van 'n prys wat uitgeloof is vir enige persoon wat 'n meganiese toestel kan bou wat vir altyd kan bly draai of beweeg. Bessler het as mediese doktor gepraktiseer vir 'n inkomse en, natuurlik, om sy eksperimente te finansier. 'n Volle dekade of so het verbygegaan en Bessler het aantekeninge gehou van alle soorte wiele en meganismes wat nie werk nie. Hy het die een wiel na die ander gebou, uiteindelik soveel as 300 volgens een bron. Uiteindelik het hy geslaag en 'n wiel van sowat een meter in deursnee gebou wat spontaan kon bly draai nadat hy 'n tou losgemaak het waarmee die wiel soms vasgemaak is.

Sy eerste tentoonstelling was op 6 Junie 1712 in 'n dorpie in die ooste van die huidige Duitsland genaamd Gera. Die wiel was sowat anderhalf meter in deursnee en kon, volgens die inligting waaroor ons nou beskik, 'n skamele ses Watt of so lewer. Van heinde en verre het mense kom kyk na die wiel waar hy dit in sy huis vertoon het, sommige het bo-op die tafel kom staan en kyk en Bessler het sy hande vol gehad om die ietwat ongemanierde en meestal ongeletterde plattelanders in toom te hou. Hy het die geheim goed bewaar deur die wiele met dun plankies te bedek en was van plan om sy uitvinding vir die aansienlike som van 'n honderdduisend daalders ("thalers") te verkoop. Net om u 'n idee te gee, in vandag se terme is dit so tussen R10 miljoen na R20 miljoen. Hy het gehoop om met die geld 'n universiteit of spesiale leerskool te stig.

Ongelukkig het Orffyreus, soos Bessler homself hierna begin noem het, onder skoot begin kom van onder andere 'n sekere Gärtner. Gärtner was 'n modelmaker in Pole en kon nie glo dat die "ongeleerde" Bessler daarin kon slaag om 'n ewigdraaiende wiel te kon maak nie. Hy het gereeld publikasies die wêreld ingestuur waarin hy beweer het dat Bessler metaalvere gebruik wat hy voor die tyd opgewen het. Dit het hom natuurlik baie omgekrap en, terwyl hy nie juis 'n maklike mens was om mee oor die weg te kom nie, het hy 'n hele paar mense van hom vervreem wat hom andersins tot hulp kon gewees het.

Bessler het na 'n rukkie getrek na 'n ander dorp genaamd Draschwitz maar nie voordat hy die eerste wiel gebreek het nie. Dit sou later elke keer gebeur voor hy na 'n ander plek trek, waarskynlik uit frustrasie met die mense rondom hom en moontlik ook omdat hy sy geheim wou beskerm. In Draschwitz bou hy toe 'n wiel van byna 3 meter in deursnee wat aansienlik kragtiger was as die eerste. Die mense wat kom kyk het na die eerste wiel was natuurlik baie beïndruk, maar kon nie veel nut sien in 'n wiel wat homself skaars aan die draai kan hou nie. Met hierdie tweede wiel het Bessler kaste vol bakstene gelig deur 'n oop venster om aan te toon dat daar wel praktiese nut in sy uitvinding was. Met die inligting tot ons beskikking weet ons vandag dat hierdie wiel 'n skaflike 65 Watt of so kon lewer - as dit min klink, neem in ag dat dit alles net van swaartekrag af kom !

In die volgende paar jare het Bessler nog twee, groter wiele gebou. Wat hierdie twee wiele nog meer merkwaardig maak, is die feit dat hulle in beide rigtings kon draai en krag lewer. Dit was natuurlik in antwoord op Gärtner se aantygings dat Bessler die mense bedrieg het. Op hierdie stadium het Bessler 'n pos aanvaar by Karl, 'n landgraaf van Hesse-Kassel. Onder hierdie man se beskerming kon hy werk en sy wiele demonstreer aan belangstellendes. In een geval is sy laaste en grootste wiel getoets deur dit aan die gang te sit en vir een en 'n halwe maand in 'n geslote kamer te laat draai. Daar was 'n groepie wetenskaplikes, wiskundiges en hooggeplaaste persone van onkreukbare karakter teenwoordig en die landgraaf het die deur gesluit, verseël met lak en sy eie seëlring. Met die oopmaak van die deur omtrent 'n maand later het hulle gevind dat die wiel nog teen presies dieselfde spoed gedraai het terwyl dit aanmekaar swaar gewigte optel en laat val.

Bessler kon ongelukkig nooit sy uitvinding verkoop nie. Peter die Grote, tsaar van Rusland het egter baie belang gestel maar het ongelukkig tot sterwe gekom voordat hy Bessler kon besoek. Wie weet, die geskiedenis van tegniese uitvindings kon 'n heel ander wending ingeneem het as die tsaar Bessler se wiel sou moes koop ! Bessler is in 1745 oorlede nadat hy van 'n gebou afgeval het waar hy gewerk het aan 'n nuwe windmeul wat hy ontwerp het. Net soos wat swaartekrag sy wiele aangedryf en krag gegee het, het swaartekrag Johann Bessler se lewe geneem.

Terug na die Wit Hand